Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Prof Susan van Schalkwyk ontvang SAAHE-toekenning vir Vooraanstaande Opvoeder
Outeur: FMHS Marketing & Communications / FGGW Bemarking & Kommunikasie – Tyrone August
Gepubliseer: 13/07/2021

Die ontvanger van vanjaar se Vooraanstaande Opvoeder-toekenning van die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Gesondheidsopvoeders (South African Association of Health Educationalists, oftewel SAAHE) is prof Susan van Schalkwyk, direkteur van die Universiteit Stellenbosch se Sentrum vir Gesondheidsberoepe Onderwys (SGBO) by die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW).

“Ek is baie dankbaar en ootmoedig deur hierdie erkenning," sê Van Schalkwyk, wat al sedert 2011, toe sy by die SGBO aangesluit het, ʼn lid van dié vereniging is. “Om op hierdie wyse erkenning van ʼn mens se portuurgroep te ontvang is altyd iets baie spesiaal."

Sy het beslis haar merk in die gesondheidsberoepe onderwys gemaak en verdien hierdie eerbetoon van SAAHE, ʼn vereniging van gesondheidswetenskappe opvoeder by Suid-Afrikaanse universiteite.

Die idee van transformerende leer is sentraal tot haar benadering tot onderrig. “Dit is gebaseer op die veronderstelling dat ons aangemoedig word om voorafbepaalde idees te konfronteer en ons blindekolle raak te sien, wat na nuwe maniere sal lei om in die wêreld te bestaan," sê Van Schalkwyk.

“Daar is ʼn imperatief dat as jy iemand is wat by onderrig en leer betrokke is, jy bewus is van die verantwoordelikheid wat saam met die rol kom, en dat jy bewus is van jou eie gevestigde idees asook jou eie posisionering in verhoudings.

“As ʼn ouer wit vrou wat ʼn professor is, moet ek bewus wees van dit wat ek na die onderrig- en leerspasie bring, en hoe dit die skakeling wat in hierdie spasie plaasvind kan beïnvloed. Ek wil graag glo dat dit my meer krities maak van my eie praktyke, meer nadenkend en sorgsaam as ek met ander mense omgaan, insluitende my studente wat van alle lewensterreine kom, van baie verskillende beroepe, en baie verskillende agtergronde."

Met ʼn BA (Hons) -graad in Engels, het Van Schalkwyk ʼn besondere belangstelling in akademiese skryfwyse. “Ek glo skryf is ʼn kragtige daad," verduidelik sy. “Dit is baie meer as net ʼn akademiese aktiwiteit; dit posisioneer ons in die akademie, identifiseer ons as 'ingeligtes', maar dit kan ook uitsluit, en party mense soos 'buitestaanders' laat voel. Dus is daar kwessies van regverdigheid en toegang as dit by akademiese skryfwyse kom."

In reaksie daarop bied sy ʼn jaarlikse werkswinkel aan by die FGGW oor akademiese skryfwyse: “My PhD in Hoëronderwys het op akademiese geletterdheid gefokus, en dus is taal en hoe ons taal gebruik, vir my ʼn belangstelling."

Volgens Van Schalkwyk is SAAHE goed geplaas om die uitdagings aan te spreek waarteen die gesondheidsberoepe onderwys tans te staan kom: “Dit is dié forum en organisasie vir ons in Suid-Afrika wat betrokke is by gesondheidsberoepe onderrig."

Sy het in 2008 vir die eerste keer by SAAHE betrokke geraak toe sy gevra is om insette te lewer op die groep se streekskongres daardie jaar. Sedertdien het sy werkswinkels vir die vereniging gefasiliteer en was sy betrokke by verskeie mondelingse aanbiedinge.

Verlede jaar is sy gevra om die beleidsrede by SAAHE se jaarlikse kongres te lewer, maar dit was uitgestel weens die Covid-19-pandemie. Sy het in Junie vanjaar die uitgestelde beleidsrede aangebied tydens die aanlynkongres as die ontvanger van die Vooraanstaande Opvoerder-toekenning.

Dit is Van Schalkwyk se tweede toekenning van SAAHE. In 2016 het sy die vereniging se Beste Publikasie-toekenning saam met ʼn groep kollegas ontvang: “Dit was deel van ʼn longitudinale studie wat oor ʼn tydperk van vyfjaar gestrek het. Daardie toekenning was belangrike bevestiging vir die hele projekspan."

Van Schalkwyk se individuele prestasies in die gesondheidsberoepe onderwys is net so merkwaardig. Sy het haar professionele loopbaan in die kleinhandelsbedryf begin waar sy betrokke was by opleiding en personeelontwikkeling. Sy het in 1997 oorgeskuif na die destydse Kaap Tegnikon om besigheidskommunikasie en kleinhandel besigheidsbestuur aan te bied.

“Ek het baie vinnig besef dat ek eintlik baie min weet oor onderrig en leer," sê sy, en het voortgegaan om ʼn Meestersgraad in Hoëronderwys by die Universiteit Stellenbosch in 2002 te voltooi. In 2005 het sy by die universiteit se Sentrum vir Onderrig en Leer aangesluit en het haar PhD in 2008 voltooi voordat sy as die adjunkdirekteur aangestel is.

Aangesien sy slegs 10 jaar terug by die SGBO aangesluit het, is Van Schalkwyk veral bemoedig deur haar onlangse toekenning van SAAHE: “Dit beteken baie vir my aangesien ek bewus is daarvan dat ek uit ʼn ander opvoedkundige konteks kom.

“Al is ek nie ʼn klinikus nie het ek regtig verwelkom gevoel deur my kollegas by die fakulteit en die gesondheidsberoepe gemeenskap. Waar ek nou in my loopbaan is, is ʼn wonderlike plek om te wees. Om so ʼn toekenning te ontvang soos wat jy die einde van jou loopbaan nader, is baie spesiaal."

Maar dit is nog ʼn tydjie voordat Van Schalkwyk kan toegee aan haar liefde vir gholf of meer tyd op ʼn plaas in die Karoo kan deurbring saam met haar familie. Sy is onlangs gevra om in te tree as die FGGW se waarnemende Vise-dekaan: Leer en Onderrig.

Boonop is sy ook betrokke by die Vereniging vir Mediese Onderrig in Europa (Association of Medical Education in Europe, oftewel AMEE), en maak deel uit van die Fakulteit se Ontwikkelingskomitee. Sy is ook steeds toegewy aan die werk van die Afrika-forum vir Navorsing en Onderrig in Gesondheid (African Forum for Research and Education in Health, oftewel AFREhealth)

Maar sy is nie spyt oor die tyd wat hierdie skakeling van haar vereis nie. “Ek was ongelooflik bevoorreg in my akademiese loopbaan en het saam met merkwaardige mense gewerk," sê Van Schalkwyk. “Dit is steeds ʼn wonderlike voorreg."


Foto-erkenning: Stefan Els