Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US deel van nuwe netwerk wat onderrig oor rondewurms in Afrika uitbrei
Outeur: Engela Duvenage
Gepubliseer: 22/06/2021

​Nematoloë van die Universiteit Stellenbosch se Departement Bewaringsekologie en Entomologie is deel van 'n nuwe driejarige projek wat die ontwikkeling van navorsing en opvoedkundige kapasiteit in Sub-Sahara Afrika oor nematodes (rondewurms) bevorder. Die Nematologie Opvoeding in Sub-Sahara Afrika (NEMEDUSSA) is 'n gesamentlike poging deur 'n konsortium van 14 universiteite uit Afrika en 2 uit Europa. Dit word gekoördineer deur die Universiteit van Gent in België.

Plant-parasitiese nematodes of rondewurms veroorsaak aansienlike skade en verliese aan opbrengs by minstens 3000 soorte gewasse van ekonomiese belang. Die skade loop dikwels saam met ander patogene. Ongelukkig word nematodes dikwels misgekyk of verkeerd gediagnoseer. Dit lei dan tot die onnodige gebruik van ongesonde landbouchemikalieë. Daar is egter 'n “goeie" kant aan nematodes, aangesien hulle ook gebruik kan word as biobeheeragente teen sekere insekplae om beter omgewingsgesondheid en biodiversiteit te verseker. Hulle dien ook as bio-aanduiders van grondgesondheid.

Die NEMEDUSSA projek strek van 2021 tot 2023. Dit word gesamentlik befonds deur die Europese Unie (EU) se Erasmus+ KA2 Kapasiteitsbou in Hoër Opvoedingsprogramme en VLIR-UOS. Dit hou verband met die doelwitte van die Erasmus+ Program, wat samewerking aanmoedig tussen die EU en lidlande, en help om uitdagings in die bestuur en beheer van hoër opvoedingsinstellings aan te spreek.

Volgens 'n kundige oor nematodes, prof. Antoinette Malan van US se Departement Bewaringsekologie en Entomologie, sal die Fakulteit AgriWetenskappe ses mikroskope ontvang vir gebruik tydens die praktiese sessies van voorgraadse studente. Dit vorm deel van pogings om laboratoriumfasiliteite in Afrika op te gradeer deur die projek.

US-personeel wat werk met nematodes sal ook opleiding kry aan die Universiteit van die Côte d'Azur in Frankryk oor die jongste molekulêre instrumente beskikbaar in hul studieveld, en by die Universiteit van Gent oor hoe nematodes gebruik kan word as bio-indikatore van grondgesondheid. Hulle sal ook kan inskakel op werkwinkels en verwante seminare.

“Die US is tans die enigste universiteit in Sub-Sahara Afrika wat reeds 'n voorgraadse module oor nematodes aanbied," vertel prof. Malan.

Nematologie aan die Universiteit Stellenbosch is reeds in 1973 deur prof. Albertus J Meyer ingestel. Onlangs is 'n nuwe entomopatogeniese nematode-spesie van Suid-Afrika beskryf en Steinernema bertusi genoem te ere van prof Meyer, of 'Bertus' soos hy algemeen bekend gestaan het.

Kundiges aan die US is daarom ideaal geplaas om personeel van ander Afrika-universiteite op te lei oor veral entomopatogeniese nematodes wat gebruik kan word as biobeheer-agente teen landbouplae, en om van hulp te wees in die ontwikkeling van relevante voorgraadse en nagraadse modules aan hierdie instelling. Die projek fokus op die uitbreiding van die kapasiteit van akademiese en tegniese personeel deur die verskaffing van kort studiereise en gespesialiseerde opleiding.

NEMEDUSSA beoog om die samewerking tussen nematoloë in Sub-Sahara Afrika te bevorder deur netwerk-instrumente, werkwinkels oor relevante onderwerpe in nematologie en die deel van goeie praktyke in opvoeding en die bevordering van samewerking. Die opleiding van personeel sal 'n sleutelaspek van hierdie aktiwiteite wees.

US-kundiges sal ook help om die Nematologie Digitale Leer-platform (NDLP), 'n oop toegang e-leerportaal wat deur die Universiteit van Gent geskep is in 2017, verder te ontwikkel en konsolideer. Dit fasiliteer globale toegang tot opleidingsinhoud relevant vir nematologie in die landbou in die mins ontwikkelde ekonomieë.

“Gemeet teen die potensiële impak van plant-parasitiese nematodes op landbou, is publieke bewustheid en begrip van die impak van nematodes op die landbou die afgelope dekade haas onveranderd," sê prof Malan. “Nematologie as 'n erkende studieveld moet ernstige opgeneem word saam met ander plantgesondheid-dissiplines. Die belang van plantparasitiese nematodes word egter steeds oor die hoof gesien in die landbou, en inligting wat aan die industrieë en kleinboere gekommunikeer word is onvoldoende en benodig dringend aandag." 

  • Die instellings wat deel is van die konsortium, gelei deur die Universiteit van Gent in België, is: Universiteit van Abomey-Calavi en die Universiteit van Parakou in Benin, Haramaya Universiteit en Jimma Universiteit in Ethiopië, Kenyatta Universiteit en Moi Universiteit in Kenia, Ahmadu-Bello Universiteit en die Universiteit van Ibadan in Nigerië, Noord-Wes Universiteit en Universiteit Stellenbosch in Suid-Afrika, Makerere Universiteit en Muni Universiteit in Uganda, en die Universiteit van die Côte d'Azur in Frankryk.

​Vir meer inligting, besoek http://www.sun.ac.za/english/faculty/agri/conservation-ecology/collaborations