Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
SciMathUS loods #ChangingLives-veldtog
Outeur: Development & Alumni / Ontwikkeling & Alumni
Gepubliseer: 03/06/2021

Die SciMathUS-program (Wetenskap en Wiskunde aan die Universiteit Stellenbosch), in samewerking met die Universiteit se Afdeling Ontwikkeling en Alumnibetrekkinge het sy #ChangingLives-veldtog van stapel gestuur om die program se 20-jaar mylpaal te vier, wat in 2020 behaal is, en sy finansiële volhoubaarheid vorentoe te verseker.

Die SciMathUS-program, wat deur die US se Sentrum vir Pedagogie (SUNSEP) bestuur word, bied jaarliks aan studente uit opvoedkundige agtergeblewe omstandighede regoor die land 'n tweede kans om vir hoër onderwys te kwalifiseer. Uit meer as ʼn duisend aansoeke, word 100 studente gekies om ʼn jaar aan die US deur te bring om hul Graad 12-punte vir die vakke Fisiese Wetenskappe, Wiskunde en Rekeningkunde te verbeter. Die program is in 2001 op die been gebring met 'n groep van 40 studente en tot op hede het dit so gegroei dat dit die lewens van 1 697 jongmense radikaal verander het. 'n Totaal van 398 studente het al 'n eerste graad aan die US behaal en 124 nagraadse kwalifikasies is toegeken, insluitend vier doktorsgrade.

“SciMathUS is ten volle afhanklik van filantropiese skenkings om te verseker dat studente afkomstig van skole in opvoedkundig-benadeelde gebiede 'n tweede kans kry om hul Nasionale Senior Sertifikaat punte te verbeter. Tesame met die Universiteit se Afdeling Ontwikkeling en Alumnibetrekkinge wil ons seker maak dat SciMathUS van krag tot krag gaan. Die doel is om seker te maak dat die program, met ondersteuning van alle belanghebbendes, steeds meer geleenthede vir studente skep om hul volle akademiese potensiaal oor die volgende 20 jaar te bereik," sê Nokwanda Siyengo, SciMathUS-programbestuurder.

In 'n onlangse video het prof Wim de Villiers, US-rektor en Visekanselier, hulde gebring aan SciMathUS-belanghebbers. “Gun my die geleentheid om dankie te sê aan almal wat die afgelope twee dekades by SciMathUS betrokke was: Die studente en hul gesinne, al die personeellede oor die jare heen, en natuurlik die donateurs en vriende van die program vir hul lojale ondersteuning."

Hy het bygevoeg: “Met jou ondersteuning kan ons verseker dat baie meer jongmense uit agtergeblewe gemeenskappe toegang tot hoër onderwys kry en ekonomies aktiewe burgers word wat 'n bydrae tot die kennisekonomie kan lewer." Kyk hier na sy video.

 


​​​Oor die volgende 20 weke deel SciMathUS video's en verhale van hul vorige studente met alumni van die US, vriende van die Universiteit en donateurs. Jy kan die #ChangingLives-veldtog op sosiale media volg, met jou netwerk deel of 'n finansiële bydrae maak via die SciMathUS GivenGain-fondsinsamelingsblad, SnapScan of die Universiteit se webwerf (kies net die opsie "SUNSEP").

Jy kan SciMathUS op die volgende kanale volg: