Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Sonkrag-werksessie wek belangstelling by leerders
Outeur: Daniel Bugan
Gepubliseer: 20/05/2021

Onderwysers en leerlinge van skole in Cloetesville en Kayamandi het onlangs 'n werksessie oor sonkragopwekking bygewoon. Dit is deur die Universiteit Stellenbosch se Departement Ondernemingsbestuur in vennootskap met die Fakulteit Ingenieurswese en die Wetenskap, Tegnologie en Elektroniese Program (SUNSTEP) aangebied.

Die toppresteerders in Wiskunde en Wetenskap in grade 11 en 12 van beide Cloetesville Hoërskool en Kayamandi Hoërskool het geleer om hul eie draagbare sonkragaangedrewe USB-selfoonlaaiers te bou en om sonpanele te maak. Nie net het die leerders nuwe vaardighede soos soldering, bedrading en sny geleer nie, maar hulle het ook ontdek hoe sonkrag werk en watter voordele dit vir 'n gemeenskap inhou.

Die Nederlandse ambassade het die projek befonds as deel van die ontwikkeling van entrepreneursinisiatiewe wat voortspruit uit Young Entrepreneurs Project (YEP), 'n jaarlikse entrepreneurskapsprogram van die Departement in samewerking met Hoogeschool Utrecht.

Mnr Adolph Neethling, dosent van die Departement Ondernemingsbestuur, het gesê die inisiatief het ontstaan nadat leerders wat YEP bygewoon het, 'n sakegeleentheid vir sonkragaangedrewe selfoonlaaiers geïdentifiseer het. Hulle het egter nie geweet hoe om sulke laaiers in die hande te kry nie.

"By 'n vergadering wat deur die Afdeling Sosiale Impak gefasiliteer is, het ek die voorsitter van EWB (Ingenieurs sonder grense) van die Fakulteit Ingenieurswese ontmoet. Hy het vertel dat EWB dit moeilik vind om belangstelling in en betrokkenheid by skole te genereer vir hul werksessies oor sonkragopwekking in die gemeenskap," het Neethling gesê. “Daar is besluit om die twee pogings te kombineer en die sonkragwerksessies vir leerders van daardie skole in die gemeenskap te bied wat by die YEP-program betrokke is en dus 'n bestaande verhouding met die Universiteit het.

“Die vennootskap met EWB is in werklikheid die samesmelting van twee sosiale impak-inisiatiewe. Die werkswinkel is deur die EWB-studente aangebied en na afloop daarvan sal entrepreneurskapstudente weer eens mentorskap by hierdie skole beskikbaar stel."

Volgens Bennedictus Chingodza, uitvoerende lid van EWB en koördineerder van die werksessie, bestaan hul sonkragopwekkingsinisiatief sedert 2017. Dit is deur Julian Daniels, 'n finalejaar elektroniese ingenieurstudent en voorsitter van EWB Maties, begin.

“Julian se doelwit was om die lewens van leerders aan die Hoërskool Kayamandi te beïnvloed en om 'n lewendige belangstelling in ingenieurswese en tegnologie aan te wakker. Hy het gemeen dat dit hopelik daartoe sou lei dat hulle 'n tersiêre kwalifikasie in die wiskunde- of wetenskapveld behaal en hul gemeenskap help ophef.

“Die inisiatief was eers gemeenskapsgerig, maar kyk nou na Suid-Afrika in die geheel. Die doel is om kinders die belangrikheid van hernubare en volhoubare energie te leer met die klem op sonkrag en hoe dit van toepassing is op Suid-Afrika, gegewe die kwessie van beurtkrag."

SUNSTEP, wat die toerusting en tegniese hulp tydens die werkswinkel verskaf het, is sedert 1997 'n eenheid van die Universiteit Stellenbosch.

Miranda Myburgh, uitvoerende direkteur van SUNSTEP, het verduidelik dat hulle elektroniese uitrusting, gereedskap en praktiese opleiding aan onderwysers en leerders bied.

“Dit voldoen aan 'n kritieke behoefte in ons grootliks teoriegebaseerde onderwysstelsel. Laasgenoemde verskaf feitlik geen praktiese leergeleenthede aan benadeelde skole nie, terwyl baie onderwysers erg onervare op hierdie gebied is."

Mnr Luyanda Mankayi, 'n wiskundeonderwyser van die Hoërskool Kayamandi, sê die agt leerders wat die werksessie saam met hom bygewoon het, het baie geleer.

“Leerders kon aan die einde van die werkswinkel tussen hernubare en nie-hernubare hulpbronne onderskei. Hulle was so geïnspireer deur alles wat hulle geleer het, dat hulle begin navraag doen het oor beskikbare kursusse in inligtingstegnologie en rekenaarwetenskap. Die meeste van hulle stel nou ook belang om ingenieurswese te studeer," het hy gesê.

  • Skole wat graag aan toekomstige werksessies wil deelneem, kan mnr Adolph Neethling by acn@sun.ac.za kontak vir verdere inligting.

  • Hooffoto (verskaf): Leerders van Cloetesville het aan 'n werksessie oor sonkragopwekking deelgeneem.
  • Foto regs (verskaf): Kayamandi-leerders het ook aan die werksessie deelgeneem.
Kayamandi_learners_web.jpg