Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US gereed om nuwe plan vir personeelgesondheid en -welstand te implementeer
Outeur: Corporate Communication and Marketing Division / Afdeling Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking
Gepubliseer: 04/05/2021

Die Rektoraat het onlangs die Universiteit Stellenbosch se plan vir personeelgesondheid en -welstand ná uitgebreide oorlegpleging met die Universiteit se belanghebbendes, tien fakulteite en sewe verantwoordelikheidsentrums goedgekeur.

Die plan ondersteun een van die US se kerndoelwitte, naamlik om 'n voorkeurwerkgewer te wees deur die gesondheid en welstand van Universiteitspersoneel te verbeter. Dít word gedoen deur 'n instaatstellende, inklusiewe, billike, gesonde en veilige werks- en leeromgewing te skep en te bevorder, waar personeel gewaardeerd voel en ten volle tot die US se uitnemendheid bydra.

Volgens prof Nico Koopman, Viserektor: Sosiale Impak, Transformasie en Personeel, is personeelgesondheid en -welstand 'n institusionele prioriteit en vereiste. Die belang daarvan word onderstreep deur Visie 2040 en Strategiese Raamwerk 2019–2024, die US se werknemerwaardevoorstel, sowel as verskeie personeelverwante besluite en aksies van die Universiteit. Dit is ook in 2019 uitdruklik as 'n rooiligprioriteit aanvaar.  

“Ons wil graag 'n kultuur van gesondheid en welstand skep en die nodige steun en strukture voorsien wat tot bevorderlike praktyke vir personeelwelwees sal lei. Gesondheid en welstand behoort as 'n gesamentlike verantwoordelikheid van die US én individuele werknemers beskou te word. Ons almal moet 'n werkplek en institusionele kultuur help bou wat gesondheid en welstand bevorder," sê prof Koopman.

Die Rektoraat het 'n taakgroep aangestel om 'n institusionele gesondheid- en welstandstrategie vir die hele kampusgemeenskap op te stel. Taakgroeplede was Pierre Viviers (voorsitter), Nico Koopman, Victor Mothobi, Shibu Mamabolo, Munita Dunn-Coetzee, Nicolette van den Eijkel, Claire Kelly en Joanne Williams (koördineerder). Hulle is bygestaan deur 'n adviespaneel van interne kenners, naamlik proff Lizette Rabe, Anneke Rudman, Wayne Derman, Daniel Malan, Aletta Odendaal en Gina Görgens Ekermans.

Die strategiese doelwitte van die plan strook met dié van Higher Health, die konsortium wat gesondheid en welstand in die naskoolse opleiding- en onderwyssektor rig, sowel as met die US se oorhoofse strategiese temas. Die doelwitte is om:

  • fisiese en psigososiale toestande te voorkom en die risiko, duur en gevolge daarvan te verminder;
  • geïntegreerde institusionele verslagdoening te verseker (soos aan die Rektoraat/Senaat/Raad);
  • 'n verandering in institusionele gedrag, kultuur en praktyke teweeg te bring om gesondheid en welstand te verbeter (onder meer die bekendstelling van aanwysers om gedragsverandering te moniteer en te meet); en
  • individuele gedragsverandering vir beter gesondheid en welstand aan te moedig.

Volgens dr Pierre Viviers, die hoof van die US se Kampusgesondheidsdiens, sal die plan personeelgesondheid en -welstand op 'n proaktiewe en holistiese manier bevorder. Hy sê gesondheid en welstand behoort 'n verankerde verantwoordelikheid by die US te wees, met alle omgewings wat verantwoordelikheid vir hulle personeel se welwees aanvaar, en behoorlike koördinering tussen omgewings en die toepaslike kenners om gesondheid en welstand te bevorder. Viviers benadruk ook dat hoewel die gesondheid en welstand van personeel en studente van mekaar onderskei moet word, die twee steeds onderling verbind is en mekaar beïnvloed.

Die implementering van die plan sal binnekort begin onder leiding van die Institusionele Komitee vir Personeelgesondheid en -welstand (IKPGW), wat die Rektoraat vir dié doel saamgestel het en wat ten minste twee maal per jaar aan die Rektoraat sal verslag doen. Die eerste vergadering van dié pas gestigte komitee het op 11 Maart 2021 plaasgevind. Die IKPGW sal sorg dat die gesondheid- en welstandsplan 'n toeganklike en insiggewende instrument is wat gesondheid- en welstandspraktyke by die US rig, koördineer en bevorder.

“Noudat ons die plan begin implementeer, sal ons op terugvoer uit die verskillende omgewings én uit die opname oor personeelkultuur en -klimaat staatmaak om ons te lei. Ons sal met personeel skakel en hulle op hoogte van gesondheid- en welstandsake hou," sê prof Koopman. “In hierdie onseker tyd skenk ons spesiale aandag aan gesondheid en welstand. Ons nooi personeellede om ons Kampusgesondheidsdiens, die Welweeskantoor sowel as Careways vir welweesbystand te nader terwyl ons saam 'n pad deur hierdie jaar baan. Ons moenie net op papier goed lyk nie, maar ook op die speelveld."

Kontakbesonderhede:

Kampusgesondheidsdiens: Stellenbosch 021 808 3494/6; Tygerberg 021 938 9590

Welweeskantoor: Me Shibu Mamabolo, shibu@sun.ac.za

Careways: 0800 004 770 / SMS jou naam na 31581 / ewp@carewaysgroup.com