Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Oplossing van SA buitelandse skuldkrisis 1985/86 het “ordelike oorgang na demokrasie” vergemaklik
Outeur: Daniel Bugan
Gepubliseer: 11/05/2021

'n Unieke nuwe versameling in die Universiteit Stellenbosch (US) Biblioteek werp lig op hoe die oplossing van die Suid-Afrikaanse buitelandse skuldkrisis van 1985–1986 die weg berei het vir Nelson Mandela se vrylating en die oorgang na demokrasie. Die versameling is deur sir Claude Hankes (voorheen Hankes-Drielsma) geskenk, en is Vrydag (7 Mei 2021) amptelik bekend gestel.

Me Ellen Tise, senior direkteur van die US se Biblioteek- en Inligtingsdiens, sê die Universiteit is besonder bevoorreg om 'n versameling van hierdie omvang en historiese belang te ontvang. Dit vertel die verhaal van die soewereine skuldkrisis wat die apartheid-Suid-Afrika in die tweede helfte van 1985 getref het, waarop die regering nie anders kon as om 'n tydelike moratorium op alle korttermynskuldterugbetalings te plaas nie. Tise verduidelik: “Weens buitelandse opvattings van Suid-Afrika se politieke, binnelandse en ekonomiese vooruitsigte gedurende die skuldkrisis, het oorsese banke die een ná die ander krediet aan Suid-Afrikaanse banke en ondernemings begin onttrek. 'n 'Stilstand' in kapitaaldelging van die $14 miljard se skuld aan die oorsese banke is gevolglik verklaar. Samesprekings met die banke het gevolg, en dr Fritz Leutwiler, voormalige president van die Switserse Nasionale Bank, is as onafhanklike bemiddelaar aangestel, want verskeie banke het om politieke redes geweier om regstreeks met Suid-Afrika te werk."

Leutwiler het op sy beurt sir Claude Hankes, destydse voorsitter van die bestuursraad van Price Waterhouse & Vennote, versoek om 'n strategie op te stel, en het die firma aangestel om die infrastruktuur vir dié doel te voorsien. Sir Claude, ridder-kommandeur van die Koninklike Victoriaanse Orde, was voorheen betrokke by die oplossing van die Brasiliaanse en Filippynse skuldkrisisse, wat die gevolg was van Westerse banke se onverantwoordelike uitleenbeleide.

Belangrike toevoeging tot US Biblioteek

Die skuldkrisis van 1985 is al as 'n “episode in die pylvak van die teenapartheidstryd" beskryf (DD Bradlow, Don't waste a serious crisis: lessons from South Africa's debt crisis, 2016), en het onteenseglik 'n kernrol in Suid-Afrika se oorgang na demokrasie vervul.

Sir Claude verduidelik: “Min mense verstaan werklik hoe belangrik die oplossing van die krisis was vir die toekoms van hierdie wonderlike land. In plaas daarvan om die apartheidsera te verleng, het dit inderwaarheid die ordelike oorgang vergemaklik.

“Die uitdaging was om Suid-Afrika se skuld te herskeduleer op grond van die ekonomiese en politieke werklikheid. Dit was anders as in baie ander lande, waar banke onrealistiese voorwaardes afgedwing het en skuld dus oor en oor herskeduleer moes word, teen enorme koste. Ondanks alles is 'n ooreenkoms bereik."

Volgens Tise toon die versameling presies hoe verreikend en potensieel rampspoedig die krisis vir die Nasionale Party-regering was, en watter kernrol dit in Suid-Afrika se geskiedenis gespeel het. “Die proses om die krisis te hanteer is oënskynlik as 'n taamlik geheime operasie bedryf, so die versameling sal waarskynlik nuwe materiaal oplewer vir navorsers wat in die kwessie belang stel. Korrespondensie met individue soos die sakemagnaat dr Anton Rupert, die Brits-gebore eerwaarde Trevor Huddleston, 'n belangrike rolspeler in die apartheidstryd, sowel as voormalige president PW Botha maak deel uit van die versameling en toon hoe wyd, diep en ver die skuldkrisis gestrek het."

Die onttrekking van lenings aan Suid-Afrika het die land tot op die rand van selfs groter chaos gedryf. “Die versameling is 'n rekord van hoe die krisis afgeweer is," sê Tise. “Dit bied insig in hoe die strategie om die Amerikaanse banke se onrealistiese benadering te hanteer, met die hulp van Anton Rupert en Harry Oppenheimer in Suid-Afrika, op 'n blywende ooreenkoms uitgeloop het. Dit was uiteindelik die enigste herskedulering van soewereine skuld wat nié later opnuut beding moes word nie."

Sir Claude voeg by dat die versameling ook toon hoe die krisis en die hantering daarvan “die Britse eerste minister Margaret Thatcher en Duitse kanselier Helmuth Köhl gevolglik in staat gestel het om president Botha voor 'n ultimatum te stel om terug te staan" sodat Suid-Afrika gedemokratiseer en Nelson Mandela vrygelaat kon word. Trouens, dit sluit 'n brief in wat Mandela in 1994 in sy hoedanigheid as voorsitter van die African National Congress aan Leutwiler geskryf het. In die brief erken Mandela Leutwiler se kernrol in die herbedinging van die land se buitelandse skuld in die 1980's én in pogings om voormalige president Botha te oorreed om hom en sy kamerade uit die tronk vry te laat.

Van besondere navorsingswaarde

Die versameling, wat uit algemene korrespondensie, koerantknipsels, memorandums, tydlyne van gebeure en vergaderingnotules bestaan, is 'n unieke navorsingshulpbron. “Daar is tans hernude belangstelling in die geskiedenis en impak van ekonomiese sanksies teen Suid-Afrika, en in die faktore wat tot die uiteindelike magsverskuiwing in die destydse Suid-Afrikaanse regering gelei het," sê Tise. “Hierdie versameling is 'n ryke hulpbron in dié verband en kan nuwe lig werp op wat tussen 1985 en 1987 agter die skerms gebeur het. Dit bied unieke insig in die wêreld se destydse gesindheid jeens Suid-Afrika en sy apartheidsbeleide. Boonop toon dit die rol wat Suid-Afrika se sosiopolitieke onstuimigheid in gesprekvoering gespeel het, en die beslissende impak van sosiale stabiliteit op sienings van 'n land se kredietwaardigheid."

Volgens prof Eugene Cloete, Viserektor: Navorsing, Innovasie en Nagraadse Studie aan die US, maak hierdie toevoeging tot die US Biblioteek se Spesiale Versamelings deel uit van voortdurende diversifisering van die Universiteit se biblioteekversamelings. “Die dokumenteversamelings is die afgelope paar jaar gediversifiseer deur versamelings in te sluit wat die verhaal van Suid-Afrika se reis na demokrasie sowel as die land se meer onlangse geskiedenis vertel." Dít sluit in die Frederik Van Zyl Slabbert-, IDASA- en digitale Vrye Weekblad-versameling, en meer onlangs ook die skenking van die ganse Noseweek-reeks.

“Hierdie skuldkrisisversameling is 'n uitstekende toevoeging, en dit is 'n voorreg vir die Universiteit om met die bewaring van hierdie kennis vertrou te word. Dis veel meer as net 'n nuwe versameling; dit skep 'n gemeenskap van leer en kennisontdekking," sê prof Cloete.

Blik op die verlede, en rigtingwyser vir die toekoms

Prof Thuli Madonsela, bekleër van die leerstoel in sosiale geregtigheid in die US se Fakulteit Regsgeleerdheid en gasspreker by Vrydag se bekendstelling, sê die versameling is van enorme geopolitieke belang, en deel van die seismiese verskuiwing wat tot demokrasie in Suid-Afrika gelei het. “Dit bied 'n blik op gebeure in die verlede waarvan niemand tot nou toe geweet het nie, en ook 'n kykie na waarheen ons op pad is. Dit herinner ons dat Suid-Afrika in 'n stadium 'n infleksiepunt bereik het waar die land moes besluit om links of regs te draai, en die betrokke leiers tussen vrees en hoop moes kies om vorentoe te beweeg. Vir my lyk dit of hulle hoop gekies het."

Madonsela voeg by dat Suid-Afrika toevallig nou weer 'n infleksiepunt bereik het en voor skuld- en ander kommerwekkende kwessies staan. “Moet ons as 'n land ons skuld verhoog sodat ons kan betaal vir inklusiewe ontwikkeling wat met die volhoubare ontwikkelingsdoelwitte strook, en met ons grondwetlike belofte van 'n demokrasie wat op sosiale geregtigheid en fundamentele menseregte gegrond is?" vra sy. “En hoe hanteer ons sake soos grond en klimaatsverandering? Wat vir my uit die agtergrond van hierdie versameling veral duidelik is, is die krag van kommunikasie, en dat ons voortaan behoorlike eenstemmigheid oor hierdie sake moet bereik."

Die versameling sal vanaf 1 Julie 2021 vir navorsing beskikbaar wees, en word in die Dokumentesentrum van die US Biblioteek se Spesiale Versamelings gehou.

Samestelling van die versameling

Die versameling oor die Suid-Afrikaanse buitelandse skuldkrisis van 1985/86 is in vier algemene kategorieë ingedeel:

  • Banke. Hierdie afdeling bevat korrespondensie aan en antwoorde van voorsitters van oorsese banke, 'n samevatting van die banke se tegniese reaksies, lyste van banke wat gekontak is, en die skuldbedrae by elke instelling.
  • Materiaal met betrekking tot die Suid-Afrikaanse Skuldstilstandkoördineringskomitee
  • Nieamptelike opmerkings en oordenkings oor die hele proses om die krisis op te los, wat 'n unieke perspektief bied
  • Algemeen. Dít sluit sowel algemene as administratiewe korrespondensie, koerantknipsels, toesprake, verslae, tydlyne van gebeure en dies meer in.

Items in alle kategorieë en subkategorieë sal alfabeties of chronologies gerangskik word, na gelang van die tipe materiaal. Uiteindelik sal 'n volledige inventaris van die versameling, met beskrywings en opsommings van die vernaamste materiaal, tesame met outeur-, titel- en onderwerpindekse, beskikbaar gestel word om navorsers maklike toegang tot spesifieke items in die versameling te bied. Die versameling sal ook mettertyd gedigitaliseer word.