Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
'Dit was wonderlik om weer met ander alumni kontak te maak'
Outeur: Development & Alumni / Ontwikkeling & Alumni
Gepubliseer: 28/06/2021

Annica Swart het een en 'n half jaar gelede na Ingolstadt, Duitsland, verhuis. Aan die begin van 2020 het sy vrywilligerwerk begin doen, omdat sy op soek was na 'n manier om haar netwerk uit te brei.

“Ek het my tyd by Stellies regtig geniet en dit was wonderlik om weer met ander alumni kontak te maak. Ideaal gesien sou ek help met die organisering van fisiese netwerkgeleenthede in München, maar tot dusver was my vrywilligerwerk beperk tot die lei van wegbreekgroepe tydens aanlyn netwerkvorming en wynproe-geleenthede."

Annica sê dat sy beslis ander Maties sal aanmoedig om betrokke te raak en van hulle tyd af te staan. “Ondervinding het my geleer dat jy baie meer uit vrywilligerwerk in enige hoedanigheid kry, as wat jy gee. Dit neem nie soveel tyd in beslag nie en jy kry die geleentheid om terug te gee aan die universiteit wat soveel aan elkeen van ons voorsien het."

Sy het 'n graad in bedryfsingenieurswese aan Stellenbosch behaal, gevolg deur 'n meestersgraad in ingenieursbestuur. Tans is sy 'n lid van die verkoopsbedryfspan van Amazon Web Services, by die hoofkantoor in München.

Sy voeg by dat sy graag met alle alumni in München sou wou kontak maak.

Sy het wonderlike herinneringe aan haar tyd in Matieland, veral aan haar tyd as 'n inwoner van Nerina. “Ek het graag die wynplase om Stellenbosch besoek, maar die goeie tye wat ons by Nerina-koshuis beleef het, is die helderste in my geheue. Nerina en haar inwoners het waarlik vir my 'n tuiste geword. Die gevoel van vryheid, opwinding en avontuur wat ek gedurende my ses jaar aan die universiteit ervaar het, sal altyd vir my spesiaal bly. Ek moet veral die Departement Bedryfsingenieurswese en Tannie Karina bedank vir die onvergeetlike studie-ervaring wat hulle geskep het."