Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Kan ons asseblief konsekwent wees oor taal?
Outeur: Simthembile Xeketwana
Gepubliseer: 28/06/2021

Handel die kwessie van Afrikaans werklik oor taal as 'n leerinstrument of gaan dit inderwaarheid oor die bevordering van sekere politieke agendas? Sal diegene wat die Universiteit Stellenbosch (US) nou by die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAMRK) verkla het ook daar wees wanneer hierdie tale in die onderrig-en-leeromgewings geïmplementeer word, of sal ons eers weer met die volgende hersiening van die Taalbeleid of in die volgende verkiesingsjaar van hulle hoor? Hierdie is slegs enkele van die aspekte waarop dr Simthembile Xeketwana (Departement Kurrikulumstudie) fokus in ʼn meningsartikel vir Daily Maverick (27 Junie). Hy het onlangs voor die SAMRK getuig oor die vermeende verbod op Afrikaans in koshuise tydens die verwelkomingstydperk aan die begin van die akademiese jaar by die US.

  • Lees die vertaalde weergawe van die artikel hieronder.

Kan ons asseblief konsekwent wees oor taal?

Simthembile Xeketwana*

Dit voel soos gister wat ek in daardie vertrek vol studente en personeellede in die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe by die Universiteit Stellenbosch (US) was. Dit was 2015, en vir ons het dit gevoel of Afrikaans by die instelling besig was om ons te versmoor.

Ek onthou nog die vrees, angs, vyandigheid en woede in die vertrek. Hierdie gevoelens was nie net duidelik te sien op die gesigte van dié wat daar bymekaargekom het nie, maar was ook voelbaar in die gesprekke op daardie warm somersdag.

In die tydsgees van #RhodesMustFall is daar gesê dat die probleem wat die US die dringendste moes hanteer, nie visuele regstelling (standbeelde en gebouname op kampus) was nie, maar die instelling se Taalbeleid (die weergawe van 2014 wat destyds van toepassing was). Die beleid is beskou as uitsluitend en vyandig jeens studente wat nie Afrikaans kon praat óf daarin vaardig was nie. Die gebruik van Afrikaans in die klaskamer is as 'n struikelblok vir leer ervaar.

Ongelukkig het geen Vryheidsfront Plus of Demokratiese Alliansie (DA) destyds ingegryp en die Universiteit by die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAMRK) verkla nie. Die studente en personeellede het gesamentlik baklei vir wat hulle geglo het reg en billik is.

En tog bevind ons ons toe op 15 Junie 2021, 'n dag voor Jeugdag, voor die SAMRK, waar ons moes verklaar of ons ooit geweier het dat enigiemand in ons US-koshuis Afrikaans praat. Is dít toeval vir my as 'n swart akademikus en koshuishoof by die US?

As dít maar kon gebeur in die dae van #OpenStellenbosch, 'n groep wat in 2015 gevorm is om die hegemonie van wit Afrikaanse kultuur en die uitsluiting van swart studente en personeellede by die US te bevraagteken. Dat 'n SAMRK-verhoor ses jaar later uit 'n teenoorgestelde oogpunt gehou sou word, voel onwerklik.

Ons koshuis, Huis Francie van Zijl op Tygerbergkampus, is die afgelope maande in 'n geskil ingesleep oor bewerings dat Afrikaanse studente glo ontneem is van hulle reg om hulle moedertaal in die koshuisgange en hulle privaat ruimtes te praat.

Dit is tyd dat ek, as inwonende hoof, padlangs praat oor hierdie oënskynlik polities gemotiveerde en valse aantyging teen Huis Francie. Soos ek in alle ondersoeke en in antwoord op alle vrae gesê het, dra ek nie kennis van enige student(e) in ons koshuis wat 'n klagte ingedien het omdat sy die geleentheid om Afrikaans te praat ontsê is nie.

Studente in Huis Francie praat enige taal wat hulle wil, soos dit hoort. Dit is reg dat hulle in die koshuisgange en -kamers, en selfs in hulle privaat ruimtes, met mekaar omgaan soos hulle verkies. Niemand het my nog ooit opdrag gegee om enige student se gebruik van Afrikaans in ons gemeenskap in te kort nie.

Dit is jammer dat wanneer mense gevra word om inklusief te wees en diegene wat nié Afrikaans verstaan nie tegemoet te kom, sommige dit as 'n aanval op Afrikaanssprekendes beskou. Dit word selfs verder verdraai wanneer ouers, wat nié koshuisinwoners is nie, die saak uit verband ruk en media toe hardloop.

Ons hoor reeds maande lank van diegene wat met afsku vervul is omdat die Universiteit glo studente probeer keer het om Afrikaans te praat. Nietemin is dit belangrik om uit te wys dat daar die afgelope vyf jaar heelwat gebeur het sedert die US (in 2016) sy Taalbeleid verander het om dit meer inklusief te maak.

In my tyd by Huis Francie (sedert September 2017) het ons koshuis gegroei en die diversiteit van ons land al hoe meer begin omarm. Huiskomiteelede was nog altyd deernisvolle en waardige leiers van integriteit, en was nog nooit kragdadig of afdwingend teenoor inwoners nie.

Trouens, Huis Francie gebruik ál elf amptelike Suid-Afrikaanse tale op sy inligtingsborde. Is dit genoeg? Nee, maar dit is 'n goeie begin in die regte rigting. Verbeel jou 'n student reis al die pad van Limpopo en sien by haar aankoms 'n inligtingsbord in haar taal. Watter invloed sal dit hê op daardie student se siening van die US, die koshuis en die gemeenskap waarvan sy vir die volgende drie of vier jaar sal deel uitmaak?

Ons taak is om 'n transformerende studente-ervaring te skep vir ál ons studente, nie net vir 'n uitgesoekte paar nie. Ons 'fout' is dat ons nie altyd media toe hardloop wanneer ons dít regkry nie. Ons opdrag was nog altyd om inklusief te wees en die US toeganklik te maak vir diegene wat nooit gedink het hulle sal hier welkom wees nie.

En ons behoort selfs méér te doen. Ek het in my loopbaan as 'n akademikus al 'n hele paar keer gesê die Taalbeleid van 2016 was beslis 'n goeie begin vir die US, maar ons is nog nie heeltemal daar nie. Ek het dit duidelik gemaak dat ons, as universiteit, nie kan sê ons is meertalig, maar eintlik oorheers Engels en Afrikaans nie. Ja, Xhosa word in die Taalbeleid van 2016 genoem, maar word nie in dieselfde mate as die ander twee tale gebruik nie.

As ons op meertaligheid wil aanspraak maak, moet ons van twee tot drie tale beweeg. Dit sou 'n goeie begin wees, en ek glo die Taalbeleid wat tans hersien word en na verwagting teen die einde van 2021 voor die Raad sal dien, sal juis dít bereik.

Die konsep-hersiene beleid sluit transtaligheid in as 'n onderrigstrategie in meertalige klaskamers.  Dít sal net werk indien ons, as dosente, die idee aanvaar. Met transtaligheid kry studente wat met 'n konsep sukkel die geleentheid om dit in die klaskameromgewing in hulle eie taal te vertolk, en help hulle klasmaats hulle daar en dan om dit reg te verstaan.

My Afrikaans is baie beperk, maar wanneer ek klas gee en 'n student sukkel, laat ek hom toe om in Afrikaans te praat, waarna sy klasmaats hom die inligting deur gesprek en tolking help verstaan totdat almal dit snap. As ek, as dosent, dit dan terugverwoord en die studente stem saam, het ons saam vordering gemaak.

Studente in my klas was nog altyd positief oor die gedagte van meertaligheid. Ek het ook al in van my werk onomwonde verklaar dat meertaligheid iets moois is en slegs goeie gevolge vir sosiale samehang by ons universiteit en in die res van Suid-Afrika kan hê.

Is dit 'n maklike pad om te kies? Gewis nié, maar dit sal help as ons besef dat alle Suid-Afrikaners sekere opofferings moet maak en ander tale moet toelaat om te ontwikkel, en tale ontwikkel slegs as dit gebruik word.

In dié stadium kan ek nie anders nie as om te wonder of die kwessie van Afrikaans werklik oor taal as 'n leerinstrument gaan, of inderwaarheid oor die bevordering van sekere politieke agendas. Sal diegene wat die Universiteit nou by die SAMRK verkla het ook daar wees wanneer hierdie tale in die onderrig-en-leeromgewings geïmplementeer word, of sal ons eers weer met die volgende hersiening van die Taalbeleid of in die volgende verkiesingsjaar van hulle hoor?

Hoewel ek dikwels met my kollega Jonathan Jansen verskil oor ander kwessies soos studentepolitiek, begryp ek sy argument dat die Afrikaanskwessie by die US nooit werklik oor onderrig en leer in die klas gehandel het nie, maar oor 'n bepaalde groep wat dink hulle verloor politieke mag.

My wens is dat diegene wat so bitter ongelukkig is daaroor dat studente gevra is om gedurende die verwelkomingstydperk by die aanvang van die akademiese jaar 'n gemeenskaplike taal in koshuise te praat, konsekwent sal wees in hulle ongelukkigheid en besware. Ek hoop daardie ongelukkigheid steek taal- en rassegrense oor en word vir ál die uitdagende en komplekse vraagstukke van ons land aangewend.

Ndisaqhumisa umdiza wam, ngethemba lokuba nezivalekileyo zakuva! Ek hoor graag wat ander sê.

  • Foto: Dr Simthembile Xeketwana (regs) by 'n verhoor van die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie op 15 Junie 2021 op Stellenbosch, saam met Cailin Thorpe (middel), prim van Huis Francie van Zijl, en Caitlin Sithole, haar adjunk.

*Dr Sim Xeketwana is 'n dosent in Kurrikulumstudie in die Fakulteit Opvoedkunde, Universiteit Stellenbosch (US). Sy navorsingsbelangstelling is taal en onderwys, veral in skoolverband. Hy is ook die inwonende hoof van Huis Francie van Zijl op die US se Tygerbergkampus.