Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Matie Winkel vanaf 1 Julie 2021 ook aanlyn
Outeur: Innovus
Gepubliseer: 01/07/2021

​Die gewilde Matie Winkel van die Universiteit Stellenbosch (US) het op Donderdag 1 Julie 2021 sy aanlynwinkel geopen, waar die hele reeks klere, geskenke en bykomstighede van die US nou beskikbaar is.

'Ons is baie opgewonde om aan ons klante hierdie gerieflike manier van inkopies te bied," sê Matie Winkel se nuwe bestuurder, Lara Cronje. “Om hierdie mylpaal te vier, het ons opwindende aanbiedings gedurende die hele Julie, so hou hierdie spasie dop."

Vir Cronje, wat drie maande gelede by Innovus aangesluit het, is die opening van die aanlynwinkel die hoogtepunt van noukeurige beplanning en toetsing van die aanlyn-handelsomgewing.

“Ons span het 'n geruime tyd aanlynverkope getoets, en daar is 'n groot vraag na ons produkte om aanlyn beskikbaar te wees ​ veral onder ons alumni, studente wat afstandsonderrig ontvang en die breër universiteitsgemeenskap."

“Ons ontvang baie navrae van alumni wat in die buiteland woon, en ons hoop om in die nabye toekoms ook aan hulle die geleentheid te gee om toegang te kry tot alle US-handelsmerkprodukte waar ook al hulle in die wêreld is. Intussen kan plaaslike Maties solank heerlik aanlyn koop! "

Afgesien van die voorraad US-produkte, het koshuise en fakulteite ook toegang tot hierdie aanlynwinkel om US-produke via hierdie sentrale platform te verkoop.

Hou gerus die aanlyn- en sosiale media-ruimtes dop en besoek Maties Winkel vanaf 1 Julie 2021 aanlyn by www.matieshop.co.za vir al jou US-koopbehoeftes. Volg hulle op sosiale media op Facebook en Instagram om op hoogte te bly van die nuutste uitverkopings.​