Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Watter kruieprodukte kan WERKLIK help met gewigsverlies?
Outeur: Hanél Sadie-Van Gijsen
Gepubliseer: 07/06/2021

Watter kruieprodukte kan werklik help met gewigsverlies? Dit is die vraag wat dr Hanél Sadie-Van Gijsen van die Sentrum vir Kardio-metaboliese Navorsing (CARMA) in die Afdeling Mediese Fisiologie probeer beantwoord het in ʼn onlangse artikel (4 Junie) vir Health24.

  • Lees die vertaalde weergawe van die artikel hier onder.

Hanél Sadie-Van Gijsen *

Daar is tans slegs vyf tipes geskeduleerde medikasie vir die behandeling van vetsug beskikbaar in Suid-Afrika, een as 'n inspuiting en vier in tablet-vorm. Hierdie medikasies is nogal duur en kan wettiglik slegs op voorskrif verkry word (maar kan natuurlik onwettig op die internet bestel word). Dit word ook meestal voorgeskryf vir individue met vetsug en ko-morbiditeite soos diabetes, met ander woorde mense wat dringend vir mediese redes moet gewig verloor. Alhoewel hierdie medikasies goedgekeur is deur die Amerikaanse Voedsel en Medisyne Administrasie (FDA), het hulle beduidende en onaangename newe-effekte.  Hierdie medikasies word dus nie gewoonlik beskikbaar gestel aan, óf verkies deur, dié van ons wat net belangstel in 'n eenvoudige maar suksesvolle manier om in laasjaar se klere terug te krimp nie. “Van-die-rak-af" kruieprodukte bied 'n aantreklike “natuurlike" alternatief, aangevuur deur aggressiewe bemarkingstrategieë van hierdie produkte, maar kan enige van hierdie gewigsverlies-beweringe ondersteun word deur werklike wetenskaplike bewyse?

Verlede jaar het 'n groep navorsers in Australië die enorme taak op hulself geneem om deur vier reusagtige aanlyn databasisse van mediese artikels te sif om al die plasebo-beheerde proewe wat die afgelope 20 jaar wêreldwyd op gewigsverlies-kruieprodukte uitgevoer is te identifiseer. Die resultate van al daardie proewe is toe gekombineer in een groot meta-analise. Die kruie waarop die meeste proewe uitgevoer is, was Camellia sinensis (groen tee), Garcinia cambogia, Phaseolus vulgaris (witboontjie-ekstrak) en Ephedra sinica (ook bekend as Chinese efedra of Ma Huang). In sewe kort-termyn proewe op groen tee, wat gewissel het van lae tot baie hoë dosisse groen tee en die aktiewe bestanddeel EGCG, kon geen voordeel vir gewigsverlies waargeneem word nie. In 'n verdere vyf proewe waar groen tee gekombineer is met ander aktiewe bestanddele, is 'n gemiddelde gewigsverlies van slegs 2 kg gemeet.

Elf proewe het getoon dat Garcinia cambogia nie op die kort termyn gewigsverlies kan aanhelp nie, nie op sy eie nie en ook nie in kombinasie met ander aktiewe bestanddele nie, en dieselfde is bevind in sewe proewe op witboontjie-ekstrak. Gegewe die wye spektrum van dosisse van hierdie kruie wat getoets is in die bogenoemde proewe, met teleurstellende resultate, is dit onwaarskynlik dat daar wel dosisse is wat effektief kan bydra tot gewigsverlies oor die kort termyn (1-3 maande). Dit moet wel uitgewys word dat hierdie produkte geblyk het om veilig te wees, en baie min newe-effekte is aangemeld.    

Dieselfde kan ongelukkig nie van efedra gesê word nie. Efedra is in vyf proewe getoets, waarvan vier in kombinasie met kafeïen was. Oor 'n wye verskeidenheid dosisse van beide efedra en kafeïen kon geen beduidende gewigsverlies waargeneem word nie, selfs nie eers oor 'n periode van ses maande nie. Die newe-effekte was egter veeltallig en onaangenaam, en het hartkloppings, hoë bloeddruk en 'n omgekrapte dermkanaal ingesluit. Hierdie newe-effekte kan toegeskryf word aan efedra se aktiewe bestanddeel efedrien, 'n stimulant wat naby verwant is aan metamfetamien (tik). Die ekstra kafeïen sou ook bygedra het tot hierdie newe-effekte, veral die hartkloppings en die ongelukkige spysverteringstelsel.  

Twee plaaslike Afrika-kruie, veld-druiwe (Cissus quadrangularis) en Afrika-mango (Irvingia gabonensis), is ook al in vier proewe ondersoek. Al hierdie proewe is egter deur dieselfde groep navorsers in Kameroen uitgevoer, was swak ontwerp en het soms uiterste verminderings in beide voedsel-inname en liggaamsgewig as uitkomste aangedui. Dit was dus die opinie van die Australiese navorsers dat hierdie bevindings twyfelagtig is. Twee proewe op Suid-Amerikaanse  yerba mate (Ilex paraguariensis) kon nie enige voordeel vir gewigsverlies demonstreer nie, maar in 'n ander studie, waar yerba mate gekombineer is met ander Suid-Amerikaanse kruie, is ongeveer 5kg gewigsverlies oor die verloop van 45 dae gemeet. Toe die studie verleng is na 12 maande, kon die deelnemers die kilogramme afhou, maar ongelukkig het geen verdere gewigsverlies plaasgevind nie. Twee proewe in Indië het ook beving dat 'n kombinasie van Oos-Indiese dissel (Sphaeranthus indicus) en mangosteen (Garcinia mangostana) gewigsverlies van 3-4 kg oor die verloop van 8-16 weke teweeggebring het.

Die Australiese artikel het ook 'n verdere 18 kruie of kruie-kombinasies gelys wat elk slegs al in een studie getoets is. Slegs vier van hierdie 18 proewe het positiewe resultate gehad, maar met 'n maksimum gewigsverlies van net 3.5 kg, wat nie regtig klink of dit die moeite of geld werd is nie. En net vir die rekord, daar is geen gedokumenteerde studies oor die effek van Rooibos op mense se liggaamsgewig nie.

Behalwe vir efedra het al die bogenoemde kruieprodukte geblyk om veilig te wees, ten minste teen die dosisse wat in die proewe gebruik is. Daar was ook minimale negatiewe effekte, alhoewel sommige proewe wel spysverteringsprobleme aangedui het. Die meeste van hierdie proewe was egter baie kort (minder as vier maande), en dus het ons geen aanduiding wat die moontlike newe-effekte van langtermyn gebruik van hierdie kruie mag wees nie. Ons weet ook nie of hierdie produkte beter werk in spesifieke ouderdoms-, geslags- of etniese groepe nie.  

Dus, ter opsomming, daar is tans twee tipes gewigsverlies-kruieprodukte in die wêreld: dié wat al by herhaling getoets is en bewys is om geen voordeel in te hou vir gewigsverlies nie, en dié wat nog nie werklik getoets is nie. Hoe dit ook al sy, vervaardigers en bemarkers het dus geen wetenskaplike bewyse om hulle bewerings oor die gewigsverlies-voordele van hierdie kruieprodukte te ondersteun nie.  

*Dr Hanél Sadie-Van Gijsen is verbonde aan die Sentrum vir Kardio-metaboliese Navorsing (CARMA) in die Afdeling Mediese Fisiologie by die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch.