Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Maties wat Afrikaans studeer help leerders met leesvaardighede
Outeur: Corporate Communication and Marketing Division/Afdeling Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking [Sandra Mulder]
Gepubliseer: 21/05/2021

Die geletterdheidsprojek “Ek KAN lees", die geesteskind van dr Zelda Barends van die Universiteit Stellenbosch (US), beoog nie net om die geletterdheidsvlakke van grondslagfaseleerders te verbeter nie, maar ook om voornemende onderwysers te leer hoe konteks hulle onderrigbenadering kan en behoort te beïnvloed. Die projek het die afgelope vier jaar in 'n belangrike inisiatief vir sosiale impak ontwikkel wat menige jong leerder en onderwysstudent baat.

Barends, 'n dosent in Kurrikulumstudie en die Grondslagfase-programkoördineerder in die Fakulteit Opvoedkunde, het die naskoolse taalontwikkelingsprogram vir grondslagfaseleerders (graad 1 tot 3) saamgestel om Suid-Afrika se groot geletterdheidskrisis op laerskool die hoof te help bied. “Ek KAN lees" vul die bestaande kurrikulum aan en bestaan tans uit 77 onderwysstudente wat taalsteun aan sowat 360 leerders van drie skole in die Stellenbosch-omgewing bied. Lesse handel oor geluidsleer en woordbou.            

Terselfdertyd bied die program onderwysstudente ook 'n platform om kultureel responsiewe onderwysers te word. Studente moet hulle onderrigmetodes na gelang van die uiteenlopende kontekste en behoeftes in die klaskamer aanpas. “Die projek bied aan studente uitgebreide blootstelling aan baie verskillende kontekste, en hulle ervaar hoe verskillende leerders leer, en watter faktore hulle leervermoë beïnvloed," sê Barends.

Maties wat studeer om Afrikaans Huistaal in die grondslagfase aan te bied, onderrig die kleintjies twee maal per week vir 11 weke in die eerste semester van hulle BEd-vierdejaarstudie. En die terugvoer is besonder positief.  

Emma Smit, wat tans ingeskryf is vir haar MEd-studie, sê die projek het haar ganse benadering tot onderrig verander. “Ek het bewus geword van hoe belangrik dit is om sosiaal-emosionele bande met my leerders te vorm. Om leerders, hulle gesinne en huislike omstandighede te leer ken maak nou deel uit van my daaglikse onderrigpraktyk. En ek glo onderwysers kan net suksesvol wees as daar 'n gemeenskapsgevoel is wat verder as die vier mure van die klaskamer strek." 

Jacolette du Plessis, nóg 'n alumna wat in haar finale studiejaar aan “Ek KAN lees" deelgeneem het, sê dit was uitdagend, maar die moeite werd. “Ons het baie waardevolle onderrigtegnieke geleer, en besef dat elke leerder uniek is, met sy of haar eie verhaal. Baie leerders het met daaglikse uitdagings te kampe, van onbetroubare busvervoer tot te min kos, 'n ouerlose huis, boelies, alkohol, dwelmmiddels, mishandeling, geweld, en nog baie meer," sê Du Plessis. “Bowenal volg ek nou 'n ander benadering tot die hulpbronne wat ek vir my klaskamer kies en maak. Ek put vreugde daaruit om na tekste te soek wat my leerders, hulle omstandighede en persoonlike ervarings weerspieël."

Barends glo die projek help stadig maar seker die kinders se geletterdheidsvlakke verbeter. Terugvoer dui op 'n mate van verbetering in deelnemende leerders se skoolwerk, veral hulle vermoë om beskrywende sinne te skryf. Die kinders geniet dit ook blykbaar om te lees.

“Mense moet kan lees om ten volle in die samelewing te funksioneer. Deur leerders se leesvaardighede te verbeter, kry hulle toegang tot beter onderwys, wat 'n volhoubare impak op die samelewing het," sê Barends. “Kinders se vroeë geletterdheidsontwikkeling in Suid-Afrika is nog maar beperk, moontlik vanweë taalongelykhede en ander maatskaplike kwessies. Mense onderskat ook dikwels wat lees behels. Die leesaksie hang van soveel prosesse af wat vroeg in 'n kind se lewe ontwikkel moet word. Sodra die kind ouer word, word dit feitlik onmoontlik." 

Sy hoop die projek sal verder uitbrei en dat 'n vennootskap met die Departement van Basiese Onderwys hulle toegang tot meer skole sal bied.