Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Entstof-billikheid in die kollig tydens Afrika-dag
Outeur: FMHS Marketing & Communications / FGGW Bemarking & Kommunikasie – Sue Segar
Gepubliseer: 01/06/2021

Aan die hand van die toenemende kommer oor die derde golf COVID-19-infeksies in Suid-Afrika en die res van Afrika, is dit noodsaaklik dat beperkte hulpbronne, soos entstowwe, regverdig toegeken word.

Dit was die konsensus wat bereik is tydens ʼn aanlyngeleentheid wat deur die Universiteit Stellenbosch se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) op 25 Mei aangebied is ter viering van Afrikadag 2021.

Belangrike kwessies wat verband hou met entstof-billikheid op die kontinent is tydens dié geleentheid geopper. Deepening Networks and Collaboration for Vaccine Equity in Africa was die tema van die geleentheid.

In haar beleidsrede het professor Keymanthri Moodley, direkteur van die Sentrum vir Mediese Etiek en die Reg, klem gelê op etiese kwessies wat met die pandemie verband hou, insluitende die “uiters kommerwekkende" agterstand in terme van entstofverdeling tussen die VSA en Afrika.

“Slegs 1.42% van ons bevolking het een dosis inenting ontvang en 0.39% het al twee dosisse ontvang ... in vergelyking met die VSA waar 40% van die bevolking alreeds twee dosisse ontvang het," het sy gesê.

​“Daar is baie ongelykheid in terme van hoe entstowwe verdeel word. As ons na die belangrike etiese oorwegings kyk ... is dit problematies dat sommige lande meer dosisse entstof bestel het as wat elke persoon benodig," het Moodley gesê. “Selfs die hoofsekretaris van die Verenigde Nasies het ʼn opmerking gemaak oor die 'ongelooflike skeiding' tussen eiebelange en algemene belange. Op ʼn breë etieste vlak is dit regtig iets waaroor ons moet dink op die pad vorentoe."

Wat entstofnavorsing betref het Moodley gesê dat daar belangrike lesse is om te leer oor navorsers se verantwoordelikheid.

“Tydens samewerkingsgeleenthede met navorsing, veral met hoë-inkomste lande of die farmaseutiese industrie, vergeet ons as wetenskaplikes telkemale ons voorstaandersrol om toegang te verseker tot intervensies wat in die konteks van die navorsing bevind is om doeltreffend te wees.

“Ten spyte daarvan dat ons aan kliniese proewe deelgeneem het, het Suid-Afrika meer as dubbel soveel as Europese lande betaal vir die eerste besending AstraZeneca-entsowwe."

Moodley het ook gesê dat dit belangrik is om tot die literatuur by te dra vanuit die perspektief van die globale suide om te verseker dat kontekstuele kwessies uniek aan Afrika ook in ag geneem word.

In ʼn beroep vir solidariteit en billikheid, het Moodley die wêreldbekende outeur en aktivis, Arundathi Roy aangehaal deur te sê dat na die pandemie “sal daar niks erger wees as om terug te gaan na die normale" in so ʼn ongelyke wêreld nie.

In sy openingsrede het professor Nico Gey van Pittius, FGGW Vise-dekaan: Navorsing en Internasionalisasie gesê dat Afrikadag ʼn viering moet wees, asook ook ʼn beroep tot aksie.

“Histories het pandemies mense forseer om weg te breek van die verlede en hulle wêrelde opnuut voor te stel. Daar is geen verskil aan hierdie een nie. Dit is ʼn poort, ʼn ingang na tussen een wêreld en die volgende een," het hy gesê.

“Vanjaar fokus ons op die ongelykheid wat nog steeds in die wêreld voorkom, en spesifiek dit wat ons kontinent steeds ervaar. Ons hou rekening met die feit dat terwyl meer as 1.3 miljard inentings reeds in die wêreld toegedien is, 83% daarvan slegs na ʼn handvol ryk nasies gegaan het, en meer as driekwart van alle inentings tot dusver slegs in 10 lande toegedien is, waarvan nie een in Afrika is nie.

“Die situasie gaan nie binnekort verander nie, en kenners voorspel dat die meeste dele van Afrika nie betekenisvolle hoeveelhede COVID-19-entstowwe voor die begin van 2023 gaan sien nie indien entstof-verkrygingsprosesse teen die huidige spoed voortgaan," het hy gesê.

In die paneelbespreking het sprekers die deurlopende pogings tot die billike ontplooiing van entstowwe deur regerings, instansies en gemeenskappe beklemtoon.

Professor Pierre Viviers, senior direkteur, Kampusgesondheidsdienste, het gesê dat terwyl sekere gebiede in Suid-Afrika nou die derde golf van die pandemie betree, kampusgemeenskappe ʼn belangrike kohort is om in ag te neem tydens die beplanning van die entstof-ontplooiing.

Professor Hassan Mahomed, ʼn openbare gesondheidspesialis vir die Wes-Kaap Departement van Gesondheid, het die uitdagings uitgelig waarteen die gesondheidsdepartement te staan kom wat COVID​-19 aanbetref. Dit sluit in entstofvoorraad; entstofweifeling; verkeerde inligting en ongelykheid.

Ander uitdagings sluit ook in die elektroniese stelsel wat gebruik word om die inentingsproses te bestuur wat problematies is vir mense sonder toegang tot tegnologie, gevalle van nadelige uitwerkings van die entstof, asook etiese kwessies rondom toestemming, byvoorbeeld by mense met Alzheimer se siekte wat en nie op hulle eie kan toestemming gee nie.

Professor Mark Tomlinson, mededirekteur van die Instituut vir Lewensloop Gesondheidsnavorsing by die FGGW het gesê dat mense aan verskeie samesweringsteorie blootgestel is oor entstowwe en dat daar ʼn behoefte is om gemeenskapsnetwerke te versterk om entstofweifeling teen te werk. Hy het ook beklemtoon dat veldtogte om mense aan te moedig om ingeënt te word moet konteks- en gemeenskap-spesifiek wees.

Me Mia Malan, die stigter en hoofredakteur van Bhekisisa Sentrum vir Gesondheidsjoernalistiek, ʼn onafhanklike media-organisasie wat op gesondheid- en menseregtekwessies in Afrika fokus, het die rol van die nuusmedia in die entstofontplooiing bespreek.

“As ons ons werk reg doen, bied ons mense akkurate inligting wat regverdig en gebalanseerd is en wat hulle help om besluite te maak sonder dat ons op die een of ander manier druk uitoefen. Dit is ook ons werk om onakkuraatheid en verkeerde inligting uit te lig. Dit is moeilik tydens ʼn pandemie waar die wetenskap so vinnig beweeg."

Malan het verduidelik hoe ʼn opleidingsprogram wat deur Bhekisisa aangebied is om joernaliste te bekwaam om oor COVID-19-entstowwe verslag te doen, positiewe terugvoer ontvang het van joernaliste wat “oornag gesondheidsverslaggewers moes word."