Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
'n Dag in die lewe van: Qaqamba Mdaka
Outeur: Elbie Els
Gepubliseer: 11/05/2021

Qaqamba Mdaka is 'n gevallekoördineerder by die Universiteit Stellenbosch (US) se Eenheid vir Gelykwaardigheid en vier vanjaar haar vyfde jaar as 'n werknemer van die Universiteit.

In die maand van Werkersdag vertel ons jou meer oor van ons personeellede, en hulle rol om die ratte by ons instelling te laat draai. Mdaka het ons meer vertel van die belangrike werk wat sy by die Eenheid vir Gelykwaardigheid doen.

Wat is jou rol by die US?

Ek is betrokke by die bestuur van gevalle wat met onbillike diskriminasie, teistering, seksuele teistering en viktimisasie verband hou. Ek fasiliteer ook verskeie bewusmakingsessies vir sowel studente as personeellede.

Hoe lyk 'n tipiese dag by die werk vir jou?

'n Tipiese dag by die werk begin met 'n vergadering met my kollega, Larona Matee, om die jongste inligting en ontwikkelings ten opsigte van gevalle te bespreek. Daarna koördineer ek, in oorleg met die hoof van die Eenheid vir Gelykwaardigheid, die werk van die multidissiplinêre span wat die Eenheid bystaan om sake ooreenkomstig die Universiteit se beleide te hanteer.

Hoe het jou opleiding of vorige ervarings jou vir hierdie werk voorberei?

Vanjaar is baie spesiaal vir my, want ek het my in 2016 by die US aangesluit, so ek vier vyf jaar by die instelling. Ek het voorheen vir vyf jaar by die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling gewerk as 'n maatskaplike werker wat in slagofferbemagtiging spesialiseer. Daardie rol het statutêre werk ingesluit, soos om vir die hof slagofferimpakverslae oor seksuele aanrandingsgevalle te skryf. Ek het ook by tye in die hooggeregshof opgetree as 'n tussenganger vir kinders wat seksueel aangerand is. Ek sien watter impak seksuele geweld op slagoffers het, so ek is daartoe verbind om 'n empatiese en voordelige diens aan alle kliënte te voorsien.

Wat geniet jy die meeste van jou rol en werk by die US?

Ek geniet dit om te sien watter impak my rol op individuele lewens en die US-gemeenskap het – dit verander sienings, verskuif denkwyses en bevorder billikheid. Die vrye denke en die ontwikkelingsaspek wat met 'n pos by 'n hoëronderwysinstelling gepaardgaan, is ook iets wat ek geniet.

Die pandemie het verander hoe ons werk en leef. Wat hou jou in dié tyd gemotiveerd?

Ek sien uit na elke dag en pak dit met nuwe perspektief aan. Gesondheid en welstand is belangrik om te sorg dat ek op my beste funksioneer. Ek hou daarvan om my dag met gebed en meditasie te begin, waarna ek oefen of strek en 'n koppie warm water met suurlemoen drink. En om kop te hou, beplan en skryf ek altyd neer wat ek die dag moet doen.

Vertel ons iets van jouself wat min mense sou verwag/iets opwindend waarvan min mense weet.

Ek is 'n aspirantsjef van plantgebaseerde/vegetariese kos en het 'n Instagram-blad met ál my vegetariese en veganistiese disse. Ek is ook lief daarvoor om stories te vertel.