Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Wêreldoseanedag: Ons moet ons oseane koester en bewaar
Outeur: Sophie von der Heyden
Gepubliseer: 09/06/2021

Dinsdag 8 Junie was Wêreldoseanedag. In ʼn meningsartikel vir News24 skryf prof Sophie von der Heyden (Departement Plant- en Dierkunde) dat ons die oseane nou meer as ooit moet koester en bewaar want daarsonder sal daar geen lewe wees nie.

  • Lees die gedeeltelik vertaalde weergawe van die artikel hier onder.

Wêreldoseanedag: Ons moet ons oseane koester en bewaar

Sophie von der Heyden*

Daar was 'n kollektiewe snak na asem, gevolg deur ongeloof toe president Cyril Ramaphosa in Desember 2020 die sluiting van strande aangekondig het as 'n voorkomende maatreël teen COVID-19. Dit het baie Suid-Afrikaners diep geraak vir wie Kersfees en Nuwejaar ook sinoniem met die strand is – 'n tyd om hul voete in die sand te steek, om die vars lug in te asem en om in die oseaan af te koel. Die oseane verryk baie mense se lewens vir meer as net 'n besoek aan die strand, dog is daar nog soveel wat ons nie van die wêreld se oseane, veral die dieper en meer afgeleë dele, verstaan nie.

Die kusstreke van Suid-Afrika het een van die uiteenlopendste versamelings seestroom- en temperatuurpatrone wat strek van die koue oseaan van die Weskus tot by die warmer waters van die Ooskus bo-oor twee oseaankomme, die Atlantiese en die Indiese oseane. Só 'n samekoms van twee groot oseaanstelsels kom nêrens elders op aarde voor nie en is die teelaarde vir 'n ongelooflike diversiteit van plante en diere, waarvan baie net aan ons kuslyn gevind kan word. 

Tot op hede is meer as 12 000 spesies van die streek reeds beskryf, met baie daarvan wat net in Suid-Afrika voorkom. Daar is baie verskillende tipes habitats langs die kuslyn van sowat 2 800 km, insluitende sand- en rotskuslyne, asook onderwater-seebamboeswoude, rotsbanke, seegraslande en wortelboomwoude. Elkeen van hierdie stelsels speel 'n belangrike rol om 'n diens te verskaf – nie net aan biodiversiteit nie, maar ook aan die mens. Dit sluit in klimaatsregulering, die absorbering van oormatige koolsuurgas uit die atmosfeer om dit dan by marineneerslae in te sluit, asook voedselverskaffing aan baie mense in die streek.

Daar is in Suid-Afrika verskeie vlakke van die oes van voedsel uit die oseaan, wat strek van bestaans- en kleinskaalse vissers tot uitgebreide handelsbedrywighede. Daar is na raming tussen 25 000 en 30 000 kleinskaalse vissers alleen en amper 500 000 ontspanningshengelaars. Hoewel dit na 'n klein gedeelte van die algemene bevolking mag lyk, onderhou baie van hierdie vissers uitgebreide families wat dikwels in gemeenskappe woon waar daar min werksgeleenthede of ander lewensonderhoudende bronne van inkomste is. 

Dit is teen hierdie agtergrond dat die tema van vanjaar se Wêreldoseanedag (8 Junie), The Ocean: Life and Livelihoods, so belangrik is. Dit vier die verbintenis tussen mense en die oseane. Volgens die Verenigde Nasies is die doel van Wêreldoseanedag om “die publiek in te lig oor die uitwerking van menslike aksies op die oseaan, om 'n wêreldwye beweging van burgers vir die oseaan aan die gang te sit en om die wêreldbevolking in 'n projek vir die volhoubare bestuur van die wêreld se oseane te mobiliseer en te verenig". Dit is uiters noodsaaklik om bewustheid te skep oor presies hoeveel marinestelsels deel van ons alledaagse lewe is, asook oor die waarde van die oseane om menslike welstand te verryk. Sonder ons oseane sal daar geen lewe wees nie.

As ons na die toekoms kyk en wanneer ons Wêreldoseane dag vier, is dit 'n geleë tyd om onsself van voor af met die wonders wat ons reg hier by ons het, te verbind en om die rykheid, skoonheid en selfs die dienste wat deur die marine-omgewing verskaf word en wat uniek aan Suid-Afrika is, te vier. 

Klik hier om die res van die artikel soos geplaas te lees.

*Sophie von der Heyden is medeprofessor in Marinegenomika en -bewaring in die departement Plant- en Dierkunde aan die Universiteit  Stellenbosch.