Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
#USjeugdag: 'Kap aan' sê US Koorlid Lauren Ramsay
Outeur: Sonika Lamprecht / Photo: Stefan Els
Gepubliseer: 10/06/2021

Lauren Ramsay, 'n finalejaarstudent in Musiekopvoeding, sê al voel alles soms te veel om te hanteer, is daar altyd 'n rede om aan te hou en deur te druk.

Gedurende Jeugmaand plaas ons die kollig op agt lede van die Universiteit Stellenbosch se koor – een uit elke stemgroep. Tesame met meer as 'n honderd ander lede uit diverse agtergronde, kulture en studierigtings, en onder die leiding van koorleier André van der Merwe, bekoor hulle gehore regoor die wêreld met hul eiesoortige klank.

Lauren het 'n tydjie afgeknyp om 'n paar vrae te beantwoord:

Vertel ons meer oor jouself, en hoe jy by die US Koor beland het.

Ek kom van Kaapstad en ek is ''n finalejaarstudent in Musiekopvoeding. My eerste ervaring van die Universiteit Stellenbosch Koor was in my eerste jaar. Ek het 'n etensuurkonsert bygewoon omdat ek wou sien waaroor al die bohaai rondom die koor gaan. Ek onthou hoe ek in trane gesit en luister het na die koor se verwerking van “Angel by the Wings". Ná daardie konsert het ek 'n belofte aan myself gemaak dat kom wat wil, ek in die koor sou sing voordat ek graad kry. 'n Paar maande later het ek my oudisie-video ingestuur en is ek aanvaar as 'n eerste alt.

Wat geniet jy die meeste van die koor?

My gunstelingding daarvan om in die koor te wees, is eerstens die verskeidenheid musiek waaraan ons blootgestel word, en tweedens die mense. Dit is ongelooflik om deel te wees van so 'n diverse span wat almal 'n gedeelde doelwit het om magic met musiek te maak.

Met die oog op Jeugdag, wat is jou boodskap van hoop vir ander jongmense?

My boodskap aan ander jongmense is 'hou aan' (of in geselstaal, kap aan). Al is die wêreld soms mal en deurmekaar, en al voel dit soms asof alles te veel is om te hanteer, is daar altyd 'n rede om deur te druk. Jy moet net die liggie aan die einde van die tonnel vind om selfs die donkerste dae 'n bietjie makliker te maak.

Wat is jou gunstelinglied op die oomblik?

My gunstelinglied op die oomblik is “Conversations in the Dark" deur John Legend.