Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Pandemie tref arm gesinne hard
Outeur: Marianne Strydom
Gepubliseer: 13/07/2021

Die gebrek aan inkomste, die aanvanklike staking van voedingsprojekte in sommige provinsies, die wanbestuuur van kospakkies, tesame met die ernstige inkrimping van die ekonomie, het daartoe bygedra dat die meeste arm gesinne in Suid-Afrika geen verweer teen die pandemie gehad het nie. Só meen dr Marianne Strydom (Departement Maatskaplike Werk) in ʼn meningsartikel vir Cape Times (13 Julie 2021).

  • Lees die vertaalde weergawe van die artikel hieronder.

​Marianne Strydom*

Ons is almal is deel van 'n gesin en dikwels is ons denkpatrone en oortuigings gebaseer op ons ervarings binne ons gesin van oorsprong. Gesinne regoor die wêreld is op verskillende maniere deur die Covid-19-pandemie geraak en in Suid-Afrika was die impak dikwels gedryf deur die ekonomiese en demografiese samestelling van gesinne.

Maar hoe lyk gesinne in Suid-Afrika? In ons land word daar in beleid erkenning gegee aan ongeveer 11 verskillende gesinsvorme. Hierdie gesinsvorme sluit byvoorbeeld in enkelouergesinne, gesinne waar grootouers die hoof is, waar tieners die hoof is, asook die multi-generasie of uitgebreide gesinne. Alhoewel daar in beleid na “gesinne" verwys word, word die term huishouding dikwels meer gebruik, want dit verwys na 'n ooreenkoms waar mense saam woon en hul bronne deel, wat natuurlik die aard van die gesin breër maak as die tradisionele gesin met twee ouers en hul kinders. Nietemin belemtoon hierdie verskillende gesinsvorme die eiesoortige diversiteit van gesinne in die Suid-Afrikaanse samelewing. Die impak van die Covid-19-pandemie op die onderskeie gesinsvorme het daarom ook verskil.

Gesinne waar vrouens die hoof is, was veral kwesbaar vir die ekonomiese of finansiële impak van Covid-19.  Ongeveer 40% van moeders in Suid-Afrika is enkelouers en 60% van kinders woon in gesinne waar die pa afwesig is. Demografies is die grootste groep van hierdie gesinne uit voorheen benadeelde gemeenskappe waar die kombinasie van lae skoolopleiding, asook 'n gebrek aan werksekuriteit alreeds groot finansiële stres voor die pandemie veroorsaak het, veral in 'n land waar die oorgrote meerderheid vrouens minder as mans verdien.  Data uit die National Income Dynamics Study – Coronavirus Rapid Mobile (NIDS- Cram)-opname (2020) toon dat werkloosheid in Suid-Afrika vanweë die pandemie vrouens ook swaarder getref het as mans, aangesien ongeveer twee miljoen van die drie miljoen mense wat hulle werk in 2020 verloor het, vroulik was.

Hierdie gesinne waar vrouens die hoof is, is nie noodwendig 'n enkelouergesin wat  uit 'n vrou en kinders bestaan nie, maar is dikwels deel van 'n multi-generasie gesin of uitgebreide gesin.  Die multi-generasie gesin is die grootste huishoudingsvorm in Suid-Afrika. Data wat in 2017 deur Statistieke Suid-Afrika bekend gemaak is wys dat ongeveer twee derdes van kinders in Suid-Afrika in hierdie uitgebreide huishoudings woon, terwyl meer as twee derdes van swart bejaardes en net minder as 55% van  bruin bejaardes ook in hierdie huishoudings bly. In uitgebreide huishoudings is al die gesinslede verwant aan mekaar, maar die biologiese ouers van die kinders woon nie noodwendig in die huishouding nie. Grootouers is dikwels die kinders se primêre versorgers.

Vanweë die multi-generatiewe aard van hierdie gesinne kon die meeste van hierdie huishoudings nie die voorsorgmaatreëls om ouer gesinslede teen Covid-19 te beskerm, soos wat die regering voorgestel het, volg nie.  Hiervolgens moes mense wat ouer as 60 is, hul kontak en interaksie op alle vlakke beperk. Aangesien die tweede Covid-19-golf dikwels deur tieners en jong volwassenes gedryf is, was hierdie huishoudings baie kwesbaar. Die voorkoms van multi-generatiewe huishoudings in die Oos-Kaap is byvoorbeeld as een van die risikofaktore vir Covid-19 uitgelig. In hierdie gesinne word daar ook staatgemaak op die inkomste vanuit die bejaarde ouderdomspensioen. Gesien in die lig van die feit dat die grootste aantal sterftes weens die pandemie in die ouderdomsgroepe bo 60 is, beteken dit dat baie van hierdie gesinne nie net 'n gesinslid verloor het nie, maar potensieel ook die enigste inkomste, naas die kindertoelaag in die gesin.

Gesinne het egter ook ondersteuning nodig om die versorgingsrol teenoor kinders na te kom. Alhoewel pogings aangewend is om gesinne gedurende diepandemie te ondersteun, was dit  beperk. Die finansiële impak van die pandemie op gesinsvorme wat alreeds in 'n geldelike verknorsing was, het gesinne se vermoëns om vir hul kinders te sorg, ernstig beïnvloed. Die gebrek aan inkomste, die aanvanklike staking van voedingsprojekte in sommige provinsies, die wanbestuuur van kospakkies, tesame met die ernstige inkrimping van die ekonomie, het daartoe bygedra dat die meeste arm gesinne in Suid-Afrika, geen verweer gehad het teen die pandemie nie.

Met die pandemie wat steeds voortduur, is dit belangrik om ook die kwesbaarheid van gesinne in ons land erken. Beleidmakers moet aan maniere begin dink oor hoe hierdie kwesbaarheid in die toekoms op volhoubare wyse aangespreek behoort te word, veral gewege die demografie en vele uitdagings van ons bevolking.

*Dr Marianne Strydom is ʼn dosent in die Departement Maatskaplike Werk aan die Universiteit Stellenbosch.