Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
'Ek bring u graag op hoogte' – prof Wim de Villiers
Outeur: Prof Wim de Villiers
Gepubliseer: 09/06/2021

8 Junie 2021

Beste lid van die US-gemeenskap

Ek wil u graag persoonlik op hoogte bring van ons onlangse verskyning voor die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAMRK).

Nadat hulle klagtes van die Vryheidsfront Plus en die Demokraties Alliansie ontvang het oor 'n beweerde verbod op die gebruik van Afrikaans aan die Universtiteit Stellenbosch (US), het die SAMRK op 10 Mei 2021 'n verhoor by STIAS gehou.

My volledige verklaring daardie dag is hier te kry, maar die hooftrekke volg hieronder.

Die probleem het aan die begin van die akademiese jaar in Maart ontstaan toe studenteleiers nuwelingeerstejaars in die koshuis blykbaar versoek het om slegs Engels te gebruik om seker te maak dat almal toegang tot noodsaaklike inligting het.

In 'n komplekse omgewing soos 'n groot universiteit is dit gewis so dat foute kan plaasvind. Indien nuwelingstudente inderdaad gevra is om in sosiale verband by Engels te hou, sou dit verkeerd wees, want dit is nie ons beleid nie. Inteendeel, ons Taalbeleid (www.sun.ac.za/taal) bevorder meertaligheid en hou rekening met die diversiteit van ons samelewing sowel as die intellektuele rykdom wat in daardie diversiteit opgesluit lê.

So, toe die bewerings aan die lig kom, het ons dit vinnig begin ondersoek. En ons het onverwyld regstellend opgetree. Ons het deur ons Afdeling Studentesake met studenteleiers en studente in koshuise in gesprek getree om 'n gemeenskaplike begrip van die Taalbeleid en die implementering daarvan te verseker.

Kom ek stel dit baie duidelik: Daar is geen verbod op Afrikaans by die US nie – nie in lesinglokale, in koshuise of op enige ander plek op kampus nie. Die US is 'n nasionale bate. Ons is trots op ons bydrae tot menslike ontwikkeling, en is oortuig dat ons studente meer keuses, groter toegang en 'n beter toekoms het danksy ons benadering tot taal.

Ek onderneem om u op hoogte te hou van die saak, en ons sal u van nuwe ontwikkelings in kennis stel namate die proses ontvou. Boonop is ek, soos altyd, beskikbaar vir verdere gesprek.

Kom ek sluit af met goeie nuus. Dit is vir ons aangenaam om verslag te doen dat die US sy eie rekord verbeter het vir die meeste kwalifikasies wat tot nog toe in 'n akademiese jaar by die instelling toegeken is. Volgens die jongste syfers het die Universiteit in 2020 altesaam 9 234 grade, sertifikate en diplomas verleen – en daarmee die vorige jaar se rekord van 9 133 kwalifikasies gebreek. (Klik hier vir meer hieroor.)

Dít is 'n merkwaardige prestasie as 'n mens in ag neem hoeveel uitdagings die COVID-19-pandemie ingehou het. Dit spreek boekdele vir die US se vermoë om aanpasbaar te wees én vir ons personeellede en studente se skrik-vir-niks-ingesteldheid.

Ons sou dit nie kon doen sonder u onderskraging en aanmoediging nie. Dankie vir u voortgesette steun.

Kom ons beweeg nou saam vorentoe, forward together, sonke siya phambili!

Prof Wim de Villiers
Rektor en Visekanselier
Universiteit Stellenbosch