Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Die US vier die hele week Internasionale Aardedag
Outeur: Facilities Management
Gepubliseer: 06/05/2021

​Die Universiteit Stellenbosch het Aardedag (22 April 2021) vir die eerste keer gevier met 'n weeklange aktiwiteitsprogram om bewustheid rondom volhoubaarheid op die Stellenbosch en Tygerberg kampusse te verhoog. Van nuwe groentetuine by koshuise, 'n webinar oor die herstel van die aarde, die aanplant van bome by die Ou Hoofgebou tot 'n toer op die dak van Die Neelsie vir 'n blik op die grootste fotovoltaïese aanleg nog op die kampus, was items op die program vir die week 19 tot 23 April 2021.

Studente het ook verskillende betrokkenheidsessies gereël, soos om Spekbome op die kampus weg te gee, kritiese besprekings te voer, dokumentêre films te kyk, strande skoon te maak en aanlynbewustheidsveldtogte te kyk.

John de Wet, US se omgewingsvolhoubaarheidsbestuurder by Fasiliteitsbestuurder, en projekkoördineerder, Christine Groenewald, het gedurende die week gasheer gespeel om studente en ander gaste in te lig oor die projekte waaraan hulle reeds werk om die US 'n omgewingsvolhoubare universiteit te maak.

Die Aardedag-tema van vanjaar is "Herstel ons aarde", wat natuurlike prosesse dek, asook groen tegnologie en innovasies om die wêreld se ekosisteme te herstel.

In 'n webinar het John, Christine en kollegas Dannica Pedro en Taariq Fakier bewusmaking rondom die gesondheid van die planeet aarde verhoog en mense ingelig oor belangrike projekte wat aan die gang is om die US se koolstofvoetspoor te verminder. “Die US is daartoe verbind om die impak wat sy besigheid en bedrywighede op die omgewing en sy natuurlike hulpbronne veroorsaak, te verminder. Ons bied ook aan ons gegradueerdes die nodige vaardighede en hulpmiddels om deur kennis en navorsing tot 'n omgewingsvolhoubare wêreld by te dra," het John gesê.

Die US se nuwe omgewingsvolhoubaarheidsplan vir die volgende vyf jaar is die Universiteit se toekomsriglyn om te verseker dat ons kampusse omgewings- en ekologies volhoubaar word.

John sê: “Die plan lei en prioritiseer die omgewingsprojekte vir wat ons moet ondersoek en implementeer. Dit sal meer veerkragtige en groener kampusse tot gevolg hê, laer bedryfskoste en 'n vermindering in emissies en die verlaging van ons koolstofvoetspoor."

 

Tans is daar 'n paar praktiese projekte en ingrypings aan die gang by Fasiliteitsbestuur as deel van ons reis om ons bedrywighede  koolstofvry te maak, soos die nuut geïnstalleerde fotovoltaïese panele op die dak van die Neelsie-studentesentrum. Soortgelyke installasies van fotovoltaïese-panele sal binne die volgende vyf jaar op ons kampusse voltooi word.

John noem ook die suksesvolle installering van 'n gryswaterstelsel op kampus en ingrypings soos waterbesparende toebehore.

Die Earth Week Awareness-veldtog het die pas aangegee vir die volgende inligtingintervensies op ons kampusse. In haar deel van die aanbieding het Christine gefokus op die belangrikheid van verantwoordelike gedrag en hoe belangrik dit is om ons keuses te heroorweeg as dit kom by eenvoudige dinge soos om jou hande onder 'n lopende kraan te was. “Ek sê altyd vir mense: kies een aksie per maand wat 'n positiewe uitwerking op ons omgewing het, en na 'n jaar het jy twaalf nuwe gewoontes gevorm."

Die span het personeel en studente versoek om betrokke te raak en kontak te maak met eendersdenkende individue om ekstra motivering, idees en energie te skep om ons planeet te bewaar en te herstel.

As jy belangstel om betrokke te raak by 'n kampusnetwerk wat individue verbind wat wil help om 'n omgewingsvolhoubare kultuur te vestig en daadwerklik saamwerk om die US se koolstofvoetspoor te verminder, kontak Christine by clgroenewald@sun.ac.za, of Dannica by dpedro@sun.ac.za.​