Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US handhaaf bestendige prestasie op wêrelduniversiteitsranglyste
Outeur: Corporate Communication & Marketing / Korporatiewe Kommunikasie & Bemarking [Alec Basson]
Gepubliseer: 30/04/2021

Die Universiteit Stellenbosch (US) handhaaf sy bestendige prestasie op die internasionale universiteitsranglyste en gaan voort om sy plek onder die beste tersiêre instellings ter wêreld te verstewig. Nadat die instelling in 2020 op drie groot universiteitsranglyste verskyn het, pryk dit nou ook op die Sentrum vir Wêrelduniversiteitsranglyste (CWUR) se lys van die top 2 000 universiteite vir 2021/22. Hierdie jongste prestasie plaas die US onder die beste 1,4% van universiteite wêreldwyd.

Die CWUR het vanjaar 19 788 instellings beoordeel en dié wat die beste gevaar het, is by die internasionale lys van 2 000 ingesluit. Die US is nommer 435 – net effens laer as verlede jaar – en een van 13 Suid-Afrikaanse universiteite op die lys.

Die CWUR-lys, wat sedert 2012 jaarliks verskyn, word as die grootste akademiese ranglys van universiteite wêreldwyd beskou. Tersiêre instellings word beoordeel aan die hand van vier maatstawwe – onderwysgehalte (25%), indiensneming van alumni (25%), gehalte van akademiese personeel (10%) en navorsingsprestasie (40%) – sonder om op opnames en universiteite se eie datavoorleggings staat te maak.

Die US was in Maart vanjaar óók onder die voorste universiteite ter wêreld op die Times Higher Education-universiteitsranglys vir ontluikende ekonomieë.