Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US implementeer afvalwatergebaseerde waarnemingsplatform vir vroeë opsporing van COVID-19-uitbreking
Outeur: Wiida Fourie-Basson
Gepubliseer: 27/05/2021

Die Universiteit Stellenbosch (US) beplan om 'n afvalwatergebaseerde waarnemingsplatform te implementeer om institusionele uitbrekings van SARS-CoV-2 op twee van sy kampusse op te spoor.

“Dit is 'n uitvloeisel van die instelling se verbintenis om alles binne sy vermoë te doen om die kampusgemeenskap te beskerm," sê Prof Gideon Wolfaardt, Direkteur van die US Waterinstituut en professor in die Departement Mikrobiologie.

Die afvalwatergebaseerde waarnemingsplatform is in samewerking met navorsers van die Universiteit van Bath en die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad ontwikkel, met projekbefondsing van die VK gebaseerde Newton Fonds. Die kampusgebaseerde platform word deur navorsingsfondse afkomstig van Prof Eugene Cloete, US Viserektor vir Navorsing, Innovasie en Nagraadse Studies, ondersteun.

Vir die twee US-kampusse sal passiewe toetstoestelle spesifieke rioollyne van geselekteerde studentekoshuise op 'n spesifieke dae van die week toets.  

Dr Edward Archer, 'n navorsingsgenoot in die US se Departement Mikrobiologie, sê die afvalwatergebaseerde platform sal dien as 'n bykomende maatreël om die monitering van die siekte te verbeter: “Eerstens, dit is haas onmoontlik om siftingstoetse op elke student op gereelde, kort intervalle te doen. Tweedens, asimptomatiese infeksies kom meer voor onder jongmense, en dié metode sal ons staat stel om vroegtydig moontlike brandpunte op te spoor," verduidelik hy. 

Sedert die uitbreek van die COVID-19 pandemie in Suid-Afrika in 2020, het hy en Prof Wolfgang Preiser van die US se Mediese Virologie Divisie, en Dr Rabia Johnson, adjunk-direkteur van die MNR se Biomediese Navorsings- en Innovasieplatform (BRIP), saamgewerk om die metode op die US se Tygerberg-kampus te toets.

Hoe werk hierdie metode?

Vroeg na die uitbreek van die wêreldwye COVID-19-epidemie, is vasgestel dat genetiese materiaal van die SARS-CoV-2 virus, bestaande uit RNS-genoomfragmente, deur die spysverteringsisteem van geïnfekteerde persone beweeg en in hulle feses beland.

“Hierdie genoomfragmente dien dus as 'n molekulêre vingerafdruk van die oorspronklike virus, ongeag of 'n geïnfekteerde individu simptome toon of asimptomaties is. 'n Toename in virale RNS-vlakke in afvalwatersuiweringswerke verskaf dus 'n waardevolle vroeë waarskuwing oor stygende getalle van infeksies en die gepaardgaande verwagte toename in plaaslike hospitalisasies. Dit kan ook as instrument gebruik word om die verspreiding van die siekte in gemeenskappe mee te evalueer," verduidelik Dr Archer.  

Die loodsprojek wat op die Tygerberg-kampus gedoen is, het bewys dat data wat met behulp van hierdie metode verkry is, hulle in staat gestel het om blokke of selfs geboue waar geïnfekteerde individue werk of bly, te kon identifiseer.  

Landwye omgewingswaarnemingstelsel

Die wetenskaplikes is ook betrokke by SACCESS, die Suid-Afrikaanse Samewerkende COVID-19 Omgewingswaarnemingstelsel. Dié netwerk, bestaande uit navorsers, gesondheidsorgwerkers en epidemioloë, is in April 2020 gestig om die verspreiding van COVID-19 in gemeenskappe te evalueer deur middel van afvalwatergebaseerde epidemiologie.

Dr Archer en Prof Preiser werk ook ten nouste saam met die MNR om roetinegewys gemeenskapsywe afvalwatermonitering vir die Kaapse metropoolgebied en die dorp Stellenbosch te doen.

  • Klik gerus hier om te luister na 'n Stellenbosch-wetenskapskafee oor die “Ontwikkeling van 'n risikovoorspellingsplatform vir COVID-19" met Prof Wolfgang Preiser en Dr Edward Archer van die US, en Dr Rabia Johnson van die MNR as sprekers. Die Stellenbosch-wetenskapskafee is 'n inisiatief van die US se Fakulteit Natuurwetenskappe om gesprekke oor wetenskaplike kwessies aan te moedig, in 'n taal wat almal kan verstaan.