Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
SIKMF Musiek sonder grense
Outeur: Dr Peter Martens
Gepubliseer: 04/06/2021

​Hoewel die meeste Suid-Afrikaners teen hierdie tyd gewoond geraak het aan die geleidelike verslapping van die inperkingsmaatreëls, hang die alledaaglikse uitwerking daarvan af van die beroep waarin `n mens jou bevind. Vir die uitvoerende kunste is die huidige situasie nog steeds absoluut verlammend:  die meeste uitvoerings is afgestel of vind slegs plaas in die teenwoordigheid van klein gehore. As sulke uitvoerings dan op die internet beskikbaar gemaak word, is dit slegs diegene met tegnologiese geletterdheid wat daarna kyk en luister.​

Die Stellenbosch Internasionale Kamermusiekfees, normaalweg die fokuspunt van die Wes-Kaapse kunsteaanbod gedurende die wintermaande, is reeds vir die tweede agtereenvolgende jaar afgestel.  Vanjaar kan ondersteuners en konsertgangers hulle egter gereedmaak vir iets heel besonders.  In 2019 het die span en egpaar Ron en Wendy Stuart van Cultural Odyssey Films in Vancouver Stellenbosch besoek en `n pragtige dokumentêre film gemaak van die persone wat die gees van die SIKMF verteenwoordig.

Die dokumentêre film, Music Without Borders, bevat ook hartroerende en heeltemal unieke tonele wat aan huis van die ikoniese struggle-figuur en aangeklaagde in die Rivonia-verhoor, Denis Goldberg, geskiet is. Goldberg praat met groot passie oor sy liefde vir musiek, sy betrokkenheid by die SIKMF en die belangrike bydrae wat die fees maak tot die Universiteit Stellenbosch se poging om sigself van die nalatenskap van apartheid te bevry. Dit sal op 16 Junie om 20:30 op SABC 3 uitgesaai word.

En in ooreenstemming met die SIKMF se missie om studente, ongeag hulle agtergrond, deur die medium van musiek te bemagtig, het `n aantal van die Kamermusiekfees se plaaslike personeel die geleentheid aangegryp om meesterklasse aan te bied aan studente van die nuutgestigte Nigerian Chamber Music Society. Die stigting van hierdie kamermusiekvereniging was die ingewing van die pianis Seyi Ajibade, wie se drome om tot die musiekkultuur van Lagos by te dra geïnspireer is deur sy bywoning as student van die SIKMF oor die loop van verskeie jare.