Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US Diploma in Volhoubare Ontwikkeling vir die eerste keer toegeken
Outeur: Daniel Bugan
Gepubliseer: 26/04/2021

​Die Diploma in Volhoubare Ontwikkeling – wat in 2018 deur die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe bekendgestel is – het onlangs die eerste 17 graduandi gelewer.

Die drie jaar lange program in Volhoubare Ontwikkeling word deur die Skool vir Publieke Leierskap op die Lynedoch-kampus van die Volhoubaarheidsinstituut aangebied. Dit is daarop gemik om studente in die beginsels van volhoubaarheid en entrepreneurskap op te lei met die oog op toekomstige sosiale impak en ekologiese restourasie.

Die program leer studente teorie en verskaf praktiese ervaring op die gebied van volhoubare tegnologie, kompleksiteit en ekologie, sosiale entrepreneurskap, leierskapsontwikkeling, sosiale aktivering, kleinsakebestuursvaardighede, kreatiwiteit en storievertelling.

Dr Ruenda Loots, dosent en programkoördineerder, het dit soos volg verduidelik: “Hoewel entrepreneurskap 'n belangrike deel van hierdie program uitmaak, is dit nie suiwer besigheidsgeoriënteerd nie. Dis eerder 'n program wat op waardes gebaseer is. Die wêreld vereis dat ons die manier waarop ons dinge doen, verander. Die diploma is daarop ingestel om sake op 'n ander manier te doen en om studente te laat verstaan dat die welstand van gemeenskappe en die omgewing interafhanklik is."

“'n Universiteitskwalifikasie waarborg nie meer indiensneming nie, en die hoë werkloosheidsyfer onder die jeug in Suid-Afrika is regtig kommerwekkend. Ons fokus dus op die ontwikkeling van entrepreneursdenke. Hierdie program stel studente in staat om vaardighede en idees te ontwikkel om hul eie sosiale onderneming te begin sodat hulle werk vir hulself en ander kan skep."

Die program vereis ook dat studente 'n internskap gedurende hul derde jaar voltooi.

“Ons wil seker maak dat ons studente werkservaring het wanneer hulle gradueer en dat hulle gereed is vir indiensneming. Ons wil boonop hê hulle moet intrapreneurs wees – hulle moet ook verandering teweegbring en innoverend binne 'n organisasie wees," sê Loots.

​Unieke program

Sy het bygevoeg dat die wyse waarop teorie, inhoud en praktiese ervaring gekombineer word, die program uniek maak.

“In die mentorskap- en fasiliteringsmodule kry ons derdejaarstudente byvoorbeeld praktiese ervaring deur sessies vir hul eweknieë te fasiliteer en junior studente te mentor. In die module oor volhoubare ontwerptegnologie, waar ons leer oor bionabootsing en permakultuur, spandeer ons tyd in die permakultuurtuin in die Lynedoch-ekodorpie. Ons bespreek dus nie net die beginsels van permakultuur nie; ons leer deur tyd in die natuur deur te bring."

Die akademiese personeel is ongelooflik trots op hul eerste groep graduandi.

​“Hulle het die afgelope drie jaar soveel vasberadenheid getoon en was dapper om vir 'n nuwe program in te skryf. Hulle het soveel van hulself gegee en aktief deelgeneem aan die vorming van dié program. Hulle laat 'n pragtige nalatenskap vir studente wat in hul voetspore volg," het Loots gesê.

Graduandi

Hannah Hopper werk tans vir die maatskappy waar sy haar internskap tydens haar studies gedoen het. Sy is verantwoordelik vir twee vrywillige ekoklubs vir kinders en tieners. Sy gaan Suid-Afrika ook by die G20-jeugberaad verteenwoordig wat later vanjaar in Italië plaasvind. Sy sal die onderwerp “Volhoubaarheid, Klimaatsverandering en die Omgewing" bespreek.

“Dié diploma het my die teoretiese kennis gegee, asook die praktiese vaardighede om in die openbaar te praat en die innerlike selfvertroue om dinge soos dié aan te pak," het sy gesê.

Carrie Noble, wat as 'n intern by die Volhoubaarheidsinstituut werk, het gesê die praktiese ervaring wat sy tydens haar studies opgedoen het, het haar goed voorberei vir die eise van haar huidige posisie.

“Ons het baie groepwerk gedoen en dit het my gehelp om met verskillende mense te kan werk en moeilike situasies met kollegas by die werkplek te kan hanteer. Daar was ook 'n groot fokus op aanbiedings en daardie ervaring het my die selfvertroue gegee om aanbiedings by die werk te doen. Ek is ook beter toegerus om terugvoering te hanteer, hetsy negatief of positief. Ek beskou dit as 'n leerervaring en 'n geleentheid om te verbeter in plaas daarvan om aanstoot te neem."

​Khensani Nkatingi het gesê die kursus het haar belangstelling gewek weens die entrepreneuriese aard daarvan en die manier van onderrig.“Die manier van leer oortref die grense van tradisionele leer. Die kursus het beslis my denkwyse beïnvloed en my bewus gemaak van die geleenthede daar buite."

Sy studeer tans deeltyds vir 'n nagraadse diploma in volhoubare ontwikkeling aan die Universiteit Stellenbosch.

  • ​​Op die foto is die graduandi van 2020 gedurende 'n veldwerkbesoek aan die Helderberg Natuurreservaat naby Somerset-Wes. Die uitstappie was deel van die module Ekogeletterdheid in die 21ste eeu.