Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Nuwe hoof van Kerngeneeskunde soek oplossings wat Suid-Afrikaners bevoordeel
Outeur: FMHS Marketing & Communications / FGGW Bemarking & Kommunikasie – Sue Segar
Gepubliseer: 17/06/2021

​Vyf-en-twintig jaar nadat professor James Warwick as junior kliniese assistent by die Afdeling Kerngeneeskunde begin het, is hy aangestel as die nuwe hoof van die afdeling – ʼn bevordering wat hy as ʼn “opwindende volgende stap" in sy loopbaan beskryf. 

In ʼn onderhoud het Warwick gesê dat een van sy hoofdoelwitte in hierdie nuwe posisie is om te verseker dat die navorsing wat uit die afdeling kom oplossings moet bied wat toepaslik is in die Suid-Afrikaanse konteks en die man op die straat sal bevoordeel.

“Ek staan nou voor ʼn stel uitdagings in terme van waar ons strategies heen op pad is as ʼn afdeling en die bestuur van ʼn talentvolle, interessante en diverse groep mense. Ek sien baie uit daarna. Dit is iets heeltemal nuuts," het hy gesê.

Warwick is gebore en getoë in Kaapstad en het sy mediese graad by die Universiteit van Kaapstad voltooi. Daarna het hy sy nagraadse- en spesialisopleiding by die Universiteit Stellenbosch ontvang.

“Met die uitsondering van ʼn kort genootskap in België nadat ek gespesialiseer het, het ek hier die leer geklim van ʼn junior tot ʼn senior spesialis," het hy gesê.

Oor sy toekomsplanne vir die afdeling het Warwick die volgende gesê: “By die Tygerberg-hospitaal, asook by die fakulteit, het ons twee of drie breë areas van verantwoordelikheid. Aan die een kant het ons die verantwoordelikheid om opleiding te bied en navorsing te doen, maar ons is ook verantwoordelik vir dienslewering en bied ons kliniese dienste aan openbare- asook private pasiënte by die hospitaal.

“Die doelwit is altyd om daardie twee bymekaar uit te bring sodat die kliniese navorsing wat ons doen relevant is, en ʼn impak het op hoe ons die pasiënte wat na ons verwys word behandel en bestuur.

“Terwyl dit belangrik is om na nuwe opwindende tegnologieë of molekules en ander areas van navorsing te kyk, is my voorneme om te verseker dat ons navorsing ons gemeenskappe dien. Vir my gaan dit nie net daaroor om artikels te publiseer nie, maar om te verseker dat navorsing oorgedra kan word tot nuwe moontlikhede wat gepas is vir ons konteks en beskikbaar is aan ons pasiënte. Dit is waaroor dit vir my gaan.

“Ons is ʼn Suid-Afrikaanse afdeling, wat in ʼn middelinkomste-land met beperkte hulpbronne werk. Dit is belangrik dat ons nie net oplossings uit Europa en die Verenigde State kopieer nie. Ons moet navorsing doen wat daarop gemik is om praktiese oplossings te vind wat ons met ons beperkte hulpbronne kan toepas.

Warwick het gesê dat kerngeneeskunde ʼn belangrike rol speel in gesondheidsorg, en het meestal te doen met die bestuur van pasiënte as ʼn ondersteuningsdissipline.

“Dit gee leiding aan kollegas in velde soos straling, onkologie en hematologie. Ons fokus nie net op kanker nie, ons lewer ook ʼn bydrae in die behandeling van ʼn uiteenlopende stel toestande, insluitende nier- en hartsiektes, infeksies, ens. Ons werk gewoonlik in ʼn ondersteunende rol en verskaf diagnostiese inligting wat help met die behandeling van pasiënte, en daar is ook ʼn paar nisareas waar ons die dokters is wat behandeling bied, byvoorbeeld by skildkliersiektes en sekere kankers.

Warwick het gesê dat voorgraadse studente beperkte blootstelling aan kerngeneeskunde het aangesien die opleidingsprogramme meer fokus op groter, en meer bekende dissiplines.

“Baie mediese studente besef eers die bydrae wat hierdie dissipline maak wanneer hulle in meer spesialisvelde begin werk.

“Dit is opvallend in die kort tydperk wat ek afdelingshoof was, dat daar ʼn enorme belangstelling in hierdie spesialisarea is en ons het ʼn aantal hoogsgekwalifiseerde kandidate wat daarin belangstel om by ons opleidingsprogram aan te sluit. Hierdie studente kom nie net van Stellenbosch af nie, maar van ander universiteite ook."

Nieteenstaande Warwick uitsien na hierdie veeleisende nuwe rol, het hy onlangs by die Bergklub aangesluit, en het hy gesê dat hy graag soveel tyd as moontlik in die berge wil deurbring.

Foto-erkenning: Damien Schumann