Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
’n Terugblik op die US se deelname aan Erasmus+ noudat nuwe programfase begin
Outeur: Alecia Erasmus: Coordinator: Partnership Development & Erasmus+ Programmes
Gepubliseer: 28/04/2021

Nadat die vorige Erasmus+-program 2014–2020 verlede jaar verstryk het, is die nuwe weergaweErasmus+ 2021–2027 – teen die einde van Maart 2021 bekend gestel.

Erasmus+ is 'n program van die Europese Kommissie se Onderwys-, Oudiovisuele en Kultuurbestuursagentskap. Dit voorsien toelaes vir 'n wye verskeidenheid aktiwiteite, met 'n sterk klem op internasionale samewerking tussen vennootlande, veral op die gebied van die hoër onderwys. Dít stel die program oop vir wêreldwye institusionele samewerking en mobiliteitsgeleenthede vir universiteitstudente en -personeel.

Met bykans dubbel die vorige begroting sal die nuwe program die aksies van die vorige een versterk, en is die doel om oor die volgende sewe jaar tien miljoen mobiliteitsprojekte te finansier.

Die Universiteit Stellenbosch (US) was 'n gewaardeerde Erasmus+-vennoot gedurende die vorige program, veral onder kernaksie 2, “Samewerking vir innovasie en die uitruil van goeie praktyke". Vir hierdie aksie het deelnemende organisasies saamgewerk om beste praktyke en innoverende benaderings op die gebied van die onderwys, opleiding en die jeug te ontwikkel, uit te ruil en oor te dra. Kernaksie 2 het uit vier kategorieë bestaan, waarvan “Vermoëbou op die gebied van die hoër onderwys" (of CBHE) die terrein was waarop die US meestal gewerk het. Die US was sedert 2014 'n vennoot in agt CBHE-projekte, waarvan die instelling ook een gekoördineer het. Die projekte was soos volg:

  • Die versterking van nagraadse omgewings (EPE) (https://postgradenvironments.com/)
  • Internasionale leernetwerk oor volhoubaarheid (LeNSin) (http://www.lens-international.org/about)
  • Die ontwikkeling van 'n geharmonieerde modulêre kurrikulum vir die slimnetwerk (DAMOC) (https://damoc.eu/)
  • Die versterking van samewerking, leierskap en professionalisering in navorsingsbestuur in SAOG- en EU-hoëronderwysinstellings (SToRM), met die US as koördineerder (https://sites.google.com/view/projectstorm/home)
  • Vermoëbou deur die implementering van 'n mhGAP- mobiele intervensie in SAOG-lande (MEGA) (https://mega.turkuamk.fi/)
  • Die ontwikkeling van die internasionalisering van PhD-studie in Suid-Afrika (YEBO!) (https://yebo.cut.ac.za/)
  • 'n Wêreldwye universiteitsnetwerk vir landbouwetenskappe en wyn- en wingerdbou: Internasionalisering deur gesamentlike programme (VitaGlobal) (https://www.vitaglobalproject.org/)
  • Bakeng se Afrika (https://www.up.ac.za/bakeng-se-afrika)

'n Verdere twee projekte waarby die US betrokke is, is onlangs vir medefinansiering goedgekeur. Albei projekte handel oor klimaatsverandering, ofskoon uit verskillende oogpunte.

CBHE-projekte wissel in klem en implementering. Inisiatiewe handel oor enigiets van kurrikulumontwikkeling tot die modernisering van die bestuur, oorsigbestuur en funksionering van hoëronderwysinstellings, en die versterking van verhoudings tussen hoëronderwysinstellings en die groter ekonomiese en maatskaplike omgewing. Projekaktiwiteite is ewe uiteenlopend en kan individuele mobiliteit vir personeel en studente, werksessies, opleiding, konferensies of aanlyn geleenthede insluit.

Nóg 'n kernelement van CBHE-projekte is dat dit finansiering insluit vir die toerusting wat vereis word om projekte te implementeer. Dít het oor die jare aansienlik tot die US se harde- en sagteware bygedra. Voorbeelde sluit in die installering van dataprojektors en dokumentkameras  by die Paul van der Bijl-gebou op ons Welgevallen-proefplaas, en 'n sterk genoeg persoonlike rekenaar om die digitalisering van die skeletverwysingsdatabasis van die Afdeling Kliniese Anatomie in die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe te ondersteun.

Projekimplementering word gewoonlik deur die betrokke akademiese of professionele administratiewe steundiensteomgewing gekoördineer, terwyl US Internasionaal die nodige steun bied.

Om meer uit te vind oor van die projekte waarby die US betrokke was, raadpleeg gerus die webtuistes hierbo. Vir verdere inligting oor hoe om aan die volgende Erasmus+-fase deel te neem of met die US aan toekomstige Erasmus+-aansoeke saam te werk, kontak Alecia Erasmus by aleciaerasmus@sun.ac.za.



SIDE BAR

Wat steek in die naam?

Die Erasmus-program heet na die Nederlandse filosoof, teoloog en humanis Desiderius Erasmus van Rotterdam (1465–1536). Erasmus het gedurende die Renaissance een van die hooffigure van die Europese intellektuele lewe geword. Hy het wyd vir sy werk en studie gereis, onder meer na Parys, Leuven en Cambridge, wat destyds as die wêreld se groot leersentrums beskou is. Hy het sy fortuin aan die Universiteit van Basel bemaak en sodoende 'n pionier geword van die mobiliteitstoekennings wat deesdae sy naam dra. Daarbenewens is “Erasmus" 'n agterna-akroniem (“backronym") vir “EuRopean Community Action Scheme for the Mobility of University Students". Die oorspronklike program is in 1987 as 'n uitruilinisiatief geskep, en is in Januarie 2014 met Erasmus+ vervang, wat alle EU-skemas vir onderwys, opleiding, die jeug en sport saamvoeg.


 ​