ʼn Inligtingstuk deur prof Hester Klopper, Viserektor: Strategie en Internasionalisering, 26 Mei 2021:
Die Universiteit Stellenbosch (US) se standpunt oor aktuele sake, soos geslagsgebaseerde geweld, hoëronderwysfinansiering, transformasie en taal, ontvang gereeld wye dekking in die tradisionele en sosiale media.
Hierdie kwessies vereis tydige en weloorwoë reaksies. Verskillende gesprekke word dikwels gelyktydig in sowel die tradisionele as sosiale media gevoer, wat duidelike en toegespitste kommunikasie verg. Die US moet sy stem kan laat opklink om die feite aan te bied en onakkuraathede en wanopvattings oor die Universiteit reg te stel. Dít is onder andere waaroor goeie oorsigbestuur gaan, en bied 'n manier om met ʼn verskeidenheid gehore en belanghebbendes in gesprek te tree.
Vir dié doel het die US se verantwoordelikheidsentrum (VS) vir Strategie en Internasionalisering, wat ook vir korporatiewe kommunikasie verantwoordelik is, 'n struktuur geskep om kwessiegebaseerde kommunikasie te koördineer. Dít is nie ongewoon vir groot organisasies soos universiteite nie. Die doel is om konsekwentheid in ons kernboodskappe, doeltreffende reaksies op medianavrae en sinvolle bydraes tot openbare debatte te verseker.
Die nuwe struktuur behels die US se Afdeling Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking as ʼn kernrolspeler, saam met die US-afdelings en -deskundiges wat direk gemoeid is met die bepaalde kwessie ter sprake. Boonop sal verskillende kwessiegebaseerde kommunikasiekomitees in hierdie koördineringstruktuur ingebou word.
Taal by die US
Taalkwessies by die Universiteit is konstant in die nuus sedert Maart vanjaar, toe openbare oorlegpleging oor die hersiening van die US Taalbeleid begin het (klik hier vir meer). Hoewel ons met sowel interne as eksterne gehore gekommunikeer het, het die Raad by sy vergadering van 13 April 2021 versoek dat die Universiteit sy kommunikasie in dié verband met alle belangegemeenskappe uitbrei. Dit was duidelik dat bykomende, proaktiewe kommunikasie en verdere gesprekvoering nodig sou wees.
Taalkommunikasiekomitee
'n Taalkommunikasiekomitee (TKK) is tot stand gebring om ons kommunikasie oor die implementering en hersiening van die Taalbeleid te ondersteun en strategies te rig. Die TKK let op hoe die openbare gesprek ontvou, en neem ook die sienings van verskillende rolspelers en belangegemeenskappe, sowel intern as ekstern, in ag. Kerntemas word dan uitgewys, op grond waarvan die US die feite kan kommunikeer en sy sienings kan stel om tot die gesprek by te dra.
Daarom is dit jammer dat die TKK in die media as die een of ander “geheime propagandakomitee" uitgebeeld word. Dít is duidelik nie die geval nie. Die Universiteit het 'n verantwoordelikheid om helder te kommunikeer, die gesprek te verdiep en konstruktiewe bydraes te lewer oor 'n kwessie so belangrik soos taal, en die TKK is 'n raadgewende struktuur om dié doel te bereik.
TKK-lede
Die TKK bestaan uit personeellede van relevante omgewings by die Universiteit, wat 'n uitgebreide en komplekse instelling is wat met verskeie vennote en belanghebbendes moet skakel.
Op Rektoraatsvlak dien ek in die komitee (as TKK-sameroeper in my hoedanigheid as uitvoerende bestuurslid belas met korporatiewe kommunikasie), en so ook prof Deresh Ramjugernath, Viserektor: Leer en Onderrig (wat vir die Taalbeleid verantwoordelik is).
Ander lede sluit in dr Antoinette van der Merwe, Senior Direkteur: Leer- en Onderrigverryking (verantwoordelik vir die implementering van die Taalbeleid, en ook voorsitter van die taakspan vir die hersiening van die Taalbeleid), en kollegas van afdelings soos Studentesake (dr Choice Makhetha), Regsdienste (mnr Gerhard Lipp), Ontwikkeling en Alumnibetrekkinge (me Karen Bruns) en Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking (me Christelle Feyt en mnre Desmond Thompson en Martin Viljoen). Dr Wayne Muller, VS-bestuurder, dien as koördineerder.
Dr Leslie van Rooi, Senior Direkteur: Sosiale Impak en Transformasie, is ook 'n lid en is as die US se woordvoerder oor taal aangewys op grond van sy institusionele verantwoordelikheid om met verskeie belanghebbendes te skakel.
Verbind tot meertaligheid en gesprekvoering
Ons Taalbeleid bevorder meertaligheid en hou rekening met “die diversiteit van ons samelewing sowel as die intellektuele rykdom wat in daardie diversiteit opgesluit lê". Die US het hierdie roete gekies om billike toegang uit te brei, 'n inklusiewe kampuskultuur te skep en studentesukses te ondersteun, en ons is vasberade om koers te hou. Ons is oortuig dat ons studente meer keuses, groter toegang en 'n beter toekoms het as gevolg van ons benadering tot taal.
Ons verwelkom ʼn verskeidenheid menings en standpunte. Soos wat die Grondwet en ons institusionele waardes van ons vereis, moet openbare gesprek te alle tye beleefd wees, met behoorlike inagneming van almal se vryheid, gelykheid en waardigheid.
Slot
As 'n toonaangewende Suid-Afrikaanse hoëronderwysinstelling, is die US 'n nasionale bate. Daarom moet ons aanhou sorg dat ons deursigtig is in ons prosesse en doeltreffend met ons belanghebbendes kommunikeer.
Ons moet deel wees van die gesprek oor openbare kwessies by ons instelling, want, soos die Nigeriese skrywer Chimamanda Ngozi Adichie dit stel: “Die enkelverhaal skep stereotipes. En die probleem met stereotipes is nie dat dit onwaar is nie, maar dat dit onvolledig is. Dit laat een verhaal die enigste verhaal word."
Ons sien uit na die insette van die Taalkommunikasiekomitee oor hoe ons beter te werk kan gaan om ʼn verskeidenheid sienings te deel en die gesprek te verryk. So verbeter ons verdere skakeling en gaan ons saam vorentoe, sonke siya phambile, forward together.
Prof Hester KlopperViserektor: Strategie en Internasionalisering