Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Uitnemendheid in wetenskap, tegnologie en innovasie vir Afrika
Outeur: Wim de Villiers
Gepubliseer: 25/05/2021

ʼn Afrikadag-meningsartikel deur prof Wim de Villiers* wat op 25 Mei 2021 deur Business Day gepubliseer is. Klik hier vir daardie weergawe, of lees die vertaling hieronder. Die volledige Engelse teks is ook beskikbaar deur op “English" regs bo op hierdie blad te klik.

Die viering van Afrikadag op 25 Mei en die 20ste herdenking van die totstandkoming van die Nuwe Vennootskap vir Afrika-ontwikkeling (NEPAD) in Julie is 'n gulde geleentheid om opnuut na sosio-ekonomiese vooruitgang op ons vasteland te kyk.

Die wêreld is in beroering: polities, maatskaplik en ekonomies. Die COVID-19-pandemie het van die krake in die samelewing verder oopgeskeur, en die Afrikavasteland is dít geensins gespaar nie.

Hoewel ons vasteland voor vele uitdagings staan, is daar egter ook sekere dinge wat tot ons voordeel strek. Kom ek noem net twee. Eerstens het ons 'n unieke vermoë om met spronge tot by die jongste tegnologieë en benaderings te vorder, nie net om by die res van die wêreld by te bly nie, maar om die toon aan te gee. Tweedens is daar reeds heelwat samewerking aan die gang – op geopolitieke vlak sowel as in sektore wat die deurslag gee vir ontwikkeling.

Opwindende nuwe ontwikkelings in die hoër onderwys oor die hele vasteland, onder meer by die Universiteit Stellenbosch (US), dui daarop dat diegene wat gesê het die narratief oor 'n “Afrika-opstanding" is dood, moontlik te gou gepraat het.

Ontwikkelingsuitdagings is wat die stelselswetenskaplike Charles W Churchman “ontembare probleme" (wicked problems) noem – hoogs komplekse vraagstukke wat uit verwikkelde kwessies bestaan wat slegs met kreatiewe, interdissiplinêre denke opgelos kan word. Die sosioloog David Cooper gebruik op sy beurt die konsep van 'n “viervoudige heliks" om die vennote te identifiseer wat ons samelewingsuitdagings die hoof moet bied: die staat, die bedryf of sakesektor, hoëronderwysinstellings, en ander strukture van die burgerlike samelewing. Ons moet almal saamwerk.

Die goeie nuus is dat ons nie die wiel van voor af hoef uit te vind nie – ons het reeds voorbeelde van goeie samewerking op ons vasteland. So byvoorbeeld bring die ontwikkelingsagentskap van die Afrika-unie (AUDA-NEPAD) deur sy vyf sentrums van uitnemendheid verskeie belanghebbendes byeen om onderling verwante temas te hanteer: klimaatsveerkragtigheid (gesetel in Kaïro, Egipte), landelike hulpbronne en voedselstelsels (in Dakar, Senegal), menslike kapitaal en instellings (in Nairobi, Kenia), die verskaffingsketting en logistiek (wat in 'n land in Sentraal Afrika op die been gebring sal word), en wetenskap, tegnologie en innovasie (in Stellenbosch, Suid-Afrika).

Die sentrum van uitnemendheid vir wetenskap, tegnologie en innovasie (WTI) is in November 2020 as 'n drieledige vennootskap tussen AUDA-NEPAD, Suid-Afrika se Wetenskaplike en Nywerheidnavorsingsraad (WNNR) en die US geskep. Die ligging van die fasiliteit is nie toevallig nie: Dit lê in die hartjie van die Stellenbosse innovasie-ekosisteem.

Danksy hul jare lange samewerking, het die US en die WNNR reeds meer as 40 kennisgebaseerde uitvindings en tegnologieë vir snelle uitbreiding geïdentifiseer. Dit is alles beproefde en bewese tegnologieë of praktyke wat gereed is om tot die volgende vlak uitgebou te word. Voorbeelde sluit in siftingstegnologieë vir medisyne-ontwikkeling, epidemiologiese modellering, inisiatiewe wat met klimaatsverandering verband hou, innovasies vir water-, energie- en voedselsekerheid, aanlyn leer, en elektroniese betaalstelsels.

Deur plaaslike oplossings te gebruik om daadwerklike verandering op die vasteland teweeg te bring, sal AUDA-NEPAD se WTI-sentrum die doelwitte van die Afrika-unie se Agenda 2063 help verwesenlik. Dié doelwitte is in vier kategorieë ingedeel: industrialisasie en welvaartskepping, gemeenskaplike voorspoed en 'n getransformeerde bestaan, die ontwikkeling van menslike kapitaal en getransformeerde instellings, sowel as die bestuur van natuurlike hulpbronne en omgewingsveerkragtigheid.

'n Verdere voorbeeld van samewerking waarvan Afrika die vrugte sal pluk, is die Skool vir Datawetenskap en Rekenaardenke wat in 2019 by die US tot stand gebring is. Die tegnologiejoernalis Jeremy Daniel skryf onlangs in CIO Africa: “Die belang van datawetenskap het in 2020 skielik in die openbare bewussyn beland toe die wêreld geworstel het om die omvang van die pandemie te begryp. Eensklaps was almal amateurdatawetenskaplikes met teorieë en grafieke om hulle bewerings te staaf. Nietemin is daar ʼn skaarste aan opgeleide Afrikadatawetenskaplikes."

Die US se Skool vir Datawetenskap en Rekenaardenke werk oor fakulteite heen en moedig interdissiplinêre navorsing en onderrig aan. Die Skool bied in Julie 'n week lange kursus aan wat enigeen met basiese rekenaarvaardighede sal touwys maak om 'n gevorderde masjienleermodel te bou. Deelnemers wat na sertifikasie streef, sal die koste subsidieer van diegene wat graag die vaardighede wil hê, maar nie die fooie kan bekostig nie.

Dít sal in die groot vraag na datawetenskap op ons vasteland help voorsien. Net verlede jaar het die Suid-Afrikaanse regering sy doelwit aangekondig om teen 2030 'n miljoen jongmense met datawetenskapverwante vaardighede toe te rus.

Ek is werklik opgewonde oor wat tans op Afrikabodem deur Afrikasamewerking en -vennootskappe gebeur. As ons saamwerk, is daar geen einde aan wat ons kan bereik nie. Dit is allermins vergesog om te dink dat Afrika sy eie agenda kan bevorder en sy enorme potensiaal in werklike produkte en dienste kan omskep wat 'n positiewe verskil maak in die lewens van die 1,3 miljard mense wat hier woon.

* Prof Wim de Villiers is Rektor en Visekanselier van die Universiteit Stellenbosch, 'n stigterslid van die Afrikanavorsingsuniversiteitsalliansie. Hy dien ook as ondervoorsitter van Universiteite Suid-Afrika.