Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
HERBEDINK INTERNASIONALISERING AS AANGEVULDE OMVATTENDE INTERNASIONALISERING
Outeur: Robert Kotze, Senior Director: Stellenbosch University International
Gepubliseer: 29/04/2021

COVID-19 het in 2020 die internasionaliseringslegkaart wat alle universiteite aan die bou was, ontwrig. Baie internasionaliseringspraktisyns was aanvanklik verlore toe fisiese mobiliteit tot stilstand gebring is. Nietemin het ons kort voor lank vanuit ons tuiskantore besef dat alles nie tot niet is nie – die internasionaliseringslegkaart is nie tot niet nie; die stukke is net anders, interessanter en effens meer “kantig", en lê en wag dat ons dit ontdek en by ons bestaande kernstukke insluit.

Een van ons kernstukke by die US is ons definisie van internasionalisering, wat soos volg lui:

'n Institusionele verbintenis om op doelbewuste en omvattende wyse 'n internasionale, tussenkulturele en globale dimensie by die doel, funksies en programme van alle US-studente en -personeel te integreer ten einde die gehalte en impak van leer en onderrig, navorsing en innovasie tot sinvolle diens van die samelewing te bevorder.

Die omskrywing van internasionalisering as “omvattend" impliseer dat dit oor die hele instelling strek en alle aspekte van die Universiteit raak – oorsigbestuur, organisatories, navorsing, akademiese programme, skakeling, reputasie en innovasie – wat alles onderstut word deur studente en personeel, die mense wat uiteindelik baat vind by die legkaart. Hierdie aspekte is onderling verbind en veelsydig, en daarom verg dit samewerking tussen interne en eksterne belanghebbendes om die internasionaliseringslegkaart te bou.

Die pandemie is steeds met ons. Dit vereis voortdurend soepel reaksies en goeie navigasievaardighede om die akademiese projek bymekaar te bring en te hou. Die US het nou op institusionele vlak van noodafstandsonderrig, -leer en -assessering (ERTLA) na aangevulde afstandsonderrig, -leer en -assessering (ARTLA) beweeg, wat uit 'n kombinasie van kontakonderrig, aanlyn en hibridiese leer bestaan. Ook by US Internasionaal het ons van eendimensionele noodinternasionalisering (“om almal weer veilig by die huis te kry") na 'n meer genuanseerde fase beweeg, wat ek aangevulde omvattende internasionalisering noem.

“Aangevul" beteken oor die algemeen “van groter omvang of waarde". In musiekverband dui dit op 'n interval “'n halftoon hoër as die ooreenstemmende rein of volmaakte interval". En in 'n bemarkingsomgewing is 'n aangevulde produk een wat die verkoper met “bykomende kenmerke of dienste" verbeter het om dit van mededingers s'n te onderskei; “die insluiting van ontasbare voordele of toegevoegde waarde wat oor méér gaan as die produk self".

As gevolg van die pandemie het US Internasionaal nie net op ons kernstukke gekonsentreer nie, maar ook na daardie interval “'n halftoon hoër" gereik. Ál die moontlikhede van die virtuele wêreld, wat ironies genoeg altyd daar was, stel ons nou in staat om ons “produk" te verbeter om “oor méér as die produk self" te gaan deur die volgende opwindende stukke by ons internasionaliseringslegkaart in te sluit:

  • Meer virtuele afvaardigingsbesoeke met vennote om die impak van vennootskappe te versterk. Ons hoef nie meer vir 'n besoek of konferensie te wag om in te haal, en dan weer by die huis te gaan wag vir die verslag nie. Meer kollegas kan op dieselfde tyd “in-Zoom" en almal is op hoogte van sake, wat groter en wyer eienaarskap binne die vennootskap teweegbring.
  • Die verryking van lesingprogramme deur die vermoë om 'n klas van enige plek ter wêreld “in te Zoom", wat nuwe metodes bied vir “internasionalisering tuis" as deel van globale genetwerkte leer
  • Meer genetwerkte interaksie namate ontluikende universiteitsalliansies en -konsortia hulle voete aanlyn vind, wat nuwe stukrag verleen aan nuwe gesprekke tussen bestaande bilaterale vennote wat tot dieselfde groep behoort
  • Meer moontlikhede om akademiese administratiewe prosesse aanlyn af te handel, wat meer tyd laat vir kort, bestuurde interaksies van aangesig tot aangesig. Ons het in dié verband vroeër vanjaar ons eerste aangevulde, hibridiese verwelkomingsprogram vir nuwe kontak- en aanlyn internasionale semesterstudente aangebied. So, hoewel ons nog baie moet leer en verbeter, ís dit moontlik.
  • International@SU-vergaderings met bestuurders van US Internasionaal, hoofde van kampusse se internasionale kantore, en ons kollega in Brussel, wat koördinering verbeter
  • International@Faculty-forums met 'n skakelpersoon in US Internasionaal om beter steun vir fakulteitsinisiatiewe te verseker

    Die vraag is: Waarom het ons dit nie voorheen gedoen nie? Dalk het ons te veel op die prent op die legkaartverpakking (die strategiebloudruk?) gekonsentreer. Die pandemie het daardie verpakking gebreek. Nou leer ons dat die prent aangevul kan word, omvattender kan wees, en soveel meer as wat jy op die verpakking sien.

     

    Robert Kotzé

    24 Maart 2021


.