Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Eerste konsep en reaksieverslag dien in Junie by Senaat en Raad
Outeur: Corporate Communication and Marketing Division / Afdeling Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking
Gepubliseer: 11/06/2021

Die eerste konsep van die Universiteit Stellenbosch (US) se hersiene Taalbeleid (2016) en die reaksieverslag van al die insette wat gedurende die eerste openbare deelname ontvang is, word op 21 Junie 2021 by die geskeduleerde Universiteitsraadsvergadering vir kommentaar voorgelê. Albei dokumente het ook vroeg in Junie by die Senaatsvergadering gedien. Intussen is die interne konsultasie met verskillende belangegroepe, onder meer die Institusionele Forum, die Studenteraad en fakulteitsrade ook voortgesit.

Prof Deresh Ramjugernath, Viserektor: Leer en Onderrig, en eienaar van die US se Taalbeleid (2016), het sy waardering uitgespreek vir elke respondent se insette, veral vir die tyd en moeite wat aan die kommentaar afgestaan is. Altesaam 330 voorleggings is ontvang: 116 op www.sun.ac.za/language en 214 op www.sun.ac.za/taal. Die eerste konsep van die hersiene taalbeleid het 'n wye verskeidenheid kommentaar ontlok, waaronder instemming, voorstelle vir verandering, en lof. Die meeste respondente het gekies om konstruktiewe veranderinge aan net enkele bepalings van die eerste konsep voor te stel. Sommige respondente het op elke paragraaf kommentaar gelewer, terwyl ander weer hulle terugvoer tot die afdeling vir algemene kommentaar beperk het.

“Ek wil graag ons kollegas en studente wat aan die interne konsultasie deelneem, hartlik bedank," het prof Ramjugernath gesê. “Die taakspan sien ook uit na die insette van die Raad."

Die US het belangstellendes genooi om om van 20 Maart tot 12 April 2021 kommentaar te lewer op die eerste konsep van die hersiene taalbeleid. Die Universiteit het vroeër vanjaar aangekondig dat sy Taalbeleid (2016) in 2021 hersien word as deel van die hersieningsiklus van vyf jaar wat deur dié beleid voorgeskryf word. Paragraaf 10 van die Taalbeleid (2016) bepaal in dié verband dat die Beleid “vyf jaar ná die implementeringsdatum daarvan" verval en “gedurende sy vyfde geldigheidsjaar" hersien moet word. Die huidige beleid is in 2017 geïmplimenteer. 

Aangesien die Konstitusionele Hof in 2019 bevind het dat die Taalbeleid (2016) grondwetlik geregverdig is, en dat die Universiteit se proses om die Beleid te aanvaar “deeglik, uitvoerig, inklusief en behoorlik beraadslagend" was, het die taakgroep die huidige Taalbeleid (2016) as uitgangspunt gebruik om die eerste konsep van die hersiene beleid met die oog op openbare deelname op te stel.

Tweede konsep einde Julie 2021 bekend gestel

Die taakspan sal voortgaan om die tweede konsep van die hersiene Taalbeleid (2016) saam te stel na deeglike oorweging van al die insette wat via die eerste openbare deelname en die konsultasie met interne groepe en statutêre liggame ontvang is. Alle insette sal oorweeg word, maar dit sal nie moontlik wees om alle kommentaar in die tweede konsep van die hersiene Taalbeleid (2016) in te sluit nie. Die tweede konsep sal vir die tweede openbare deelname teen die einde van Julie 2021 bekend gestel word. Die tweede konsep van die hersiene Taalbeleid (2016) en die verwante reaksieverslag sal by die geskeduleerde vergaderings van die Senaat en die Raad in September vir kommentaar voorgelê word.

Die hersiening word verder gelei deur onder meer die US se Visie 2040 en Strategiese Raamwerk 2019–2024 wat aanvaar en geïmplementeer is nadat die Taalbeleid (2016) goedgekeur is, asook die Taalbeleidsraamwerk vir Openbare Hoëronderwysinstellings wat in gevolge artikel 27(2) van die Wet op Hoër Onderwys 1997 (Wet 101 van 1997, soos gewysig) bepaal is.

Volgens die Statuut van die US moet die US-raad die taalbeleid van die US bepaal met die instemming van die Senaat en in gevolge artikel 27(2) van die Wet op Hoër Onderwys, 1997 (Wet 101 van 1997, soos gewysig). Die hersieningsproses is in Oktober 2020 geïniseer deur 'n taakspan saam te roep en deur 'n tydsraamwerk gegrond op die Universiteitsalmanak vir 2021 op te stel. Die doelwit is om op 2 Desember vanjaar 'n finale konsep van die Taalbeleid (2021) aan die Universiteitsraad vir goedkeuring voor te lê. ​