Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Die US bring aanlyn register vir studie oor Lang-COVID op die been
Outeur: Media & Communication, Faculty of Science
Gepubliseer: 26/05/2021

Indien jy aan Lang-COVID ly, wil Prof Resia Pretorius van die Departement Fisiologiese Wetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch (US) jou simptome in 'n Suid-Afrikaanse aanlyn register opteken. En indien jy in die Wes-Kaap woon, wil sy ook 'n bloedmonster hê.

Die hoof doelwit van die aanlyn register is om die omvang van die probleem in Suid-Afrika vas te stel. Bykomend hiertoe wil sy ook die langtermyn newe-effekte van Lang-COVID en die gepaardgaande komorbiditeite, sowel as die effek daarvan op bloedstolling en sirkulerende inflammatoriese molekules in die bloed bestudeer.

Lang-COVID presenteer as 'n versameling voortslepende simptome wat 90 dae of langer duur, nádat pasiënte van akute COVID-19-infeksies herstel het. Voortslepende simptome kan voortduur in 'n geraamde 25–35% van gevalle, ongeag die graad van infeksie en selfs nadat die individu nie meer positief vir die virus toets nie. Sommige van die simptome van Lang-COVID, sluit o.a. moegheid, asemhalingsprobleme, kortasemheid gedurende gewone dagtake, gewrigspyne, en borspyn in.

Prof Pretorius sê individue word genooi om hulle simptome en komorbiditeite op die aanlyn Lang-COVID-register aan te teken. Deelnemers in die groter Kaapstad- en Kaapse Wynland-gebiede kan ook vrywillig 'n bloedmonster skenk.

Prof Pretorius, in samewerking met Innovus, die US Tegnologie-oordragkantoor, het onlangs 'n metode gepatenteer vir die vroeë identifisering van Lang-COVID. Met hierdie metode kan hulle bloedklonte wat weerstandig is teen die ensimatiese afbreek van die fibrien daarin, in bloedmonsters identifiseer. As 'n spesialis op die gebied van die wetenskap van bloed, bloedstolling en inflammatoriese siektes, hoop sy ook om nuwe molekules in die bloed te identifiseer wat moontlik verantwoordelik is vir hierdie bloedklonte wat weerstandig is teen fibrinolitiese afbraak. Die teenwoordigheid van sulke molekules sou dan uiteindelik ook gebruik kon word vir die vroeë identifisering van Lang-COVID, en selfs in die ontwikkeling van suksesvolle behandeling van individue met voortslepende simptome geassosieer met Lang-COVID.

Indien jy graag hierdie navorsingspoging wil ondersteun, voltooi asseblief die aanlyn Lang- COVID-register by https://airtable.com/shrtucasatrINAL7K.Y 

Jy sal dan ook gevra word of jy bereid sou wees om 'n bloedmonster te gee. (Hierdie opsie is slegs vir pasiënte wat in die groter Kaapstad- en Wynlandgebiede woon). Prof Pretorius beplan om die insameling van bloedmonsters uit te brei na die res van Suid-Afrika, so gou as wat navorsingsfinansiering dit toelaat. Deelname is vrywillig en alle inligting is geënkripteer en word anoniem vasgelê.

Die titel van die navorsingsprojek is “Long COVID Registry: A South African registry for long COVID and accompanying co-morbidities to study long-term effects on blood clotting and circulating biomarkers." Die studie het etiese klaring van die US se Etiese Komitee vir Gesondheidsnavorsing ontvang. Die Universiteit Stellenbosch is ook deel van die Verenigde State van Amerika se Long COVID Alliance https://longcovidalliance.org/.

Vir navrae, kontak die navorser en hoofondersoeker, Prof Resia Pretorius, by resiap@sun.ac.za 

Op die foto's bo Interaksies tussen rooibloedselle en plaatjies in akute COVID-19 infeksie. Foto's: Resia Pretorius​