Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
​#USjeugdag: 'Saam kan ons die toekoms verander en vorm'
Outeur: Sonika Lamprecht / Photo: Stefan Els
Gepubliseer: 08/06/2021

Derdejaar musiekstudent Sinomtha Zake glo dat as die jeug saamspan en hul diverse vaardighede, talente en opvoeding gebruik, kan hulle die toekoms verander en dit vorm soos wat hulle dit graag wil hê.

Gedurende Jeugmaand plaas ons die kollig op agt lede van die Universiteit Stellenbosch (US) Koor – een uit elke stemgroep. Tesame met meer as 'n honderd ander lede uit diverse agtergronde, kulture en studierigtings, en onder die leiding van koorleier, André van der Merwe, bekoor hulle gehore regoor die wêreld met hul eiesoortige klank.

Sinomtha het 'n tydjie afgeknyp en 'n paar vrae beantwoord:

Vertel ons meer oor jouself, en hoe jy by die US Koor beland het.

Ek kom van Oos-Londen in die Oos-Kaap en ek het aan Hoërskool Clarendon vir meisies gematrikuleer. Ek studeer BA Musiek en is tans in my derdejaar.

Ek het verlede jaar by die koor aangesluit. Ek het nog altyd daarvan gedroom om in die US Koor te sing en was vasberade om in my eerste jaar al daarvan deel te wees. Maar ek het die oudisieproses en -datums in my matriekjaar heeltemal misgeloop. In 2020 het ek my eerste oudisie geslaag – 'n prestasie wat ek vir baie lank nog sal koester. 

Wat geniet jy die meeste van die koor?

Ek is mal daaroor om omring te wees deur 'n groep jongmense wat ongelooflik talentvol en vaardig is en wat 'n passie vir sang het. Ek hou daarvan dat ek gemaklik voel tussen hierdie mense – gemaklik genoeg om te leer en saam met hulle foute te maak; om die skanse wat ek in ander sosiale situasies sou ophou, te laat sak. Ek hou ook daarvan dat die musiek wat die Universiteitskoor sing, lewens regoor die wêreld aanraak, want ek glo dit is wat musiek moet te doen.

Met die oog op Jeugdag, wat is jou boodskap van hoop vir ander jongmense?

My boodskap van hoop vir die jeug is dat as ons saamwerk en ons diverse vaardighede, talente en opvoeding gebruik, ons die toekoms kan verander en omvorm tot dít wat ons graag wil hê dit moet wees. Baie van die probleme van ons tyd maak dit 'n baie moeilike tyd om in te leef, maar as ons hierdeur werk, en mekaar hierdeur help, gaan ons beslis 'n sprong in die regte rigting maak.

Wat is jou gunstelinglied op die oomblik?​

My gunstelinglied tans, waarmee ek elke oggend my dag begin, is Indlovu deur DJ Zinhle ft Loyiso.​