Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Prof Pumla Gobodo-Madikizela wen 2020 Harry Oppenheimer-navorsingsbeurs
Outeur: Oppenheimer Memorial Trust
Gepubliseer: 22/06/2021

Prof Pumla Gobodo-Madikizela, n professor in die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch, is as die ontvanger van die 2020 Harry Oppenheimer-navorsingsbeurs aangewys.

Dit is vanjaar die 20ste herdenking van die Harry Oppenheimer-navorsingsbeurs.

Die benoeming van prof Gobodo-Madikizela spruit uit haar voorgestelde projek, getiteld “Estetika van Trauma, Poëtika van Herstel", en handel oor die herbesinning van trauma deur 'n nuwe terminologie, asook die klem wat spesifiek geplaas word op historiese trauma en die transgenerasie-gevolge hiervan. Die projek sal die soeklig plaas op die wyse waarop die kunste eerder as vergifnis en versoening gebruik kan word om 'n herstel- en transformerende visie na te streef. Hierdie werk sal 'n belangrike rol speel in die manier hoe daar gedebateer word oor historiese trauma en die transgenerasionele gevolge daarvan. Prof Gobodo-Madikizela beklee die Suid-Afrikaanse Nasionale Navorsingsleerstoel in Studies oor Historiese Trauma en Transformasie.

Die jaarlikse Harry Oppenheimer Genootskaptoekenning, met 'n geldwaarde van R2 miljoen, word gereken as een van Afrika se mees gesogte navorsingstoekennings. Die toekenning gee erkenning aan studies van die hoogste gehalte vanuit 'n wye verskeidenheid akademiese en navorsingsdissiplines. Dit is die vlagskiptoekenning van die Oppenheimer Memorial Trust. Die Trust, wat dateer uit 1958, het ontwikkel tot 'n daadwerklike befondser vir onderrig, kuns en kultuur, en organisasies in die samelewing. Oor die afgelope vyf jaar het die uitkerings van die Trust jaarliks gewissel van R100 miljoen tot R130 miljoen, met ongeveer 60% wat toegeken is aan hoër onderrig as deel van 'n volgehoue poging om die plaaslike akademiese omgewing uit te brei.

Prof Gobodo-Madikizela, wat onder meer die Harvard Radcliffe-instituut se Toekenning vir Gevorderde Studies, die Alan Paton-toekenning, die Christopher-toekenning, die Distinguished African Scholar-titel by Cornell Universiteit se Mario Einaudi-sentrum vir Internasionale Studies, en die Eleanor Roosevelt-toekenning reeds in ontvangs geneem het, het haar waardeering uitgespreek deur die 2020 Oppenheimer Genootskaptoekenning in ontvangs te neem.

In ontvangs van die toekenning het sy genoem: “Die toekenning deur hierdie gesaghebbende genootskap het my eenvoudig oorweldig. Dit is 'n geweldige eer wat ek met innige dankbaarheid aanvaar. Ek glo dat min onderwerpe meer dringend aanspraak maak op geesteswetenskaplike navorsing as die nalatenskap van gewelddadige geskiedenis en die voortdurende traumatiese gevolge vir generasies. 'n Geleentheid om nuwe intellektuele grense op hierdie gebied te bevorder en om jong leerders as vennote by die projek te betrek, is 'n seldsame geskenk."

Jonathan Oppenheimer, Voorsitter van die Trust, het erkenning gegee vir die impak wat die Genootskaptoekenning maak en die Trust se visie: “Prof Gobodo-Madikizela is 'n wêreldwye erkende geleerde, 'n lig in 'n gebroke wêreld wat dringend behoefte het aan die genesing van generasies se wonde. Haar navorsing is tydig, interdissiplinêr en pak transgenerationele trauma op nuwe en relevante maniere aan om wêreldwye deelname moontlik te maak. Prof Gobodo-Madikizela is die fakkeldraer van waarheid en versoening, en staan aan die spits van transformasie vanuit Afrika."

Prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier aan die Universiteit Stellenbosch, het gesê: “Prof Gobodo-Madikizela se groot bydrae tot die herbesinning van historiese trauma, haar voortdurende betrokkenheid by ingewikkelde kwessies vanuit die verlede en die dringendheid van haar navorsing, maak haar meer as verdienstelik van hierdie gesogte eerbewys. Die Universiteit Stellenbosch is trots daarop dat prof Gobodo-Madikizela in ons geledere is en ons sien daarna uit om te sien waarheen hierdie belangrike projek sal lei."


Meer oor die Oppenheimer Memorial Trust:

Die Oppenheimer Memorial Trust is in 1958 deur Harry Oppenheimer gestig ter nagedagtenis aan sy vader, Geagte Ernest Oppenheimer, stigter van Anglo American-korporasie in 1917 – 'n persoon wat toegewyd was tot die welstand van die mense en die ontwikkeling van Suid-Afrika, deur diens aan die gemeenskap te bied. Die Trust het 'n lang geskiedenis van onafhanklike trustees, tesame met familielede, waaruit die Raad en die Bestuur van die Trust bestaan. Tot op hede is vier generasies van die Oppenheimer-familie hierby betrokke. Die Oppenheimer Memorial Trust het 'n ryke tradisie van belegging in opvoeding en ander aktiwiteite van openbare belang. Vir meer inligting oor die Oppenheimer Memorial Trust, besoek: https://www.omt.org.za/