Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US betreur die afsterwe van SR-lid me Nomzamo Buthelezi
Outeur: Korporatiewe Kommunikasie / Corporate Communication
Gepubliseer: 01/05/2021

Dit is met skok en hartseer dat die Stellenbosse Universiteitsgemeenskap vandag (Saterdag 1 Mei) van die afsterwe van ʼn lid van die Studenteraad, me Nomzamo Buthelezi, verneem het.

Volgens die inligting tot die Universiteit se beskikking, is me Buthelezi oorlede nadat sy beseer is ʼn vermeende tref-en-trap-voorval in Merrimanlaan, Stellenbosch.

Me Buthelezi, ʼn BSc-student van Gauteng, het in ʼn senior koshuis op die kampus gewoon.

“Ons is verpletter deur die nuus. Sy was ʼn gewilde lid van die SR,” het dr Choice Makhetha, Senior Direkteur: Studentesake, gesê.

“Die omstandighede rondom haar dood maak deel uit van die polisie-ondersoek, so die Universiteit wil nie nou daaroor kommentaar lewer nie, maar ons doen ʼn dringende beroep op die polisie om seker te maak dat die skuldige party(e) aangekeer word.

“Ons waardeer die ondersteuning wat die nooddienste verskaf het, insluitend die hulp van Kampussekuriteit,” het sy bygevoeg.

Mnr Xola Njengele, SR-voorsitter, het gesê: “Ons is diepbedroef oor die verlies van ons geliefde spanlid, Nomzamo Buthelezi. In haar rol as SR-beleidsbeampte en Voorsitter van die Verenigingsraad het sy onskatbare bydraes tot ons span en die Universiteit in die geheel gelewer.

“Voorts was sy ʼn opregte vriendin en vertroueling, en het almal rondom haar diep geraak. Haar heengaan laat ʼn groot leemte in ons harte en dié van haar vriende, familie en kollegas. Dit was ʼn voorreg om met so ʼn dinamiese persoon saam te werk. Ons sal jou mis, Nomzamo. ”

Prof Deresh Ramjugernath, Viserektor: Leer en Onderrig, het die Universiteit se innige meegevoel met me Buthelezi se familie en vriende betuig.

Die Universiteit is in kontak met me Buthelezi se familie, en bied die nodige ondersteuning aan die SR. Enige student wat berading benodig, word aangemoedig om die 24-uur-krisisdiens te kontak (010 205 3032 ná ure, en 021 808 4994 gedurende werksure).

Die Universiteit bied sy volle ondersteuning aan Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD), wat die omstandighede rondom die voorval ondersoek, en doen ʼn beroep op die kampusgemeenskap om die privaatheid van die betrokkenes te respekteer en om nie op sosiale media oor die saak te bespiegel nie.

• Enigiemand met meer inligting oor die voorval word versoek om die Stellenbosse SAPD te kontak, by telno 021 809 5015/12.