Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Onderwys moet 'konteks-resonerend en gepas vir die toekoms' wees om te hervorm
Outeur: Daniel Bugan
Gepubliseer: 08/06/2021

​Akademici en navorsers van regoor die wêreld het by 'n virtuele konferensie wat deur die Universiteit Stellenbosch (US) se Regstrust Leerstoel in Sosiale Geregtigheid aangebied is, koppe bymekaargesit om na te dink oor die uitdagings en geleenthede wat die onderwys en sosiale geregtigheid ondervind.

Die konferensie, wat op 3 Junie 2021 gehou is, was deel van die leerstoel se doel om vakkundigheid, bewustheid en samewerking oor sosiale geregtigheid te bevorder ten einde sosiale geregtigheid-hervorming in die akademie en samelewing te bespoedig.

Die tema van die konferensie was Social Justice and Education for the 21st Century: Towards a Decade of Equalising Opportunities and Optimising Social Justice Outcomes in and Through Education.

Prof Thuli Madonsela, bekleër van die Leerstoel in Sosiale Geregtigheid, het in haar openingstoespraak gesê die onderwys moet konteks-resonerend en gepas vir die toekoms wees om die hervormende krag daarvan te ontketen.

“In die 21ste eeu benodig ons kreatiwiteit en mense moet met masjiene meeding, en wat masjiene nie kan doen nie, moet verhewe bo die onderrig wat ons tot dusver gegee het, geskep word.

“Stem ons onderwys ooreen met die sosiale konteks, met ander woorde, reageer dit op die voorskrifte van ons eeu, insluitende die 4IR (Vierde Industriële Revolusie)? Resoneer ons onderwys tweedens met sosiale geregtigheid? Neem dit ons na daardie samelewing waar alle menseregte gelyk geniet word? En laastens, is dit volhoubaar ingevolge die Volhoubare Ontwikkelingsdoelwitte-bloudruk?"

Prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier, het in sy verwelkoming gesê die US is verbind tot die aanbied van onderrig wat op die dringende uitdagings van ons kontemporêre sosiale konteks reageer.

“Dit geld nie net vir sosiale geregtigheid nie. Ons strewe daarna om 'n leier op die gebied van datawetenskap, tegnologie, landbou en diens aan die vasteland van Afrika te wees. Ons onlangse inisiatiewe en navorsings bewys dit. Ons nuwe skool vir klimaatstudie is maar net een voorbeeld van ons verbintenis om op hedendaagse uitdagings te reageer."

Ford-stigting professor in die Praktyk van Internasionale Onderwys en direkteur van die Wêreldwye Onderwysinnovasie-inisiatief (Global Education Innovation Initiative) en die Internasionale Onderwysbeleidsprogram by Harvard-universiteit prof Fernando M Reimers was die geleentheidspreker.

Hy het gesê COVID-19 het 'n reusegaping in onderwysgeleenthede en ware uitdagings vir sosiale geregtigheid wêreldwyd laat onstaan. “Besnoeiings deur verminderde hulpmiddele vir beide gesinne en regerings was van die pandemie se vernaamste uitwerkings op die onderwys. Dit het veral arm gesinne kwesbaar gelaat. Daar is dus toenemende armoede, toenemende stres aangesien die koste daarvan om 'n kind skool toe te stuur, skielik gestyg het. Daardie armoede het ook ander stres in huishoudings veroorsaak waar daar nou 'n behoefte aan aanlyn hulpmiddele is. Dus het die verskuiwing van die plek van onderrig van die skool na die huis die manier waarop tuisvoordele en -nadele onderwysgeleenthede beïnvloed, op verskeie wyses vergroot."

Volgens Reimers is die beste manier om hierdie krisis te oorkom om die innovasiedividende wat so baie mense deur die verloop van die pandemie getoon het, aan te gryp.

“Gedurende die pandemie het ons gesien dat die sosiale ontwikkeling van kinders net so belangrik as ekonomiese ontwikkeling is. Ek dink ons verstaan nou beter dat ons studente net as volledige mense kan opvoed.

“Hierdie pandemie het ook ons waardering vir die krag van die wetenskap en tegnologie vergroot, want ons het nou entstowwe wat ons hoop gee dat die pandemie in bedwang gebring kan word. Ek hoop dus dat ons skole vorentoe die ontwikkeling en verstaan van die wetenskappe sal prioritiseer.

“Ek hoop daar sal ook groter begrip vir die groot digitale ongelykhede wees wat dit onmoontlik maak om digitaal en ekonomies aan die 21ste eeu deel te neem. Ek hoop ons sal in die toekoms alles in ons vermoë doen om nie iemand se skool met 'n aanlyn skool te vervang nie, maar om die gebruik van digitale behoeftes met onderwys in persoon te meng.

“COVID-19 het ook die geweldige krag van samewerking tussen die burgerlike samelewing en die regering en tussen ouers en onderwysers na vore gebring, waar samewerking kreatiwiteit en alternatiewe maniere om te onderrig, geskep het. So ek dink aan ons gaan in die toekoms 'n groter waardering vir die belangrikheid van vennootskappe sien."

Prof Nicola Smit, Dekaan van die Fakulteit Regsgeleerdheid aan die US, het gesê dit is ná amper 16 maande van die wêreldwye pandemie tyd om na te dink oor die uitwerking daarvan op onderwysgeleenthede.

“Ons moes gaan stilstaan en erken dat dekades se onderwysvordering en toegang tot gehalte-onderwys die afgelope jaar uitgewis is, veral vir die armes en diegene met beperkte behoeftes.

“Terwyl ons dus erken dat die pandemie 'n langdurige uitwerking gaan hê, moet ons ook erken dat sonder 'n beter en meer gelyke wêreldwye beskikbaarstelling van entstowwe, die pandemie se uitwerking reuse-uitdagings vir die onderwys gaan inhou, veral ten opsigte van besnoeiingsgevolge en ongelyke onderwysverliese regoor sosiale klasse."

Foto:*Image by Wokandapix from Pixabay