Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Werkgewer help bosbouer om sy medalje te vier
Outeur: Engela Duvenage (Photo: Anton Jordaan)
Gepubliseer: 28/06/2021

​In Maart vanjaar was dit nie vir Gabriel Smith moontlik om die amptelike funksie by te woon waartydens hy die Schlich Medalje sou ontvang as die topstudent in die BSc Bosbou en Houtkunde-program aan die Universiteit Stellenbosch nie. Te danke aan die ondersteuning van sy huidige werkgewer, kon hy in Julie na Stellenbosch reis om sy toekenning van die rektor van die Universiteit Stellenbosch (US), prof. Wim de Villiers, te ontvang. 

Die Schlich Medalje word gewoonlik by 'n spesiale funksie vir toppresteerders van die Fakulteit AgriWetenskappe oorhandig, wat saamval met die fakulteit se gradeplegtigheid.

Smith se werkgewer, Sappi Forestry, het besluit dat die toekenning van hierdie medalje aan die cum laude student nie sondermeer ongevierd verby kon gaan nie. Hulle het daarom besluit om die onkoste van sy reis na sy alma mater te dek. Agter die skerms het fakulteitspersoneel gereël het dat die Rektor die medalje aan hom sou oorhandig. Die klein geleentheid is ook bygewoon deur prof. Danie Brink, dekaan van die US Fakulteit AgriWetenskappe, mnr. Damien Naidu, programleier vir kwekerytegnologie by Sappi, en prof. Brand Wessels, voorsitter van die US Departement Bos- en Houtkunde.

Sappi, een van die land se grootste houtproduksiemaatskappye, het reeds deur  beursprogram vir Smith regdeur sy studiejare aan die US ondersteun.

Smith werk sedertdien by Sappi se Shaw Navorsingsentrum buite Howick in die KwaZulu Natalse Middellande as 'n leerling-bosbou ingenieur. In die proses leer  hy baie oor kwekerytegnologie, grondbestuur en presisiebosbouprogramme. 

“Ek is geniet my werk baie. Daardeur kan ek my bosbou-agtergrond kombineer met my kennis oor afstandswaarneming, programmering, kunsmatige intelligensie en masjienleer, alles binne 'n omgewing waarin ek regtig belangstel," sê Smith, wat weldra verdere nagraadse studies oorweeg. "Op enige gegewe dag kan ek by enigiets betrokke wees -  van die bestudering van nuwe groeiregimes vir plante in die kwekery tot die vlieg van hommeltuie iewers in die buitelug, tot die gebruik van kunsmatige intelligensie, masjienleer of programmeringswerk. Ek kry kans om aan interessante projekte te werk en nuwe idees te ondersoek."

Hy het aanvanklik besluit om in dié rigting te studeer weens sy liefde vir die buitelewe en bergklim.

Smith sê die medalje en die feit dat hy sy graad cum laude ontvang het, is absolute hoogtepunte na vier jare se harde werk en heelwat opofferinge.

“Ek voel 'n mengsel van trots en verligting. Ek is baie dank verskuldig aan al die mense, personeel en dosente wat vir my op hierdie reis ondersteun het," sê hy.

“Sappi borg elke jaar 'n aantal voorgraadse en nagraadse beurse in ons departement," vertel prof. Brand Wessels, voorsitter van die US Departement Bos- en Houtkunde.

Volgens hom ontvang by die 60% van studente in die departement jaarliks 'n beurs van 'n aard.

“Ons is dankbaar vir die ondersteuning deur Sappi en ander soortgelyke maatskappye wat help voorsien in broodnodige beurse vir studiedoeleindes. Op hierdie manier kan ons nuwe bloed vir die bedryf lewer, en help dat dit aan die voorpunt bly."

Volgens prof. Wessels dra Sappi ook andersins tot die departement se werksaamhede by, deur elke jaar drie van hul navorsers beskikbaar te stel om 'n module oor genetika in bosbouwetenskap aan finalejaarstudente aan te bied.

Die maatskappy ondersteun ook 'n derde van die salaris van 'n tegniese pos, en ondersteun ook gereeld navorsingsprojekte deur genetiese materiaal te verskaf, toe te laat dat eksperimente in hul plantasies geskied, en navorsingstoerusting te help verskaf. Twee buitengewone senior dosente verbonde aan die Departement Bos- en Houtkunde werk by Sappi se Shaw Navorsingsentrum. Hulle voorsien kosbare ondersteuning aan nagraadse studente en personeel wat navorsing oor bosboukunde of die genetiese verbetering van boomspesies doen.

“Sappi is 'n maatskappy wat nie net bloot kyk watter kompeterende voordele dit uit die verskaffing van sekere ondersteuning kan trek nie, maar dit ook doen ter ondersteuning van die bedryf en die land in die breë," sê prof. Wessels.

“Die Departement van Bos- en Houtkunde funksioneer binne 'n toegepaste wetenskapsveld. Doelgerigte samewerking met verwante maatskappye maak dit vir ons moontlik om allesomvattende opleiding aan ons studente te kan bied. Hierdie samewerking maak dit ook moontlik om relevante en doeltreffende navorsingsuitsette te kan bereik."

Foto

Prof. Brand Wessels (voorsitter van die Universiteit Stellenbosch (US) se Departement van Bos- en Houtkunde), prof. Wim de Villiers (US rektor en vise-kanselier), mnr. Gabriel Smith (ontvanger van die Schlich Medalje), mnr Damien Naidoo (programleier – Kwekerytegnologies by Sappi) en prof. Danie Brink (dekaan van die US Fakulteit AgriWetenskappe). Foto: Anton Jordaan  ​