Twee nagraadse studente van die Universiteit Stellenbosch (US) het geskiedenis gemaak deur deel te wees van die heel eerste Suid-Afrikaanse span om die Franse inter-universitêre debat-stryd te wen wat deur die Agence Universitaire de la Francophone (AUF) aangebied is. Die drie lede van die span het hul teenstanders van die Universiteit van Paris II Pantheon-Assas in Mauritius geklop wat in geheel bestaan het uit moedertaalsprekers.
Die span het deelgeneem aan die 7de Inter-Universitêre Debat-kompetisie in Frans (TIUD7) wat plaasgevind het danksy die samewerking tussen die Frans seksies van die US en die Universiteit van Kaapstad (UK). Mnr Jaco du Plooy, 'n lektor en MA-student van die Departement Moderne Vreemde Tale in die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe aan die US, was die spanleier en is bygestaan deur Frans-honneursstudente me Willow-Ruby van der Berg (US) en me Mia Todd (UK).
Die debat, gehou in die Indiese Oseaan-streek van die AUF, het gefokus op Sosiale Innovasie en Ontwikkeling. Die AUF, wat 60 jaar gelede gestig is, is een van die grootste verenigings vir hoër opvoeding- en navorsingsinstellings wêreldwyd, en verenig 944 universiteite, kolleges en wetenskaplike navorsingsentra van 116 lande wat in Frans opvoed en werk produseer.
Wat die span se oorwinning nog meer indrukwekkend maak is die feit dat die drie Frans praat as derde taal, wat nie die geval is met die byna 120 studente van 36 spanne wat deelgeneem het aan die kompetisie nie. Daar was twee spanne van Suid-Afrika wat deelgeneem het: die ander span was van die Universiteit van KwaZulu-Natal (UKZN). Afgesien van hierdie twee was daar 23 spanne van Madagaskar, 3 van Mauritius, 3 van Kenya en 3 van die Comoro-eilande wat deelgeneem het. Die span van die UKZN is ongelukkig in die voorlopige ronde uitgeskakel.
“Aanvanklik was die feit dat die kompetisie heeltemal in Frans aangebied is, ons grootste stressor want ons moes al ons navorsing in Frans doen. Ons het soveel moontlik Franse nuusartikels verkry maar ons wou ook die Suid-Afrikaanse inhoud in ons voorbeelde gebruik om dit 'n meer globale gevoel te gee wat skakel met plaaslike kwessies," sê Du Plooy.
Volgens Du Plooy is die kompetisie vanjaar uitgebrei na 'n paar nie-Franssprekende lande wat meegebring het dat Suid-Afrika vir die eerste keer kon deelneem.
“Dit was prof Catherine du Toit, die Voorsitter van die Departement Moderne Vreemde Tale en die Vise-dekaan van die Fakulteit, wat ons aangemoedig het om in te skryf. Sy was ook die een wat ons gelei en afgerig het tydens die hele proses," verduidelik Du Plooy, die spanleier.
“Dit voel onwerklik om te dink dat ons nie net die geleentheid gehad het om deel te neem aan 'n internasionale Franse debat nie, maar dat ons dit boonop gewen het," voeg Van den Berg by.
“Ek onthou dat ek vir prof Du Toit gesê het dat ek nie seker was of ek moes deelneem nie want ek het nie gedink dat my Frans goed genoeg was nie. Maar haar vertroue in my en my vermoëns het my aangemoedig om die kans te waag en my bes te doen. Sonder haar ondersteuning sou ek nooit eens gedroom het om so íets aan te pak nie en ek is baie dank aan haar verskuldig omdat sy uit die staanspoor in ons span geglo het."
In die eerste “lewendige" ronde van die toernooi, verduidelik Du Plooi, moes die span 'n video saamstel getitel Sosiale Innovasie: bring dit effektiewe antwoorde op sosiale, ekonomiese en omgewingsprobleme? Dit is gevolg deur drie lewende rondes waar elke span wat deurgedring het tot die volgende ronde ingelig is twee uur na die debat en dan 'n nuwe onderwerp gekry het om in die volgende ronde die volgende dag te bespreek. Die tweede ronde het gefokus op Die institusionalisering van sosiale innovasies: is dit sinoniem met die onttrekking van die Staat, waarteen die US-UK span moes argumenteer. Die derde en finale ronde het gefokus op Sosiale innovasie as 'n langdurige en volhoubare antwoord: Is dit net 'n kort antwoord op die probleem of kan dit op die lange duur volhoubaar wees?
“Dit was uiters senutergend," sê Du Plooy.
“Om 'n onderwerp in Frans na te vors en dan daaroor te debatteer is uitdagend, maar sodra jy daarmee begin word dit baie interessant. In 'n sekere sin het die navorsingvaardighede wat jy as nagraadse student opbou, ingeskop. So ek dink dit was 'n waardevolle ondervinding wat baie interessant geword het soos ons dieper gedelf het in die onderwerp en meer begin leer het oor wat sosiale innovasie is."
Terwyl sy besin oor hul oorwinning, het Van der Berg gesê: “Dit is moeilik om in woorde te stel hoeveel ek van hierdie ondervinding geleer het. Dit het beslis my Franse woordeskat uitgebrei want die onderwerpe was nie noodwendig deel van my kennis- of belangstellingsvelde nie. My deelname aan hierdie wedstryd het my belangstelling geprikkel oor wat die AUF verteenwoordig, wat hul doelstellings is en hul belangrike ondersteuning aan Franssprekende lande en individue."
“Aangesien ons nie woon in 'n land waar Frans deur vele gepraat word nie, het die AUF aan ons 'n geleentheid gebied om deel te word van hierdie Franse netwerk in Afrika, wat vir ons baie deure kan open," het sy bygevoeg.
Du Plooy sê dat een van die belangrikste dinge wat hy geleer het uit deelname aan die toernooi is die waarde van veeltaligheid.
“Gegewe die huidige gesprek op kampus rakende taal en tale in die algemeen het iets soos hierdie, om as 'n nie-Franssprekende land te wen teen Franstalige eerstetaal-sprekers, my laat dink oor die waarde van veeltaligheid. Om meer tale te kan praat is 'n goeie ding en iets wat gekoester en waardeer moet word. Ons het gevind dat ons soveel inligting oor sekere onderwerpe verkry het omdat ons die navorsing in Frans kon doen en in die proses onsself oopgestel het vir 'n wêreld van ander kennis waaraan ons andersins nie blootgestel sou gewees het nie."
Foto: Twee nagraadse studente, Mr Jaco du Plooy en Ms Willow-Ruby van der Berg, van die Universiteit Stellenbosch (US) het geskiedenis gemaak deur deel te wees van die heel eerste Suid-Afrikaanse span om die Franse inter-universitêre debat-stryd te wen wat deur die Agence Universitaire de la Francophone (AUF) aangebied is. (Foto geneem deur Aurélia Mouton)