Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Twee topstudente deel Fakulteit Natuurwetenskappe se dekaansmedalje
Outeur: Media & Communication, Faculty of Science
Gepubliseer: 15/06/2021

Die Fakulteit Natuurwetenskappe se 2019 dekaansmedalje vir volgehoue uitstekende akademiese prestasie word gedeel deur mnr. Fred de Villiers, 'n nagraadse student in toegepaste wiskunde, en me. Emma King, 'n nagraadse student in kwantumfisika.

Die medalje wat in soliede silwer geset is, word jaarliks toegeken aan 'n honneursstudent wat die hoogste gemiddelde persentasie oor beide die BSc- en die BSc- honneursprogram behaal het. Emma het 'n gemiddelde persentasie van 87,18% behaal met onderskeidings in 36 van haar 40 vakke. Fred het 'n gemiddeld van 87,75% behaal met onderskeidings in 34 van sy totale 37 vakke.

Prof Louise Warnich, Dekaan van die Fakulteit Natuurwetenskappe, sê alhoewel die Fakulteit gewoonlik slegs een medalje toeken, moes ons 'n uitsondering maak vir hierdie twee uitsonderlike studente. By die oorhandiging van die medaljes op Woensdag 9 Junie, het sy ook aan elkeen 'n kopie van die Fakulteit Natuurwetenskappe se eeufeesboek, 'n Besonderse denkwyse. Universiteit Stellenbosch, Fakulteit Natuurwetenskappe, 1918-2018, oorhandig.

Fred, wat in Pretoria grootgeword het, sê 'n onkonvensionele beroeps- en studiepad het hom geleer watter tipe probleme hy van hou om op te los. Hy het matriek as 'n deeltydse kandidaat geskryf en wiskunde gedruip met die eerste probeerslag. Voordat hy vir 'n BSc-graad in toegepaste wiskunde ingeskryf het, het hy in 'n hospitaal se ongevalle- en noodeenheid as klerk gewerk: “Die eienaar van die praktyk het my baie geleenthede gebied om nuwe vaardighede aan te leer en nuwe verantwoordelikhede op te neem. 'n Paar jaar later het ons selfs 'n klein maatskappy  saam begin wat praktykbestuursdienste aan ander mediese praktyke gebied het."

“My gunstelingprojekte was dié waar ek eenvoudige wiskundige en statistiese modelle moes ontwikkel ten einde ons besigheidsprosesse te verbeter om ons pasiënte meer effektief te kon help. Gelukkig kon ek my graadstudie betaal deur aan te hou om saans en tussen klasse deeltyds van die huis af te werk."

Hy sê die werkservaring het beteken dat hy die verband kon insien tussen teoretiese konsepte wat hy in die klas geleer het en die konkrete probleme waarmee hy in die praktyk gekonfronteer is: “Deur bewus te wees van die direkte relevansie van my kursusse, was dit makliker  om die inhoud te verwerk en gemotiveerd te bly."

Sy navorsing fokus tans op 'n area van masjienleer wat bekend staan as versterkingsleer: “Dit is 'n rekenaarbenadering waarin 'n outonome agent leer om take uit te voer deur sy interaksie met die omgewing. Anders as by leer onder toesig, leer die agent uit sy eie ervaring sonder die hulp van gemerkte voorbeelde of ekspert domeinkennis. My navorsing verken hoe meer gesofistikeerde interne verteenwoordigings wat prosesse soos nuuskierigheid en geheue naboots, die agent kan help om meer suksesvol in onbekende omgewings te wees (wat nog nie voorheen gesien is nie)," verduidelik hy.

Emma het in Kaapstad grootgeword en in 2015 aan Elkanah House High School gematrikuleer. Alhoewel sy aanvanklik vir 'n BSc-graad in wiskundige wetenskappe ingeskryf het, het fisika haar teen die einde van haar tweede jaar meer begin interesseer: “Op daardie tydstip was daar nie 'n spesifieke aspek van fisika wat my die meeste interesseer het nie. Dit was meer 'n geval van ek wat al hoe meer belang gestel het in die vele onontginde vrae en gefassineer is deur die feit dat eenvoudige en elegante teorieë gebruik kon word om komplekse natuurlike verskynsels te beskryf. En die fisika-dosente het my ook geïnspireer."

Haar navorsing in teoretiese fisika fokus op die effek wat temperatuurvariasies het op die dinamika van oop kwantumstelsels in die nabyheid van kwantumkritieke punte. Hierdie werk kan relevant wees vir toepassings soos adiabatiese kwantumberekening.

Emma is ook betrokke by sendingwerk en hoop om eendag haar vaardighede en kundigheid te gebruik om tersiêre onderwys in Afrika te bevorder.