Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Japan-US-webinaar bespreek streeksamewerking
Outeur: Prof Scarlett Cornelissen : Department of Political Science
Gepubliseer: 28/04/2021

Die Universiteit Stellenbosch se Departement Politieke Wetenskap en die Japanse ambassade in Suid-Afrika was op 24 Maart 2021 medegashere van 'n webinaar om die aandag te vestig op die verskillende maniere waarop die vernaamste Asiese ekonomieë met Afrika skakel, en die ontwikkelings- en politieke impak wat dít op die Afrikavasteland kan hê.

Die webinaar “Japan, Africa and the Free and Open Indo-Pacific" het oor Japan se strategie vir  'n vrye en oop Indo-Pasifiese streek (oftewel die FOIP-strategie) gehandel – 'n diplomatieke inisiatief van die Japanse regering om samewerking op gebiede soos maritieme sekerheid, handel en infrastruktuur in die Indo-Pasifiese streek aan te moedig. Dié streek strek van die Asië-Stille Oseaangebied oor die Indiese Oseaan, tot by die Midde-Ooste en Afrika, en bevat van die snels groeiende ekonomieë ter wêreld. Deur sy FOIP-strategie beoog Japan om fisiese en institusionele konnektiwiteit in die streek teweeg te bring en sodoende tot wêreldwye ekonomiese groei by te dra.

Kenners van Asië en Afrika het vir die geleentheid ingeskakel. Hulle gesprekke het om die doelwitte van die FOIP-strategie, die verband tussen die strategie en ander groot diplomatieke inisiatiewe sowel as die potensiaal vir Afrika-ontwikkeling gedraai.

Die Japanse ambassadeur in Suid-Afrika, mnr Norio Maruyama, het inleidende opmerkings gemaak. Daarna het hoofspreker prof Yuichi Hosoya, 'n professor in internasionale politiek aan Keio-universiteit in Tokio, die oogmerke van die FOIP-strategie bespreek, en beklemtoon dat die strategie teen 'n groter geopolitieke agtergrond beskou moet word. Volgens prof Hosoya sluit daardie agtergrond ook die belange van ander groot ekonomieë in, veral China, wat op sy beurt sy Gordel-en-Pad-inisiatief bevorder.

Laastens het dr Veda Vaidyanathan, 'n genoot van die Instituut vir Chinese Studie in Nieu-Delhi, Indië, en dr Cobus van Staden, 'n senior navorser by die Suid-Afrikaanse Instituut van Internasionale Aangeleenthede, besin oor die rol wat state soos China en Indië in Afrika se politieke ekonomie speel. Albei sprekers het klem gelê op die sinergieë wat in Asië se skakeling met Afrika gevind kan word, en hoe Asiese moondhede infrastruktuurontwikkeling op die Afrikavasteland kan ondersteun.

Die webinaar is met die administratiewe steun van US Internasionaal aangebied. Die geleentheid het op vorige akademiese, navorsings- en uitruilsamewerkingsprogramme tussen Japan en Suid-Afrika voortgebou. Een so 'n program was 'n gesamentlike seminaar wat in Augustus 2018 op Stellenbosch gehou is om die honderdste bestaansjaar van die Japanse diplomatieke sending in Afrika te vier, wat in 1918 in Kaapstad gevestig is. Die seminaar het met die Universiteit Stellenbosch se eie eeufees in 2018 saamgeval.