Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Derde golf op pad na ons
Outeur: Prof Stan du Plessis / Chairperson: ICBC
Gepubliseer: 18/05/2021

Terugvoer uit die IKBV


Beste kollegas en studente

Dit is amptelik – ons is vinnig op pad na 'n derde golf koronavirusinfeksies. Dit is nóú die tyd vir aksie deur dubbeld seker te maak ons kom COVID-19-protokols na.

Dít was die streng waarskuwing van prof Juliet Pulliam, Direkteur van SACEMA (die DWI-NNS Suid-Afrikaanse Sentrum vir Epidemiologiese Modellering en Analise), wat by die Universiteit Stellenbosch (US) gesetel is, aan ons Institusionele Komitee vir Bedryfsvoortsetting (IKBV) wat Maandag, 17 Mei 2021, vergader het.

Prof Pulliam het die jongste data, wat 'n volgehoue toename in infeksies landwyd toon, met die vergadering gedeel. “'n Nuwe golf word amptelik verklaar wanneer die sewedaagse bewegingsgemiddeld van die voorkoms van gevalle 30% van die vorige golf bereik. Ons het dit nog nie heeltemal bereik nie, maar ons beweeg vinning nader aan daardie drempel."

Teen 12 Mei was daar 'n toename van 35% in nuwe gevalle van COVID-19-infeksies in die Wes-Kaap in vergelyking met die vorige sewedagtydperk. In die Kaapse Wynland was hierdie syfer 40%, en in Stellenbosch spesifiek het dit met 80% toegeneem.

Prof Pulliam het nog 'n kommerwekkende aspek beklemtoon – die ouderdomsverspreiding van nuwe gevalle op Stellenbosch. “Toe die vorige golf sy einde genader het, het die meeste gevalle in die ouer ouderdomsgroepe (25–55 jaar) voorgekom. Nou begin die jonger ouderdomsgroepe uitspring (15–25)," het sy gewaarsku.

Kollegas en studente, kom ons beskerm nie net onsself nie, maar ook mekaar en ons gemeenskap. Elkeen moet 'n masker dra, ruimtes vermy waar mense saamdrom, 'n veilige fisieke afstand van ander handhaaf en gereeld ons hande was.

Dankie aan elkeen wat die protokols nakom, maar ons is ongelukkig bewus van skendings, veral in lesinglokale en rekenaargebruikerareas. Ons moet dit regstel en met ons COVID-veiligheidsambassadeurs saamwerk in almal se belang.

Sosiale en gedragsintervensies is uiters noodsaaklik in hierdie stadium, terwyl die land uitdagings in die gesig staar ten opsigte van die uitrol van die nasionale COVID-19-inentingsprogram. Intussen moedig ek jou aan moedig om so gou moontlik op die nasionale stelsel te registreer. Bevestig asb ook met jou siekefonds wat moontlik besig is om 'n databasis saam te stel om vinnige toegang te bewerkstellig wanneer dit jou beurt is.

Die IKBV neem ook kennis daarvan dat Suid-Afrika se nasionale ramptoestand weens die COVID-19-pandemie met 'n verdere maand tot 15 Junie 2021 verleng is. Dit geld reeds sedert 15 Maart 2020.

Kollegas en studente, ons bevind ons in 'n hoogs dinamiese situasie en omstandighede kan enige oomblik verander. Laat ons waaksaam bly en ons deel doen.

Pas julle self asb op en wees veilig,

Prof Stan du Plessis
Voorsitter: IKBV