Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Persvryheid belangrik vir gehalte-joernalistiek
Outeur: Gawie Botma
Gepubliseer: 04/05/2021

Maandag (3 Mei) was Wêreldpersvryheidsdag. In ʼn meningsartikel vir Cape Times probeer dr Gawie Botma (Departement Joernalistiek) antwoorde vind op die volgende vrae: Wanneer word inligting joernalistiek? en Wat is die verhouding tussen joernalistiek en persvryheid? Lees die gedeeltelik vertaalde weergawe van die artikel hier onder.

Gawie Botma*

Vanjaar se tema van Wêreldpersvryheidsdag (3 Mei), “Inligting is 'n openbare voordeel (Information is a public good), ontlok die volgende vrae: Wanneer word inligting joernalistiek? en Wat is die verhouding tussen joernalistiek en persvryheid? Hierdie artikel ondersoek die geskiedenis van die Suid-Afrikaanse koerantwese op soek na antwoorde.

Die eerste koerant in (wat vandag deel uitmaak van) Suid-Afrika was The Cape Town Gazette and African Advertiser / Kaapse Stads Courant en Afrikaansche Berighter, 'n tweetalige weeklikse koerant wat vir die eerste keer in die Kaapse Kolonie tydens die Britse besetting in 1800 verskyn het. Hoewel dit deur 'n private maatskappy (wat onder meer 'n aandeel in die winsgewende slawehandel gehad het), uitgegee is, was die koerant (kortweg die Gazette genoem) reg van die begin af “onder die bekragtiging van die regering".

Die pers en koerant was dus nie “vry" nie – tydgenootlike waarnemers wat bekend was met die groeiende koerantbedryf in Europa en Noord-Amerika maar nie in die “kolonies" tot later in die 19de eeu, erken dit en kla daaroor. Koloniale owerhede het in daardie tyd van konstante Europese konflik en oorloë geredeneer die pers is 'n inspirerende, opvoedkundige, opheffende instrument, maar dit het ook die verspreiding van revolusionêre idees onder die bevolking moontlik gemaak – iets wat die status quo kon bedreig. Met ander woorde, sommige inligting, maar nie alles nie, is in die vroeë 19de eeu tot voordeel van die publiek beskou. Die destydse owerhede het, net soos vandag, die vloei van inligting beheer en probeer om dit te monopoliseer ten einde te verseker dat slegs die inligting wat hulle as goed beskou, die publiek bereik.

Hedendaagse vakkundiges in liberale grondwetlike demokrasieë soos Suid-Afrika beskou egter dikwels nie inligting wat in onderdrukkende politieke omgewings geskep word – wat die inhoud van die Gazette insluit – as joernalistiek nie. Ons huidige begrip is dat joernalistiek die vrye sirkulasie van nuttige inligting, verpak as nuus, onder landsburgers behels. Ideaal gesproke sal joernalistiek landsburgers in staat stel om hul openbare en private regte uit te oefen en pligte na te kom. Enige joernalistieke student sal vir jou sê joernalistiek vereis onafhanklikheid van regeringsbeheer en sensorskap, wat duidelik nie die geval met die Gazette was nie.

Maar is politieke beheer en invloed die enigste moontlike faktor wat joernalistiek onbevoeg maak? Wat van handelsbelange? Klik hier om te lees wat dr Gawie Botma, 'n senior dosent in die departement Joernalistiek van die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch oor hierdie kwessies sê.