Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US Koor: Diverse groep bereik só eenstemmigheid
Outeur: Sonika Lamprecht / Photos: Stefan Els
Gepubliseer: 28/06/2021

‘n Artikel wat Saterdag, 26 Junie, in Die Burger verskyn het, fokus op die diverse groep jong mense van die Universiteit Stellenbosch Koor. Lees hoe hierdie diversiteit nie net die koor se klank positief beïnvloed en hul repertorium verbreed het nie, maar ook lede waardevolle lewenslesse geleer het. ​ Lees die artikel hieronder, of klik hier​​ vir die stuk soos gepubliseer.


Wanneer die Universiteit Stellenbosch (US) Koor op ʼn verhoog stap, verteenwoordig die lede elk van die nege provinsies en amper elkeen van die Suid-Afrikaanse landstale.

Een koorleier en 117 uiteenlopende koorlede gegroepeer in agt stemgroepe wat met oorgawe saam sing en gehore wêreldwyd bekoor.

Die koor het oor die afgelope dekade al verskeie koorkompetisies gewen en hul weergawes van Baba Yetu en Say Something is al onderskeidelik amper 6 en 7 miljoen keer op YouTube gekyk. Die koor beklee ook sedert 2012 die eerste plek op Interkultur se wêreldranglys vir kore. Dié internasionale kultuurorganisasie is veral bekend is vir die reël van die tweejaarlikse Wêreldkoorspele.

André van der Merwe, wat sedert 2003 die koorleier is, is daarvan oortuig dat die sukses van die US Koor grootliks te danke is aan die diversiteit en multikulturele aard daarvan.

“Ons diversiteit skep ʼn magiese energie en uiteindelik ʼn klankwêreld wat uniek aan Suid-Afrika is. In enige kunsvorm wil ʼn mens ʼn unieke stem hê, ʼn stem wat iets beteken. Ek dink ons vergeet soms wat ons het, en wanneer ons dan op ʼn internasionale verhoog kompeteer – of jy sing in ʼn katedraal in Europa – en jy sien hoe mense op die koor se energie reageer, dan besef jy weer sjoe, ons het iets spesiaal hier beet."

Vir Caitlin Laing, ʼn derdejaar BA Regte-student, maak die impak wat hul musiek op mense het die opoffering en harde werk die moeite werd.

“Die beste deel is wanneer die atmosfeer wat ons stemme skep amper tasbaar word en wanneer die koor en die gehoor almal meegevoer word na ʼn wêreld wat net musiek kan skep."

Die verskillende stemkleure en kulturele agtergronde binne die koor het ook die repertoire verbreed.

“Ek het nou baie meer opsies in die musiek wat ek kan kies," sê Van der Merwe.

“Voorheen was ek skrikkerig om die Koor tradisionele Afrikamusiek te laat sing, want ek het nie geweet wat dit beteken nie, ek het nie die konteks geken nie. Maar nou kan ek my koorlede vra, en so leer ons by mekaar. Dit het die koor minder eendimensioneel gemaak. Oorsese kollegas is gefassineerd met die diversiteit van die koor. Nie net ons samestelling nie, maar ook die verskeidenheid van style in ons repertorium.

“Ons het nog nooit teenkanting ervaar wanneer ons Afrikaans of enige ander taal sing nie. Ek dink dit kom neer op respek. Wanneer ʼn wit kind sy bes probeer om al die klikgeluide in Xhosa reg te kry, probeer die swart studente ook hul bes wanneer ons Afrikaans sing. Ek kan sien die konteks is dan reg."

Die diversiteit van die koor en die manier hoe dit verwelkom word, het ook ʼn geweldige persoonlike impak op die koorlede. Tré Delange, ʼn finalejaar BCom student, sê die koor is vir hom ʼn toevlug.

“Dit is ʼn plek waar mense mekaar aanvaar, en terselfdertyd onbeskaamd hulself is. Ek voel dit is so kontrasterend met dít wat baie van ons daagliks in die wêreld beleef – daar is geen vooroordele en diskriminasie in die koor nie. Dit is net ʼn groep jong mense wat bymekaarkom, ongeag ons verskillende agtergronde, geskiedenisse en kulture, om iets te skep wat so mooi en inspirerend is."

Stehan Malherbe, derdejaar BSc-student, stem saam. “My gunstelingding van die koor is die manier waarop hierdie gemeenskap, hierdie familie, ʼn veilige ruimte skep waarin ek net myself kan wees. Die koor het my ʼn stem gegee en ʼn geleentheid gebied om hoop in ons land en regoor die wêreld te versprei."

Sinomtha Zake, 'n derdejaarstudent in musiek, sê sy voel gemaklik in die koor. “Ek voel gemaklik tussen hierdie mense – gemaklik genoeg om te leer en saam met hulle foute te maak; om die skanse wat ek in ander sosiale situasies sou ophou, te laat sak."

Christopher Arendse, finalejaar mediese student, is al ses jaar lank in die koor en sê een van die waardevolle lesse wat hy geleer het is “hoe meer ek ander omarm, hoe meer is ek in staat om myself te omarm."

Van der Merwe glo hierdie kultuur van opregtheid en absolute aanvaarding van mense vir wie en wat hulle is dit begin by die leier. “Wanneer ek voor my koor staan, is ek real. En ek weet dat almal nie van my gaan hou nie, en dit is ook oukei. Party mense sal sê ʼn mens raak soms so divers dat jy jouself verloor, maar ek dink dit is nonsens. Ek ervaar dat hoe meer ek mense omarm, hoe veiliger voel ek, want hulle omarm my terug net soos ek is."

Lauren Ramsay, ʼn finalejaarstudent in musiekopvoeding, reken die senior koorlede speel ook ʼn groot rol daarin om die toon aan te gee wat die kultuur en dissipline van die koor betref. “Die meer senior koorlede ken hulle werk so goed en is baie gedissiplineerd, so dit skep nogal ʼn verwagting van nuwe lede. Maar die ouer koorlede help ʼn mens so baie, so dit laat ʼn mens dadelik deel voel, soos ʼn familie."

Om goed te kan sing is vanselfsprekend ʼn voorvereiste vir koorsang, maar om te kan luister – na die musiek, die dirigent, jou mede-koorlede – is ewe belangrik.

Vir Delange het hierdie luistervaardigheid ʼn lewenswyse geword – iets wat oorgespoel het na sy alledaagse lewe, en sy interaksie met mense. “Ek het geleer om te luister om te hoor en te verstaan, en nie net om te reageer nie."

Dit is juis hierdie vermoë van die jong mense in die koor wat Van der Merwe in Jeugmaand inspireer en opgewonde maak oor die toekoms. “Hulle luister meer na mekaar. Daar is ʼn sensitiwiteit vir mekaar wat ek nie in die verlede gesien het nie. Maar ons is nie ʼn Kumbaya-groepie nie," stel hy dit onomwonde.

“Enigeen wat met studente werk, sal weet hulle is baie meer realisties as dit. Ons praat oor die moeilike dinge ook. Ek motiveer die span om nie net terug te kyk nie, maar vorentoe. Ons moet vooruit gaan, tree vir tree. 

“Dit is vir my belangrik om ʼn ruimte te skep waar mense bymekaar kan kom en nie op mekaar se tone trap nie, maar ook nie vir mekaar bang is nie. Want as jy die heeltyd op eiers loop, gaan jy nie groei nie en ook niks by mekaar leer nie. Ek dink ek doen dit deur dit self te leef: Hoe hanteer ek kritiek, hoe oop is ek vir mense om van my te verskil? Ek sê altyd hulle kan enigiets vir my sê, solank hulle dit met respek doen.