Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Interessante feite oor hoe Suid-Afrikaners hul wyn kies
Outeur: Corporate Communication & Marketing / Korporatiewe Kommunikasie & Bemarking [Alec Basson]
Gepubliseer: 06/07/2021

Smaak, aanbevelings deur vriende en kenners, wyndruifvariteite en handelsmerke is maar net van die goed wat Suid-Afrikaners oorweeg wanneer hulle 'n bottel wyn koop.

Dit is volgens prof Marlize Terblanche-Smit van die Universiteit van Stellenbosch Bestuurskool wat onlangs haar virtuele intreerede gelewer het. Die onderwerp van haar intreerede was Modelling Consumer Choice Behaviour: A South African Wine Case.

Terblanche-Smit het gesê wyndrinkers wat aan haar studie deelgeneem het, “het die wyn voorheen geproe", “iemand het dit aanbeveel", “wyndruifvariteit" en “handelsmerk" as van die belangrikste wyneienskappe aangedui wat hul besluite oor aankope beïnvloed. Alkoholvlakke onder 13% is as die onbelangrikste faktor aangedui.

 

  • Selfoongebruikers klik hier vir video.

Terblanche-Smit het genoem dat “wyndruifvariteit" vir nie-premium verbruikers belangrik is, terwyl die “oorsprong van wyn" nie so belangrik is nie. Premium verbruikers lê egter weer groter klem op laasgenoemde en het gee meer aandag aan 'n spesifieke handelsmerk. Hulle sal gewoonlik 'n minimum van R200 vir 'n bottel wyn betaal.

Sy het gesê haar navorsing het getoon dat nie-premium verbruikers nie soveel op promosie-uitstallings in winkels fokus wanneer hulle wyn koop nie.

Terblanche-Smit het egter daarop gewys dat daar 'n aansienlike verskil tussen die maandelikse inkomste van premium groepe teenoor nie-premium groep is. Dit herbevestig dat die prys van wyn 'n baie belangrike differensieerder tussen die twee groepe is.

Sy het gesê bemarkers, wynkelders en kleinhandelaars moet hierdie bevindings oorweeg om premium en nie-premium wynverbruikers afsonderlik te teiken.

“Kennis van verbruikersgedrag en aankoopbesluite wat op produk- en handelsmerkkeuses gegrond is, is uiters belangrik vir bemarkers om sukses in die mark en met handelsmerklojaliteit en verbruikerswaarde te behaal."

Hoewel Terblanche-Smit erken het dat dit ingewikkeld is om verbruikerskeusegedrag wat met wyn verband hou, na 'n model te vorm, meen sy dit is belangrik omdat dit kan help om belangrike produkeienskappe wat wyndrinkers in ag neem, te identifiseer.

Sy het ook 'n paar praktiese wenke aan bemarkers, wynkelders en kleinhandelaars in hierdie verband gebied.

“Ten einde verbruikerskeuses te beïnvloed, kan kleinhandelaars hul wynafdeling volgens die belangrikste wyneienskappe wat geïdentifiseer is, rangskik; hulle kan dus aanbevole wyne aanhou, aangesien aanbeveling 'n sterk aandrywer van keuse is.

“Dit is belangrik dat die wynbedryf en -bemarkers geleenthede vir proefnemings skep. Wynfeeste of wynproegeleenthede by wynkelders kan vir proefnemings gebruik word. Premium verbruikers sal meer waarskynlik direk van 'n wynplaas of wynkelder aankoop. Proegeleenthede moet gedurende die verbruikersaankoopproses geskep word om keuse te beïnvloed.

“Hulle kan ook inligting oor smaakprofiele en aanbevelings oor paring met kosse verskaf. Wyndruifvariteite en handelmerke kan ook gebruik word om meer oor 'n spesifieke wyn te verduidelik en om 'n smaakprofiel te kry wat die verbruiker regtig verstaan."

“Aangesien nie-premium verbruikers gewoonlik op kommunikasie van verwysingsgroepe soos familie, vriende en blogskrywers staatmaak, kan wynmakers hulle deur sosiale media bereik," het Terblanche-Smit bygevoeg.

“Premium wynverbruikers maak meestal op aanbeveling van mense staat wat hulle glo vir hulle raad oor wyn en handelsmerke gee wat hul beeld sal verbeter. Hulle verkies spesialis-wyntydskrifte en kundige raad van wynmakers."

  • ​Foto deur Vinotecarium by Pixabay.