Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Wêreldvlugtelingdag: Vlugtelinge, asielsoekers in SA sukkel om te studeer
Outeur: ​Callixte Kavuro
Gepubliseer: 21/06/2021

Sondag (20 Junie) was Wêreldvlugtelingdag. In ʼn meningsartikel vir Daily Maverick (18 Junie) doen dr Callixte Kavuro van die Departement Publiekreg ʼn beroep op die Suid-Afrikaanse regering om vlugtelinge en asielsoekers wat graag wil studeer finansieel te ondersteun.

  • Lees die gedeeltelik vertaalde weergawe van die artikel hieronder.

Callixte Kavuro*

Die Suid-Afrikaanse regering stel nie geld vir hoër onderwys aan vlugtelingstudente beskikbaar nie, maar behandel hulle as internasionale studente. Dit benadeel vlugtelinge en asielsoekers wat nie die vermoë het om self vir onderwys en opleiding te betaal nie en sluit hulle uit om vir beurse en die vermindering van gelde in aanmerking te kom. 

Vrae ontstaan oor of die Suid-Afrikaanse regering 'n verantwoordelikheid het om vlugtelinge en asielsoekers op te lei, of hulle toegang tot hoër onderwys moet hê en indien hulle kan, of hulle dit op hul eie koste of met behulp van staatsondersteuning moet doen.

Vlugtelinge en asielsoekers sukkel tans om toegang tot studiebeurse en lenings te kry wat vir finansieel behoeftige studente bedoel is. Die probleem om toegang tot hierdie gelde te kry, lê hoofsaaklik by die klassifisering van vlugtelingstudente as “internasionale studente". Met die oog op Wêreldvlugtelingdag wat 20 Junie gedenk is, verdien die kwessie om van nader bekyk te word.

Die klassifisering van internasionale studente spruit uit internasionale vlugtelingwetgewing, en spesifiek die Konvensie rakende die Status van Vlugteling van 1951 (die 1951-Vlugtelingkonvensie). Hierdie konvensie bepaal dat staatspartye verplig is om vlugtelinge gunstig te behandel ten opsigte van tersiêre onderrig, en veral rakende toegang tot studie, die toekenning van beurse en die vermindering of kwytskelding van kostes. Hierdie bepaling bepaal dus die standaard van behandeling waarteen nasionale regerings se behandeling van vlugtelinge en asielsoekers gemeet of beoordeel moet word. 

Ongelukkig is daar twee tekortkominge in hierdie internasionale standaard: Eerstens wil dit voorkom of dit tersiêre opleiding tot vlugtelinge beperk en asielsoekers uitsluit. Tweedens gee dit aan vlugtelinge dieselfde of gelyke behandeling as wat internasionale studente ontvang. 

Wat hoër onderwys aan betref, verhinder gelyke behandeling die gedifferensieerde en spesiale ondersteuning wat aan vlugtelinge en asielsoekers gebied moet word.

Lees hier wat *dr Callixte Kavuro, 'n postdoktorale genoot in die Departement Publiekreg aan die Universiteit Stellenbosch, verder hieroor sê.