Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Veranderende omgewing vereis nuwe vaardighede van rekenmeesters en ouditeure
Outeur: Ronél Beukes & Riaan Rudman
Gepubliseer: 08/06/2021

“Die rekeningkundige en ouditeringslandskap is nie immuun teen nuwe tegnologie nie. Dis noodsaaklik dat rekenmeesters en ouditeurs hulself herposisioneer en hul vaardighede verbeter om steeds relevant in hul rolle te bly," sê prof Riaan Rudman van die US Skool vir Rekeningkunde en programleier van die graad MCom (Rekenaarouditering).


Die samelewing ondergaan tans wesenlike veranderings omdat tegnologie in die vierde industriële revolusie aanleiding gee tot 'n transformasie in ekonomiese en sosiale strukture. As gevolg hiervan, sê prof Rudman, vervaag die grense tussen digitale, fisiese en biologiese stelsels.

“'n Voorbeeld van drastiese verandering wat in die rekenmeestersberoep verwag word, is die gebruik van paneelborde en visualisering om verslag te doen oor inligting wat noodsaaklik vir besluitneming is. Ouditeurs moet op veranderings in die verslaggewingslandskap reageer deur hul gerusstellingsmodelle (assurance models) en -benaderings aan te pas en te verander."

Die US Skool vir Rekeningkunde het derhalwe 'n program ontwerp met die doel om die vaardigheidsgaping te oorbrug wat deur die huidige tegnologiese evolusie veroorsaak word. Dié program fokus op aspekte van gerusstelling (assurance) wat relevant is in 'n kuber-fisiese omgewing. Dit leer geoktrooieerde rekenmeesters en ouditeure die belangrikste beginsels wat hulle in staat sal stel om ouditering in hedendaagse organisasies te hersien, -oorweeg en -konseptualiseer.

Die program MCom (Rekenaarouditering) wat deur die Skool vir Rekeningkunde aangebied word, stel studente bloot aan tegniese aspekte in moderne inligtingstegnologie-omgewings ten einde rekenaarsekerheids- en -gerusstellingsbeginsels in die praktyk toe te pas. Studente word toegerus met konseptuele vaardighede om toekomstige tegnologieë en kwessies te hanteer, hetsy 'n rekeningkundige blokkettingstelsel of 'n aanpasbare paneelbord.

Die deeltydse program bestaan uit 'n gedoseerde komponent in die eerste studiejaar, asook die skryf van 'n kort proefskrif in die tweede jaar. Die program maak voorsiening vir aangesig-tot-aangesig lesings (in 'n lesingsaal), virtuele en bloklesings.