Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Boekvoorstelle gevra om muurkuns te skep wat transformasie visueel aanmoedig
Outeur: Nicolette Dirk
Gepubliseer: 06/07/2021
​’n Beroep word op studente van die Universiteit Stellenbosch (US) gedoen om te help om ruimtes op die Stellenbosch-kampus te transformeer deur hul gunstelingboeke te nomineer vir insluiting in ’n muurskildery op die kampus. 

Die inisiatief maak deel uit van die Visuele Vernuwingsprojek wat daarop fokus om die Universiteit se landskap te verander en die foute van die verlede reg te stel deur kwetsende simbole te verwyder en hulle met nuwe visuele simbole te vervang waarin Afrika sentraal staan in die uitkoms.  

Die jongste projek fokus daarop om ’n muurskildery op die muur van die Wimbledon-kluster te skep wat boeke gerangskik op ’n boekrak, sal uitbeeld. Die muur is 5,33 meter wyd en ongeveer 11 meter hoog. 

Dr Gera de Villiers, postdoktorale genoot vir die Visuele Vernuwingsprojek, sê boeke wat in die muurskildery gebruik word, sal gekies word uit nominasies wat van die studentegemeenskap ontvang word.  

“Die doel is om ’n nuwe, inspirerende visuele simbool op kampus te skep waarvan die inhoud student-gedrewe is,” sê De Villiers. 
 
“Hierdie kunswerk is vir die studente, personeel en besoekers bedoel. Ons hoop dat, deur studentebydraes vir die projek te vra, hulle ’n verbintenis met die kampus en ’n gevoel dat hulle tuishoort, sal ervaar. Ons strewe daarna om ’n beter omgewing vir almal op die kampus te skep en glo dat inklusiewe, inspirerende openbare kuns hiermee kan help,” sê sy.

Die doel van die projek is om openbare ruimtes te skep wat erkenning gee aan die menigte verhale in ons gedeelde verlede. 
Studente kan voorstelle van boektitels, saam met ’n kort motivering, per e-pos aan De Villiers stuur by gera@sun.ac.za 

Die e-pos moet die titel(s) van jou gunstelingboek(e), of boeke wat ’n invloed op jou lewe gehad het, belangrike “moet-lees”-boeke of ongepubliseerde boeke wat jy dink behoort uitgegee te word, insluit. Die sperdatum vir die indiening van voorstelle is 31 Julie 2021.