Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Schumann-medaljewenner geloof vir haar veelsydigheid
Outeur: Daniel Bugan
Gepubliseer: 18/05/2021

​Die ontvanger van die CGW Schumann-medalje vir die beste nagraadse student van 2020 in die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe, Jamie Stolk, erken dat sy nie mooi geweet het wat aktuariële wetenskap was toe sy by die Universiteit Stellenbosch begin studeer het nie.

Die medaljewenner, wat onderskeidelik die grade BCom (Aktuariële Wetenskap) cum laude en HonsBCom (Aktuariële Wetenskap) cum laude in 2019 en 2020 ontvang het, was egter seker van één ding: haar liefde vir wiskunde.

“Ek het nie 'n duidelike begrip gehad van wat die kursus behels toe ek my kursus gedurende my skooldae op Glenwood House School gekies het nie," vertel sy. “Toe prof Garrett Slattery (hoof van Aktuariële Wetenskap) my in my eerste jaar op Stelllenbosch vra waarom ek aktuariële wetenskap wou studeer, het ek eenvoudig geantwoord: 'Omdat ek wiskunde geniet'.

“Maar wat ek wel geweet het, was dat ek strategies wou dink en ingewikkelde probleme op hoëvlak wou oplos. Ek het geweet dat 'n graad in aktuariële wetenskap my beter hiervoor sou toerus en dat die vaardighede wat ek sou ontwikkel op 'n wye verskeidenheid probleme in verskillende bedrywe toegepas kan word.

“Ek het my voorgraadse kursus werklik geniet en besluit om met my honneursgraad voort te gaan. Teen die einde van my studies het ek reeds 'n sterk belangstelling in bankwese en finansies ontwikkel."

Slattery het Stolk se vier jaar lange studie in die Departement Statistiek en Aktuariële Wetenskap as “voorwaar uitsonderlik" beskryf.

“Haar laagste punt was 80% en meer as die helfte van haar modulepunte was tussen 90% en 99%; dus het sy deurgaans 'n uitsonderlike begrip van die tegniese materiaal in die Baccalaureusprogram getoon.

“Sy het ook toppunte gekry vir haar honneursnavorsingsopdrag, asook vir die honneurshoofvak, Aktuariële Risikobestuur. In die Aktuariële Risikobestuur-eindeksamen het sy beter gevaar as al die studente van die ander drie universiteite wat hierdie eksamen geskryf het. Dit is raar dat 'n student soveel veelsydigheid in elk van die verskillende aspekte van ons program toon," het Slattery gesê.

Boonop is Stolk in die finale jaar van haar voorgraadse studie as topstudent in beide Aktuariële Wetenskap en Wiskundige Statistiek aangewys. In haar honneursjaar was sy weer eens die topstudent.

Stolk se universiteitsloopbaan het egter nie net om haar studies gedraai nie. As lid van haar koshuis se Connect-komitee was sy betrokke by die insameling van fondse vir sosiale impakprojekte. Sy was ook 'n lid van die vrywilligers- tutorkomitee wat studente met hul studies gehelp het.

“Ek het my tyd in Lydia-koshuis vreeslik geniet. Ek het ongelooflike meisies ontmoet en so baie van verskillende mense en kulture geleer. Ek het akademies baie hard gewerk, maar 'n gesonde balans is ewe noodsaaklik. Om aan sport deel te neem (netbal, tafeltennis en hokkie), studente met studies te help en in komitees te dien, was hoogtepunte vir my."

Stolk, wat tans 'n leerlingskap by Standard Bank se Afdeling Korporatiewe en Beleggingsbankdienste doen, beskou dit as 'n groot voorreg om die Schumann-medalje te ontvang. Die medalje is die hoogste eer wat die Fakulteit aan 'n student kan betoon en word sedert 1986 jaarliks toegeken. Dit is vernoem na prof CGW Schumann, 'n pioniersdosent van die Fakulteit sedert 1924, asook dekaan vir 'n kwarteeu vanaf 1935.

“Ek het glad nie geweet dat ek vir die medalje oorweeg word nie. Dit was 'n heerlike verrassing! Dit laat 'n mens nederig voel om uit te vind waarom die toekenning gemaak word en wie die vorige ontvangers daarvan was," het sy gesê.

Dié boorling van George is vol lof vir haar pa Jack, ma Liesl en susters Sarah en Chanelle vir die yslike rol wat hulle in haar akademiese sukses gespeel het.

“Die ondersteuning wat ek dwarsdeur my studie van hulle ontvang het, was deurslaggewend. My ouers en susters – en inderdaad die hele uitgebreide familie – is my grootste aanhangers en die mees ondersteunende klomp mense wat jy kan kry," sê Stolk.

Haar toekomsplanne is om die aktuariële raadseksamens (met spesialisasie in bankwese en finansies) af te lê en as 'n aktuaris te kwalifiseer.

  • Foto's verskafJamie Stolk1_web.jpg