Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Medalje vir agronomie-studie oor kalk se gebruik by gars, kanola
Outeur: Engela Duvenage
Gepubliseer: 18/05/2021

'n Voormalige MSc-student in agronomie, Ruan van der Nest, is vanjaar die mede-ontvanger van die gesogte Junior Kaptein Scott-gedenkmedalje. Dit word jaarliks deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns toegeken aan die beste MSc-student aan 'n plaaslike universiteit. Vanjaar het studente in plantkundige wetenskappe in aanmerking gekom.

Inskrywings van sulke hoogstaande gehalte is ontvang dat die Akademie besluit het om twee toekennings te maak eerder as net die gebruiklike een. Van der Nest se mede-ontvanger is Wilku Meyer van die Universiteit van die Vrystaat.

Van der Nest het sy MSc Agric-studies in 2019 en 2020 aan die US onder leiding van dr Pieter Swanepoel van die US Departement Agronomie, dr Johan Labuschagne van die Wes-Kaapse Departement van Landbou en dr Ailsa Hardie van die US Departement Grondkunde. Die navorsingswerk vir sy tesis, getiteld Liming strategies for barley and canola production in no-tillage systems is op sowat 150 plase regoor die Swartland en Suid-Kaap.

Van der Nest het in Desember 2020 gegradueer. Sy studieleier, dr Swanepoel, is in die wolke oor sy student se sukses, en sê: “Hy het nog altyd die vermoë gehad om onafhanklik te werk en 'n wetenskaplike eksperiment van uitstekende gehalte uit te voer. Die feit dat hy 'n artikel gepubliseer het in 'n hoog aangeskrewe internasionale tydskrif met 'n impakfaktor van 2.429 voordat hy sy MSc-proefskrif ingedien het, getuig daarvan, en was ook 'n bydraende motivering waarom die MSc cum laude aan hom toegeken is.

“Sy navorsing maak 'n belangrike bydrae tot nuwe kennis rakende die reaksie van dié twee gewasse op bekalkingspraktyke in die Wes-Kaap," vertel Swanepoel.

Van der Nest het onder meer grondopnames in die Suid-Kaap en Swartland gedoen om die omvang en geografiese verspreiding van grondsuurheid en stratifikasie te bepaal. Die grondmonsters wat hy op talle persele ingesamel het waar al jare geen bewerking toegepas word nie, het gewys dat veral die Swartland redelik suur grond het.

“Bykans 20% van grondmonsters uit die Swartland het 'n pH-vlak minder as 5.0, wat suboptimaal is vir die verbouing van koring, gars en kanola. Veral grond teen 'n diepte van 5 en 15 cm was geneig om suur te wees. Dit kan toegeskryf word aan die stadige beweging en reaksie van kalk met die grond," reken Van der Nest.

In 'n veldproef het hy die vorm, fynheid en suiwerheid van kalk ondersoek. Daarby het hy gekyk watter verskil die inwerk van verskillende grade kalk het op die chemiese eienskappe van grond, en hoe dit die groei en ontwikkeling van gars en kanola beïnvloed.

Hy het bevind dat beide gewasse nie sommer binne die eerste twee jaar al 'n reaksie sal wys op die toediening van kalk nie. Mikrofyn gekorrelde kalk wat teen die aanbevole peil toegedien is het vinniger as standaard Klas A-kalk beweeg in die grond, en het die vinnigste dit reggekry om grondsuurvlakke te neutraliseer sonder om grond te versteur. Grondversteuring deur bewerking, wat dikwels in terme van bewaringsboerdery nie gewens is nie, was egter steeds die mees effektiewe manier om grond-pH te neutraliseer op verskeie dieptes.

“Mikrofyn verkorrelde kalk is wel baie duurder as gewone klas A kalk, en boere sal vir hulself moet opweeg of die gebruik daarvan die hoër insetkoste regverdig," reken Van der Nest.

Kalk wat ingewerk is met verskillende grondbewerkingsaksies het effe beter plantgroei en ook -ontwikkeling by beide gars en kanola tot gevolg gehad.

“Die meer optimale groei is egter meer waarskynlik die gevolg van addisionele grondvoordele wat uit ploegaksies verkry word, soos om die kompaktering van grond te verhoed. Dit veroorsaak ook 'n afname in voedingstof-stratifikasie en die opname van voedingstowwe wat geleidelik beskikbaar gemaak word vir plante vanuit grondorganiese materiaal.

Van der Nest, wat in Pretoria grootgeword het en hoofseun van Cornwall Hill College was, sê hy het aanvanklik agronomie as studieveld gekies weens sy belangstelling en liefde vir die natuur en buitelewe.

“Soos wat ek meer kennis opgebou het van die grond, verskeie gewasse en landboustelsels het my belangstelling daarin gegroei," vertel Van der Nest, wat voorgraads Grondkunde en Agronomie as deel van sy BSc Agric-graad gevolg het.

Hy werk tans in Zambië vir Liseli Farms, en fokus op die verbouing van sitrus, pekanneute en verskeie soorte groente.