Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Afrika-media bemagtig deur SGBS se entstof-wetenskapkursus
Outeur: FMHS Marketing & Communications / FGGW Bemarking & Kommunikasie – Sue Segar
Gepubliseer: 18/05/2021

Joernaliste in Afrika wat verslagdoen oor COVID-19 het ʼn noodsaaklike hupstoot ontvang deur middel van ʼn onlangse opleidingsprogram wat daarop gemik was om hulle beter toe te rus om oor COVID-19-entstowwe verslag te doen.

Die aanlyn-kursus, Vaccine Science 101, is gesamentlik aangebied deur die Sentrum vir Bewysgebaseerde Gesondheidsorg (SBGS) en die Bhekisisa Sentrum vir Gesondheidsjoernalistiek, ʼn onafhanklike media-organisasie wat op gesondheid- en openbare geregtigheidskwessies op die kontinent fokus.

Die kursus was saamgestel op die veronderstelling dat die COVID-19-pandemie “alle joernaliste oornag in gesondheidsverslaggewers verander het – maar sonder dat hulle toegerus is met die wetenskap en gesondheidkennis om akkuraat daaroor verslag te kan doen".

Dit het die werklikheid in ag geneem dat baie min media-organisasies oor die nodige fondse beskik om ʼn spesialis gesondheidsjoernalis aan te stel – en dat ʼn inleidingskursus nodig is oor verskeie aspekte van die wetenskap van entstowwe wat tans opslae maak.

“Joernaliste doen verslag oor baie aspekte van die lewe en nie alle joernaliste is gewoond daaraan om beriggewing oor gesondheid en wetenskap te doen nie. Met die aankoms van COVID-19 verlede jaar het gesondheid hoofnuus geword. Hierdie kursus was daarop gemik om die gaping te oorbrug en kapasiteit te bou sodat joernaliste ʼn beter begrip van COVID-19 kan ontwikkel," het Anel Schoonees, ʼn senior dosent in epidemiologie en biostatistiek gesê. Schoonees was die onderrigassistent vir die program.

Die inhoud vir die tweeweeklange inleidingskursus is deur Bhekisisa en prof Taryn Young van die SBGS saamgestel en is daarop gemik om joernaliste ʼn oorsig te gee oor die verskeie aspekte van entstof-wetenskap wat die afgelope tyd die voorblaaie haal. Die kursus is aangebied deur kenners vanuit die kontinent. Verteenwoordigers van 16 Afrika-lande het aan die kursus deelgeneem, ondermeer van Tunisië, Guinee, Kenia en Suid-Afrika.

Sowat 100 joernaliste het vir die kursus ingeskryf en daar was ongeveer 40 deelnemers by elke lesing. Deelnemers aan die kursus het vier 90-minutelange lesings bygewoon, insluitend vraag- en antwoord- sessies. Die lesings het ʼn reeks onderwerpe gedek wat met entstowwe verband hou.

Prof Hassan Mahomed, ʼn openbare gesondheidskenner by die Wes-Kaap se Departement van Gesondheid en voorsitter van die Wes-Kaap se COVID-19-entstofkenner adviesgroep, het die kursus afgeskop met ʼn sessie oor die ontwikkeling van entstowwe.

Hy het deelnemers ingelig oor hoe entstowwe werk en hoe dit deel uitmaak van openbare gesondheidstrategieë. Hy het ook ʼn oorsig gegee oor hoe die doeltreffendheid en veiligheid van entstowwe benader word, asook oor die COVID-19-entstowwe wat tans beskikbaar is.

Dr Richard Mihigo, direkteur van die entstof- en immunisasie-program by die Wêreldgesondheidsorganisasie se streekskantoor vir Afrika, het oor die implementering van entstofprogramme gepraat, insluitend die bestuur van die verkoelingsketting, tropimmuniteit en opname in die gemeenskap.

Prof Mary-Ann Davies, ʼn openbare gesondheidskenner by die Wes-Kaap se Departement van Gesondheid en die direkteur van die Sentrum vir Infeksiesiektes Epidemiologie en Navorsing by die Universiteit van Kaapstad, het oor variteite gepraat – hoekom ons dit het, en watse impak dit op entstofontwikkeling het; en by die vierde sessie het prof Charles Shey Wiysonge, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Nasionale Adviesgroep oor Immunisasie se entstof-weifelaar werkgroep, oor die verkrygingsmeganismes gepraat soos COVAX en die Afrika-unie se COVID-19-entstofprogram.

Volgens Schoonees was die kursus ʼn groot sukses en het hulle uitstekende terugvoer ontvang van joernaliste vanuit die kontinent.

Mia Malan, die stigter en hoofredakteur van Bhekisisa, het aanvanklik die SBGS genader met die oog daarop om saam die kursus aan te bied. Sy het gesê dit is duidelik dat die meeste COVID-19-verslagdoening in 2021 op entstowwe sal fokus “want ons is nou in die proses om dit te versprei".

“Entstofwetenskap en die verspreiding- en verkrygingsmeganismes kan ingewikkeld en verwarrend wees – veral vir joernaliste wat nie spesialis gesondheidsverslaggewers is nie, maar nou forseer word om oor COVID-19 verlag te doen weens die belangrikheid van die pandemie," het sy gesê.

“Ons het goeie terugvoer van die joernaliste ontvang wat aan die kursus deelgeneem het. Hulle voel meer vertroud met die wetenskap en verspreidingsvereistes van entstowwe, en het gesê dat hulle nou nie net ʼn beter begrip het van hoe entstowwe werk nie, maar ook beter toegerus is om hulle regerings verantwoordbaar te hou om entstowwe doeltreffend te bekom en te versprei.

“Die joernaliste was veral ingenome daarmee dat hulle die sessies weer kan kyk en dat hulle toegang het tot die PowerPoint-aanbiedings wat ons na elke sessie met hulle gedeel het. Ons het nie tans ʼn spesifieke opvolgkursus beplan nie, maar daar is wel ʼn webinaar in Augustus oor die gehalte van gesondheidsjoernalistiek in Afrika en ʼn aanlyn gesprek in Junie vir joernaliste en beleidmakers in Afrika oor wat COVID-19 ons geleer het oor universele toegang tot gesondheidsorg."

Al die materiaal van die kursus is hier beskikbaar: https://bhekisisa.org/resources-for-journalists/2021-04-09-the-jabs-that-could-save-us-an-introduction-to-covid-vaccines-for-journos/

Foto-erkenning: PIXABAY