Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
MGD bevorder student-gedrewe betrokke burgerskap
Outeur: Renee Hector-Kannemeyer and Sandra Mulder
Gepubliseer: 29/04/2021

​"Die Universiteit Stellenbosch Visie 2040 stel duidelik die universiteit se doelwit om een van Afrika se leidende navorsing-universiteite te word en om wêreldwyd erken te word as 'n uitstekende, inklusiewe en innoverende instelling waar kennis bevorder word in diens van die samelewing. As sodanig is die Universiteit Stellenbosch toegewy tot die voorbereiding, opleiding en toerus van studente om wêreldburgers te word."

Dit is die mening van me Renee Hector-Kannemeyer, Hoof van Matie Gemeenskapsdiens (MGD) en Vise-Direkteur van die Afdeling vir Sosiale Impak, toe sy die student-gedrewe betrokke burgerskap-aktiwiteite bespreek het waarop MGD gefokus het in die eerste kwartaal van die akademiese jaar.

Volgens Hector-Kannemeyer word studente gekonfronteer deur toenemende komplekse kwessies soos voedselsekuriteit, energie-sekuriteit, globale ekonomiese uitdagings, die opkoms van Kunsmatige Intelligensie (AI), die vierde Industriële Revolusie en nou 'n wêreldwye pandemie.

“Hierdie snel veranderende landskap vereis van universiteite om ratser te reageer op hierdie uitdagings terwyl studente voorberei word om 'n positiewe impak te maak op die samelewing," sê Hector-Kannemeyer.

In Maart het MGD aan studente aan die Universiteit Stellenbosch (US) 'n waardevolle portuur-leergeleentheid aangebied deur 'n student-gefokusde aanlyn Sosiale Impak Colloquium wat hulle toegelaat het om interaksie te hê met studente en personeel aan ander universiteite op die Afrika-kontinent en oorsee. Die colloquium, wat gefokus het op Sosiale Impak oor die Wêreld: Die rol van die universiteit om student-gedrewe sosiale impak te bevorder, het MGD se in-persoon Sosiale Impak Gemeenskapoggend vervang.

Die colloquium het aan studente die geleentheid gebied om hul kennis te verbreed oor hoe om agente van verandering te word om 'n positiewe impak te hê op die samelewing, te bespreek wat dit beteken om 'n sosiaal-responsiewe instelling te wees, en hoe dit studente-vrywilligers en die sosiale impak inisiatiewe wat studente aanpak, raak.

“Dit verskaf aan ons 'n geleentheid om ons begrip te verdiep van die rol wat sosiaal-responsiewe universiteite binne 'n globale konteks speel en om te bespreek wat dit vir die Universiteit Stellenbosch beteken, gebaseer op sy Visie 2040 en sy Strategiese Raamwerk 2019-2024, en vir ander universiteite wat deelgeneem het."

Paneellede van US, Ngee Ann Polytechnic in Singapore, Rhodes Universiteit, die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) en die Universiteit van Zimbabwe het deelgeneem aan die geleentheid waar hulle ook mini-dokumentêre video's gedeel het wat gedien het as uitstal-geleentheid vir hul student-gedrewe sosiale impak inisiatiewe. Twee van die universiteite wat deelgeneem het, het in 2020 toekennings van die internasionale Talloires Netwerk van Betrokke Universiteite ontvang. Lees die volle verhaal hier.

Tydens die colloquium kon studente, onder meer, effektiewe metodologieë leer oor hoe om lewensvatbare en relevante sosiale impak-projekte aan te pak deur ontwerpdenke, met 'n intydse oefening verskaf deur me Lana Franks, Leier van die Student Entrepreneurskap- en Innovasieprogram by die Sentrum vir Entrepreneurskap en Innovasie aan UWK. Franks was een van die paneellede op die dag.

Ontwerpdenke hou verband met kreatiewe probleemoplossing deur 'n iteratiewe en mense-gesentreerde innovasie-siklus. Dit behels empatie met kliënte of eindgebruikers om 'n diepgaande begrip van die probleem te ontwikkel, aan hulle vrae te vra om duidelikheid te verkry, en hulle te betrek by die vind van kreatiewe oplossings vir hul probleme.

In haar kommentaar op die bespreking van ontwerpdenke het prof  Ronelle Carolissen, Voorsitter van die MGD-raad en Professor van Gemeenskapsielkunde in die Departement Opvoedkundige Sielkunde aan die US, die belangrike lesse genoem wat studente kan leer uit die konsep van ontwerpdenke, soos luister, konsulteer, en saamwerk met mense in die ontwerp van volhoubare en oplossing-gedrewe sosiale impak-projekte.

“Om universiteit toe te kom is nie net oor die verkryging van kurrikulêre kennis nie, universiteitslewe verskaf ook ideale geleentheid vir ko-kurrikulêre leer wat wedersyds voordelig is vir studente en gemeenskappe. Studente kan hierdie platform gebruik om waardegebaseerde benaderings tot gemeenskapsbetrokkenheid te versterk, wat tot voordeel van die gemeenskap is," sê prof Carolissen.

MGD het ook onlangs 'n kortkursus geloods, die eerste van sy soort, oor Gevorderde Betrokke Burgerskap (oftewel Advancing Engaged Citizenship, AEC in Engels). Die kursus se doelwit is om US studente in verbinding te stel met 'n verskeidenheid nasionale vrywilliger-geleenthede om kennis en vaardighede te verkry om betrokke burgers te word terwyl hulle studeer en wanneer hulle begin werk.

Die AEC-kursus van vier maande het op 6 April 2021 afgeskop met 108 studente in Maatskaplike Werk, 34 studenteleiers gefokus op sosiale impak in koshuise en private studente-organisasies aan die US, asook 16 lede van die gemeenskap wat by die kursus aangesluit het via die Stellenbosch-gebaseerde e'Bosch Erfenisprojek.

Die kursus fokus op die volgende modules: Toegang tot en Analisering van Inligting; Nuuskierigheid en Verbeelding; Ratsheid en Aanpasbaarheid, Samewerking oor Netwerke en Leiding deur Invloed; Effektiewe Mondelinge en Geskrewe Kommunikasie; Inisiatief en Entrepreneurskap; Kritiese Denke en Probleemoplossing. Dit word aangebied deur die Opleiding- en Plasingsentrum binne MGD.

“Die doel van die sentrum is om studente in staat te stel om ondervinding op te doen van burgerlike betrokkenheid op nasionale vlak ten einde leidende denkers te produseer wat 'n betekenisvolle bydrae maak tot werklike wêreld-uitdagings."

“Oor die afgelope jaar was MGD op 'n reis van homself herdroom, herverbeel en herposisioneer. Ons was op 'n missie om te verstaan hoe ons die vrywillige werk wat studente doen kan formaliseer en hoe ons onsself kan posisioneer as 'n moderne NRO wat vooruit dink en toekomsdenke toepas."

Die modules word ook erken deur US se Ko-kurrikulêre Kantoor en sal deel vorm van sosiale impak-studenteleiers se akademiese transkripsie.

“Ons nuwe kursus laat ons toe om relevant te bly tot die kritieke kwessies en uitdagings wat die Suid-Afrikaanse samelewing en gemeenskappe, en die wêreld in die gesig staar. Deur ons werk wil ons studente inspireer om bewuste akteurs in die wêreld te wees. Dit gaan oor die loodsing van 'n nuwe denkbeweging aangedryf deur nuwe wyses om te reageer op waar ons as 'n nasie staan en as vasteland en om ons verbeelding te laat vlam vat oor wat Suid-Afrika kan wees," verduidelik sy.

MGS het ook 'n Virtuele Vrywilliger-kursus geloods danksy sy vennootskap met ForGood – 'n nasionale virtuele vrywilliger-portaal wat individue verbind met kwessies en veldtogte reg oor Suid-Afrika. Die ForGood gemeenskap bestaan tans uit meer as 54 000 geregistreerde vrywilligers wat 'n bydrae gemaak het deur meer as 35 000 sosiale impak-verbindings.

Die vrywilliger-kursus is gerig op Maatskaplike Werk studente in hul tweede jaar om aan hulle die geleentheid te bied om praktyk-gebaseerde ondervinding van vrywillige werk op te doen en terselfdertyd hul kennis toe te pas, terwyl hulle aktief met 'n verskeidenheid gemeenskappe aanlyn skakel.

Studente sal 50 uur se vrywillige werk voltooi, waarna hulle 'n sertifikaat van die US ontvang ter erkenning van die kort-kursus wat hulle voltooi het.

“Met inisiatiewe soos hierdie wil MGD verseker dat ons reageer op die uitdagings van die werklike lewe en aktiewe burgerskap aanmoedig, dat ons virtuele vrywilliger-geleenthede moontlik maak vir ons gegradueerdes om ondervinding op te doen in hul velde, sowel as om ons studente in staat te stel om voorpunt akademiese kennis op te doen met 'n verskeidenheid nasionale organisasies," sê Hector-Kannemeyer.

Dr Leslie van Rooi, Senior Direkteur: Sosiale Impak en Transformasie, voeg by: “MGD het oor dekades die US gemeenskap gelei om ons rol in gevorderde aktiewe burgerskap beter te verstaan deur, onder andere, vrywilliger-geleenthede. Dit is gedoen binne 'n raamwerk van diep, wederkerige betrokkenheid wat sosiale impak moontlik maak. Deur die aanlyn-colloquium en die virtuele kursus lei MGD weer die universiteitgemeenskap in die herdefiniëring van ons rol as 'n betrokke universiteit in voortdurend veranderende tye."

Vir meer inligting oor die AEC kursus, besoek https://shortcourses.sun.ac.za/courses/c-5/2021-5557.html. Jy kan ook engagedcitizenship@sun.ac.za kontak of Michelle Pietersen by mpieters@sun.ac.za. Om 'n opname van die colloquium te sien, besoek asseblief https://vimeo.com/520906408/6e197047d6.​