Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Universiteite kernrolspelers “om die Afrika van die toekoms te herbedink"
Outeur: Daniel Bugan
Gepubliseer: 21/06/2021

​Die Universiteit Stellenbosch (US) het onlangs die stigtingsberaad van die Afrikastudenteleiersnetwerk (ASLN) aangebied om goeie oorsigbestuur en etiek onder studenteleiers aan te moedig.

Die twee dae lange aanlyn-beraad het akademici, personeellede en studente van die US met eweknieë van ander Afrika-universiteite verbind om leierskapskwessies op die vasteland, onder meer leiers se reaksie op COVID-19, te bespreek, en samewerking onder studenteleiers aan te moedig om na eg Afrika-oplossings vir hulle uitdagings te soek. Die oorhoofse doel van die geleentheid was om die ASLN se werk met Agenda 2063 van die Afrika-unie te versoen.

Prof Deresh Ramjugernath, die US se Viserektor: Leer en Onderrig, het in sy inleidende opmerkings gesê “universiteite, en in die besonder ons studenteleiers, het 'n kernrol om verantwoordelikheid daarvoor te aanvaar om die Afrika van die toekoms te herbedink", veral in die lig van die drastiese verskuiwings wat COVID-19 in die hoër onderwys meegebring het.

Universiteite en studenteleiers se reaksie op die pandemie was een van die hoofbesprekingspunte op die agenda. Prof Folasade Ogunsola, professor in Geneeskundige Mikrobiologie en voorsitter van die Afrika-infeksiebeheernetwerk aan die Universiteit van Lagos, het die eerste dag se verrigtinge geopen deur die lesse uit te lig wat die Afrika-hoëronderwyssektor en die wêreldgemeenskap uit COVID-19 geleer het. “As gevolg van sosiale distansiëring het ons vaardiger geword in die aanlyn ruimte," het sy gesê. “Niemand was tot 'n spesifieke plek beperk nie, en universiteite het 'n groter reikwydte en meer toegang tot studente gehad. Dít hou nou ook die potensiaal in om voortaan studente se toegang tot meer diverse fakulteite, sowel nasionaal as internasionaal, uit te brei. Dit sal al hoe makliker word om van enige plek ter wêreld vir lesings in te skakel.

“Meer Afrikalande het hulle digitale vermoëns verskerp namate die pandemie die oorgang na die digitale era bespoedig het. Baie bied nou aanlyn kursusse aan, en die gebruik van virtuele platforms het ons internasionale netwerke uitgebrei." Ogunsola het gesê universiteite behoort dus meer doelbewus te beplan om tegnologie te gebruik vir pedagogie, vir produktiwiteitsverbeteringe én vir die ontwikkeling van kritiese denkvaardighede by studente.

COVID-19 het boonop getoon dat daar 'n behoefte is aan finansiering om hoëronderwysinstellings in die toekoms soortgelyke krisisse te help hanteer. “Dit het noodsaaklik geword om nuwe geldstrome te hê, sowel as reserwes wat opsygesit kan word vir verskynsels soos COVID-19. Regerings moet deel wees van dié oplossing," het Ogunsola gesê.

Prof Hester Klopper, die US se Viserektor: Strategie en Internasionalisering, en Xola Njengele, die US se Studenteraadsvoorsitter, was onder die paneellede wat gesels het oor die kompleksiteite en geleenthede wat die virus in die hoër onderwys en die groter samelewing in Afrika geskep het.

Prof Klopper het aan deelnemers verduidelik hoe die US by die uitbreking van die pandemie onverwyld na aanlyn-onderrig oorgeskakel het. “Maar toe die inperking 'n werklikheid word, het ons besef dat nie alle studente toegang tot tegnologie en data het nie," het sy gesê. “Ons het studente so ver moontlik van skootrekenaars en data voorsien sodat hulle by aanlyn-klasse kon inskakel. Ons oorhoofse doel was om te sorg dat ons studente die nodige steun ontvang om die akademiese jaar 2020 suksesvol te voltooi, en dít het ons reggekry. Volgens ons syfers het ons die US se vorige kwalifikasierekord oortref deur vir die jaar 2020 altesaam 9 234 kwalifikasies toe te ken."

Njengele het beaam dat die US se klem op die voorsiening en verbetering van aanlyn-leertegnologieë aansienlik tot studente se akademiese sukses bygedra het. “Studente het nou voltyds toegang gehad tot leermateriaal, want die meeste lesings kon opgeneem en op die aanlyn-platform gelaai word. Dít het veral goed te pas gekom waar studente met werk gesukkel het, want hulle kon die lesings herhaaldelik deurwerk." Nietemin was die skielike oorskakeling na aanlyn leer, en die daaglikse besluite wat studenteleiers moes neem om te sorg dat geen student agterbly nie, 'n unieke en soms ook uitdagende ervaring, het hy gesê.

Ander temas waaroor deelnemers beraadslaag het, het ingesluit beste praktyke vir studentebestuur in die moderne era, die digitale kloof, en studentesienings oor die rol van die Afrika-unie om ná COVID-19 studenteleierskap op die vasteland te bevorder.​