Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
#USjeugdag: ‘Werk saam, moenie meeding nie’
Outeur: Sonika Lamprecht / Photo: Stefan Els
Gepubliseer: 09/06/2021

Tré Delange, 'n finalejaar BCom Wiskundige Wetenskappe-student, voel sterk dat die jeug te dikwels met mekaar meeding, terwyl hulle eerder 'n kultuur van samewerking moet vestig. “Die koor is 'n bewys daarvan dat ons saam beter is."

Gedurende Jeugmaand plaas ons die kollig op agt lede van die Universiteit Stellenbosch Koor – een uit elke stemgroep. Tesame met meer as 'n honderd ander lede uit diverse agtergronde, kulture en studierigtings, en onder die leiding van koorleier André van der Merwe, bekoor hulle gehore regoor die wêreld met hul eiesoortige klank.

Tré het 'n tydjie afgeknyp en 'n paar vrae beantwoord:

Vertel ons meer oor jouself, en hoe jy by die US Koor beland het.

My naam is Tré Juan Delange, ek is 21 jaar oud en kom van Pietermaritzburg in KwaZulu-mediaplatform met beide nasionale en internasionale handelsmerke saam te werk. Ek is besig met my finalejaar in BCom Wiskundige Wetenskappe, met hoofvakke in Operasionele Navorsing, Natal. Ek is passievol oor musiek, kuns, mode en visuele media. Ek werk as 'n digitale-inhoudskepper – wat my in die bevoorregte posisie geplaas het om deur middel van my sosialemediaplatform met beide nasionale en internasionale handelsmerke saam te werk. Ek is besig met my finalejaarstudie in BCom Wiskundige Wetenskappe, met hoofvakke in Operasionele Navorsing, Besigheidsanalitiek en Wiskundige Statistiek.

Ek was nog altyd bewus van die prestigeryke Universiteit Stellenbosch Koor en dit was een van die redes waarom ek besluit het om by die US te kom studeer. Ek het egter eers aan die einde van my tweede jaar, in 2019, 'n oudisie gedoen, grootliks omdat ek getwyfel het of ek goed genoeg sou wees om 'n plek in die koor te kry. Nodeloos om te sê – ek was verkeerd, want my oudisie het baie goed afgeloop en André het my dieselfde dag nog laat weet dat ek aanvaar is. Dit was 'n onwerklike gevoel, een wat ek nie sommer sal vergeet nie. In daardie stadium het ek 'n paar vriende in die koor gehad wat my aangemoedig het om vir die oudisie te gaan, en ek kan hulle nie genoeg bedank nie. Ek is nou 'n trotse eerste bas in die US Koor!

Wat geniet jy die meeste van die koor?

My gunstelingding van die koor is die feit dat dit so 'n veilige en verwelkomende omgewing is. Dit is 'n plek waar mense mekaar aanvaar, en terselfdertyd onbeskaamd hulself is. Ek voel dit is so kontrasterend met dít wat baie van ons daagliks in die wêreld beleef – daar is geen veroordeling, vooroordele en diskriminasie in die koor nie. Dit is net 'n groep jong volwassenes wat bymekaarkom, ongeag ons verskillende agtergronde, geskiedenisse en kulture, om iets te skep wat so mooi en inspirerend is. Die koor bied vir my 'n gevoel van familie en gemeenskap.

Met die oog op Jeugdag, wat is jou boodskap van hoop vir ander jongmense?

My boodskap aan die jeug is dít: Werk saam, moenie meeding nie. Ek dink ons is te gereeld onder die indruk dat ons alles op ons eie moet doen ten einde erkenning te gee aan ons persoonlike worstelinge, of om te voel asof ons iets bereik het. Ek sal graag daardie wanpersepsie uit die weg wil ruim. Die koor is 'n sprekende voorbeeld daarvan dat ons saam beter is. Kom ons probeer om dit die norm te maak om mekaar te help, en saam 'n veiliger en meer inklusiewe gemeenskap te bou. Die toekoms is in ons hande.

Wat is jou gunstelinglied op die oomblik?

​Dit is moeilik vir my om net een lied uit te sonder, want ek hou van 'n wye verskeidenheid musiek, kunstenaars en genres. Tog is daar 'n paar liedjies wat eervolle vermelding verdien en gereeld op my speellyste opduik: “Wait a minute" deur Willow, “Why Don't You" deur Cleo Sol, “Pink + White" deur Frank Ocean, “Supermodel" deur SZA, en “Sandstorm" deur Mereba. As jy enige van hierdie liedjies nie ken nie, beveel ek sterk aan dat jy daarna gaan luister.